|
|
|
Die Ware Naam van ons Hemelse Vader
DOGS OF CHRISTIANITY Contamination of African Blood Liberal Afrikaner begins with Manipulation What was written in the Bible originally?
|
“Ons kan die rieme maar eers so los … gaan maak julle skoon voor die Ludick’s hier aankom.” Kerneels vryf die ergste dierehare van sy hande af en kies dan koers na die huis. Hannie kyk haar man en seuns agterdogtig aan toe hulle nader kom om aan te sluit onder die koelteboom. “Het julle hande gewas?” Sy wag nie vir ‘n antwoord nie en gaan voort; “… dit is jammer dat Tinus en sy mense nog nie hier is nie, … maar nou is ons dors.” Tussen Hannie en Maggie het ‘n goeie vriendskapsband ontstaan. Die Skotte het gehelp asof hulle die trek gaan meemaak. Kerneels het nog nie eens sy beskuit vir ‘n tweede maal gedoop nie of hulle hoor die Ludick’s aankom. Voordat Hannie nog iets kon sê, spring die flukse Ragel op om nog koffie en beskuit te gaan haal – of kan daar ‘n ander rede wees waarom sy so haastig is … ? Sommiges is baie bly om mekaar te sien, soos ouboet Neels en een van Tinus se dogters, Ronel. Apie en Thysie skud ook blad soos wafferse groot menere. “Groet jy nie?” vra Alet vermakerig. “… en ja, geluk met jou verjaarsdag!” sy soen Apie nog voor hy kon keer. Gelukkig het Hannie dit nie gesien nie. Die grootmense gesels te lekker. Apie bloos en kyk ongemaklik na Essie. Alet gee Essie ‘n vuil kyk. “Is dít jou verskoning om my nie na behore te groet nie?” vra sy Apie terwyl sy met haar kop in Essie se rigting beduie. “Neee … dit is niks …”. stamel hy. “Apie het vir haar ses kuikens gegee …” klik klein Lientjie by Alet terwyl die yster rooi is. Alet stap na Essie en stoot haar buite hoorafstand. “Luister hier jou klein Engelse kerriekop, ek klap jou oortjies warm. Apie en ek is gekys, … en as jy wil weet wat goed is vir jou, bly weg!” sis Alet deur haar tande. “Indien jy my wil beledig, gaan gerus voort, maar moet my net nie ‘n ‘Engelsman’ noem nie. Ek is ‘n Skot. Terloops, waarom is jy bekommerd, julle trek tog saam en ons bly agter …” Essie is komkommerkoel. “Ek dog ek sê jou maar betyds voordat jy dalk idees kry, ‘Skottie’ …” Essie ruk haar arm los; “Jy kan dalk nou met hom gekys wees, maar eendag sal hy tot sy sinne kom … dan word hy ‘n ander vrou s’n.” Nou is Essie ewe parmantig al is sy twee jaar jonger as Alet. “Indien hy eendag met ‘n ander vrou trou, is daar darem dié troos, … dit sal nie JY wees nie!” Alet se oë spuug bliksems. “Wel, as dit jy is met wie hy eendag trou, beter Apie nou reeds van jou slagtande ontslae raak …” “Het ek my naam gehoor?” Apie en Thysie staan betyds nader. “Dis net hierdie klein mêdim wat ‘n oorkonkel soek!” sê Alet en stap in die rigting van Apie se gunsteling boom. Al die kinders volg, behalwe Essie. Sy stap ongesiens in die rigting van die kraal waar sy stelling agter die klipmuur inneem. ‘n Traan rol oor haar wange. Waarom wil sy huil? Is dit van woede, is dit van teleurstelling, of dalk jaloesie … en daardie ewige beledigings – Kerriekop, Engelsman – verbeel jou. Sy haat die Engelse nou nog meer. Sy is trots om 'n Skot te wees. Haar pa het al baie staaltjies vertel van hoe die Skotte deur die Engelse geonderkruip is. “’n Engelsman is haatlik …” dink sy hardop. “Wat het ons hier …?” So byna trap Neels en Ronel op haar. Hulle wou ook ‘n bietjie privaatheid opsoek, maar sou nooit kon dink dat dié plekkie agter die kraalmuur reeds beset sou wees nie. Essie antwoord nie. Neels buk af en tel die meisie se ken op. Hy en Ronel sien die nat wange. Neels trek haar regop, neem haar kop in sy hande en fluister in haar oor; “Onthou een ding vir die res van jou lewe: Aanval is die beste manier van verdediging!” dan staan hy terug en hy neem Ronel weer in sy arms. Essie vee die trane af en stap stadig in die rigting van die ander kinders. Alet se luidrugtige gelag kan van ver gehoor word. Hulle baljaar so dat hulle haar nie sien nie. Sy gaan sit op die tak wat so laag hang en kyk hoe hulle aljander speel. Na ‘n rukkie breek Apie uit die groepie weg en draf oor na Essie. “Kom, Essie, kom speel saam!” “Los my, jou meisie is mos hier,” sê sy saggies terwyl sy haar vingers vleg. Apie se glimlag verdwyn, hy neem haar hand in syne en sê dan baie ernstig; “Ek vra mooi … baie mooi … onthou, dis ons laaste geleentheid saam.” Sy glimlag droogweg en gly van die tak af. “Dis beter … “ sê Apie en hulle sluit by die res aan. Die middag word daar vleis gebraai. Die mans ruil gedagtes uit en Skottie raak so opgewerk oor die gedagte dat dit klink of hy wil saamgaan. Nadat Kerneels gedank het, neem Essie haar kos en stap boom toe om op die lae tak te gaan sit. Die ander eet sommer daar by die peperboom. Apie en Thysie gesels oor messe, gewere, strikke en allerhande maniere om wild te jag. Thysie besluit om nog ‘n stukkie vleis te gaan haal, want, soos hy dit stel met sy ‘brei-taal’; “… hy groei nog …”. Dit is dan wanneer Apie bewus word van Essie daar eenkant by die boom. Hy neem sy kos en stap in haar rigting. Eers toe hy by haar kom, merk hy die ogies is maar nat. “En dié lang gesig, nig Essie?” Hy kry egter geen antwoord op die ongevoelige vraag nie. Hy leuen teen die tak en kou verder aan die ribbetjie. “Wat pla, ou Es?” dié simpatieke gebaar van Apie laat die sluise nou eers oop en die trane vloei. “Ek wens ons kon saamgaan …” kom dit snik-snik uit. “Hoekom? … jou pa is dan ‘n kolonel … vir julle is alles punt-in-die-wind hier in die Kolonie.” “Ons het ook al baie rondgetrek en julle … jy … is die beste maatjie wat ek nog gehad het. En … “ haar skouers ruk wanneer sy snik. “En wat?” Vir die eerste keer vandat hy daar kom staan het, kyk sy hom stip in die oë. “Is jy regtig so stupid?” Apie frons; “Ek verstaan nie …” “Dan IS jy stupid. … ek gaan jou … e … júlle mis.” Hulle sê niks verder nie, want Alet kom nader gestap. “Wat grêns jy so baie, ou skreeubalie?” Alet vryf die braaivleisvet wat aan haar hande was aan Essie se kerriegeel hare af. Essie spring van die tak af en met een beweging gee sy vir Alet ‘n skuins klap terwyl sy al haar frustrasie daarin sit. Apie wil nog keer, maar die borde trek in alle rigtings toe die twee meisies mekaar gryp. Voor jy kan sê mes, is al die grootmense by. Daar word nie eers gevra wie eerste begin het nie. Tinus trek sy dogtertjie oor sy skoot en klop haar sitvlak vuurwarm terwyl Alex dieselfde met Essie doen. “Skud nou eers blad en vra mekaar om verskoning!” sê Tinus kwaai. “Ja toe!” voeg Alex by. “Essie vat Alet se hand. “Jammer, … maar ons sal nog sien …” “Jammer, … ons sál sien …” kry Alet dit dunlip uit. “Essie is nie die skoorsoekerige tipe van kind nie …” laat val Hannie droogweg. Maggie wil dit nog beaam, maar Ella tree weer in die bres vir háár dogtertjie; “Wil jy daarmee sê dat Alet skoorsoekerig is?” “Ella, ek sê maar net … maar moet nou nie dat ek en jy aan mekaar spring oor kindergesang nie …” Hannie wag nie vir kommentaar nie, sy staan op en begin met die opruiming. |
|
Stuur E-Mail aan Dirk
van Vuuren met vrae en kommentaar oor die webblad
|