"Deksels!" skree Hesta gefrustreerd en slaan die tikmasjien so hard dat sy die veertjies binne-in kan hoor sing.
Hoekom, wonder sy, kan die Jood vir wie sy baas sê nie net 'n rekenaar koop nie? Maar sy weet dat die tikmasjien nie rêrig die bron van frustrasie is nie. Ook nie Symmington, haar werkgewer nie.
Hesta se lewe is in haar 28ste jaar nie die naam lewe werd nie. Tien jaar gelede was sy 'n blinkoog tiener oppad na grootmens wêreld toe, met drome, toekomsvisie en hoop. Vandag is sy 'n algemene klerk vir 'n geldskieter.
Haar frustrasie neem toe as sy terugdink aan haar tienerjare. Planne om ryk te word, planne om te trou, kinders te hê. En nou sit sy in sak en as en slaan die tikmasjien.
Wat skeef geloop het weet Hesta sowaar nie. Haar punte was goed, maar geld was skaars en sy sou werk totdat sy genoeg gehad het om te gaan verder leer. Erens tussen matriek en mondigwording het die droom vervaag en die drang om te oorleef sterker deurgeslaan.
Sy kyk op haar horlosie met die eenvoudige plastiekbandjie en sien dis etenstyd. Etenstyd is droomtyd. Meer as droomtyd, feëtjietyd. Dis wanneer sy haar verbeel die drome wat sy werkstyd sit en uitdink het, word waar.
Maar vandag is daar nie drome nie. Geen Hesta-die-ryk-sakevrou wat in die luukse restaurant duur wyn en slegte vis bestel nie. Nee, net oujongnooi Hesta wat haar toebroodjies alleen in die park sal eet, want gister het die bank haar kredietkaart gestop. Sê sy het glo "ongelukkig" nie meer "kredietwaardigheid" nie. Dat sy steeds 'n "gewaardeerde" kliënt bly en altyd welkom is.
Snaaks, dink sy terwyl sy park toe stap, dat sy as hoofmeisie op hoërskool geglo het dat sy vir haarself kan deure oopmaak. Daar was 'n tyd wat sy gedink het dat sy een sal bréék in die muur waar nie een is om oop te maak nie. Daar was niks wat haar kon stuit nie. Behalwe...
Sy knaag langtand aan die tamatietoebroodjie en raak nie dadelik bewus van die geluid agter haar nie.
"Is jy doof, hê?" wil 'n bekende vrouestem skielik agter haar weet. Sy kan die stem nie plaas nie. Klink bekend, maar tog is sy nie seker sy het dit al gehoor nie.
Sy kyk om en sien 'n vrou met 'n bont blommetjiesrok agter haar in die lug hang. Wel, nie rêrig hang nie, dis net dat Hesta weier om te glo dat daardie goed wat die geraas maak, vlerke is, en dat hierdie voorbarige vrou vlieg.
"Normaalweg hoor die verlore siele die geshwiesh van my vlerke en kyk hulle om. Maar partykeer moet ek die verdwaaldes tussen die verlores roep. Ag siéstog, jy lyk so verward."
"Wel verskoon my as ek verward lyk, maar wat maak jy met vlerke wat
raas?" Die absurditeit van die vraag val Hesta nie op in haar verwarring
nie, en sy merk ook nie dat die vrou intussen 'n massiewe koffer uit haar
roksak gehaal het nie. Dis eers toe die vrou dit voor haar neerplak
dat sy skielik weer tot haarself kom.
"Wie is jy?" wil sy streng weet.
"Wat maak dit saak? Al wat belangrik is, is dat ons agterkom wie jy is, Hesta van Biljon. Maar, om sake te vereenvoudig: Ek is Gludita, Senior Beradingsfeë. Jammer dat ek nou eers kom, maar in die nuwe Suid-Afrika moet mens eers registreer as welsyn-organisasie voor jy kan geld vra by die staat. En glo my, dis nie maklik om 'n federasie van feëtjies verby 'n amptenaar, wat sy pos verdien het deur regstellende aksie, te kry nie. Nie dat die ou vrou wat altyd daar gewerk het veel beter was nie. In elk geval ek's nou hier so jy moet gou maak, daar's nog dertien ander vaal meisies soos jy wat vandag moet lewens kry."
"Askies," sê Hesta sarkasties, "ek sal môre net so blommetjiesrok soos jy aantrek, dan hoef jy nie die moeite te doen om my te red nie."
"Ja, hou jouself maar slim, maar ek sien nie juis hoe 'n elegante bloeiselrok jou gaan laat blink nie. Maar dis hoekom ek die klomp koppe saamgebring het." En sy knip die koffer oop.
Hesta, dom van verbasing, loer nuuskierig na binne. Sy skrik haarself byna naar, want binne-in sien sy agt Hesta's terug staar. Hesta-koppe, in elk geval.
Gludita gryp die eerste een en trek hom oor Hesta se kop. "Dis Hesta-die-sakevrou," sê sy en maak 'n aantekening in 'n notaboek.
En skielik gebeur 'n wonderlike ding. Hesta sit in 'n restaurant vol belangrike mense en almal kyk na haar. Sy spreek hulle toe oor die toekoms van die vrou in die werkplek. Hulle luister oopmond na haar. Sy betower hulle met haar intelligensie en styl. Sy beding 'n staanplek vir al haar kollegas wêreldwyd, wat vir geldskieters tik. Sy is Mej. Tik!
"Oukei, dis genoeg," sê Gludita en haal die kop weer af. "daar's nege koppe hier binne. Almal lyk soos jy, maar net die négende ene is rêrig jy. Almal skep die illusie van sukses en geluk, maar nét die negende ene is waarlik 'n wenner. Jy mag die eerste agt net 'n kort rukkie dra, maar die negende een is joune vir altyd. Dis my geskenk aan jou, Hesta. Die negende kop."
Sy oorhandig die koffer aan Hesta. "Ek sal dit weer kom haal wanneer jy kan sien. Die eerste kop het jy nou al klaar gebruik, so moenie dit eers weer probeer nie. Die eerste agt is net om vir jou te wys hoe gelukkig jy is om 'n negende kop te hê, Hesta. Meeste het net een van die eerste agt." En toe verdwyn sy.
By die werk kan sy kwalik haar opgewondenheid verberg. Die kliënte kyk haar skeef aan wanneer sy hulle so vrolik groet. Die een ou dame gluur haar boos aan toe sy sê: "Moenie so hartseer lyk nie, Mevrou, ek is seker Gludita sal kleur in jou vaal lewe bring."
Sy't die koffer met die goue letters: "Hesta se nege koppe, Klas C-1" onder haar lessenaar in gestoot. Sy vat vroeg af die middag en klim voor vyf by die busstop voor haar woonstel af. Sy haas haar tot op die vyfde vloer, waar sy woon en gaan reguit na die TV-kamer.
Sy groet skaars vir Snuffels, die hamster, en maak die koffer met bewende hande oop.
Sy trek die tweede kop aan en byna dadelik is sy Hesta-die-wonderlike-gasvrou. Sy onthaal haar dosyne vriende en almal bedank haar vir die pragtige aand.
Daardie aand was Hesta op baie plekke as baie persone. Van almal was Hesta-die-grootwild-jagter haar gunsteling. Met die opsit van elke nuwe kop het sy elke keer 'n hele nuwe wêreld binne gegaan: sy't kinders gehad, 'n groot huis, baie vriende en 'n lyfie soos dié van 'n model. Al agt koppe het agt wêrelde voorgestel. En Hesta was gelukkig.
Teen 9:00 daardie aand bêre Hesta die agtste kop versigtig terug in die koffer. Toe eers, vir die eerste keer, val dit haar op dat daar nét agt koppe in die koffer is. En 'n klein handspieëltjie.
Diep ontstem het sy na Gludita geroep. Sy kon nie verstaan hoekom die feëtjie haar so ongelukkig wou maak deur om die lekker van die lewe so naby te bring en dit dan net weer weg te vat nie. Hoekom het sy haar 'n negende kop van ware geluk belowe, maar net agt ingepak? Die feë is toe al die tyd 'n heks!
Sy onthou dat Gludita gesê het sy kom weer wanneer sy kan sien en wonder wat die vet heks daarmee bedoel het. Want sy sien. Sy sien nou dat sy wérklik nie 'n lewe het nie. Dat sy 'n nikswerd tikster is wat suurstof steel van die goeie mense.
Bedroef tel sy die spieël uit die koffer op en staar na haarself.
En skielik gebeur die grootste wonderwerk van die aand. Die hartseer trane wat teen Hesta se wange afrol word skielik trane van blydskap. Want, daar van binne die spieël, kyk die negende kop vir haar. Hesta se kop. Al die Hesta's in die koffer en al die Hesta's in haar drome, staar tegelyk na haar. En hul oë skitter, want sy wéét dat sy is wie sy wil wees. Hesta.
Skielik is Gludita terug by haar. "Is dit nie wonderlik nie?" wil sy by Hesta weet. "Hier sit jy al 10 jaar van jou lewe en mors terwyl jy dink en droom oor wie jy moes gewees het, plaas van dat jy dit is. Gee my daai drome, jy't hulle nie meer nodig nie. Al wat jy nou moet onthou is dat jou drome nie oor iemand anders gaan nie, maar dat jy hulle droom, vir jou, om werklikheid te word."
En so het Hesta van Hesta-die-oujongnooi-tikster, na Hesta - die - ek
- is - wie - ek - wil - wees - PERSOON toe verander. Want niemand
kon die negende kop ooit by haar wegvat nie. Geluk, het die nuwe
Hesta besef, is om jouself te wees, maak nie saak wat nie.
