
Sweet pêrel op sy voorkop terwyl hy flink oor die pad hardloop. Aan die anderkant gekom, vee hy die nattigheid met die agterkant van sy voorarm weg. Sy donker hare wip-wip met elke voete val en versteur die gewone netheid daarvan.
Die nuwe hardloopskoene plof saggies op die sypaadjie. Hy voel soos 'n goed ge-oliede masjien.Sy gedagtes is net sekondes, minute, tree, meters, kilometers, meters per sekond, kilometers per minuut, hartklop per minuut per kilometer wat afgelê word en dit wat nog afgelê moet word.
Hy is heeltemal gefokus op die taak wat hy verrig. Gefokus op wat die oefening vir hom inhou. Die prys wat vir hom wag aan die einde van die dag. So gefokus dat hy die rooi Jetta wat hom die afgelope drie kilometer in nege-en-'n-half minute volg, nie raak sien nie.
Die eerste wat hy daarvan bewus word, is toe die vervlakste rooi motor skielik (vanuit nêrens) voor hom insny en sommer net daar stop - skreeuende bande en al! "Kan jy dan nie kyk waar jy ry nie?!" skel hy sommer uit die staanspoor. Sy ritme is nou heeltemal omver gegooi. "Julle ouens in julle fancy karre dink mos die pad behoort net aan julle. Julle't g'n respek vir die ander padgebruikers nie!" Hy kom ook nie verder met sy beledigings/waarhede nie want die bestuurder van die Jetta is al uit en hy lig 'n bofbal kolf omhoog (waar het dit so gou vandaan gekom?) en bring dit met 'n verwoede snelheid op hom neer. Die slag laat hom steier en Johannes sak inmekaar. Hy is net vaagweg bewus van die eggo van die houtagtige klank in sy swellende kop. *** *** ***
Sy kop pyn asof 'n bom daarin ontplof het. Hy probeer beweeg, maar toue klem sy gewrigte en enkels styf teen 'n stoel vas en vreet honger in sy vel in. 'n Verblindende lig skyn in sy oë en hy kan niks daaragter uitmaak nie. Voor hom, op die vloer, is 'n rooi kannetjie wat sorgeloos neergegooi lê. Van die bedwelmende reuk wat om hom hang kan hy aflei dat dit 'n brandstofkannetjie is. Waar is die man dan nou? wonder hy en knip vir 'n vlugtige oomblik sy oë - net om seker te maak dat hy nie nou in 'n droomwêreld is nie.
Die pyn wat in sy kop bly klop, bevestig egter die situasie waarin hy homself bevind. Dan eers besef Johannes dat hy nat is. Sy hele lyf is deurweek met die brandstof wat in die kannetjie was. Die reuk daarvan wil hom naar maak en brand in sy oë. Hy knyp sy oë styf toe en maak hulle weer oop. Die lig skyn nog. Van agter die verblindende wit lig kom die man aangestap. 'n Brandende sigaretaansteker vul sy hand. "Hoekom dóén jy dit dan aan my?" wil hy vra, maar sy mond is styf toegeplak met pleister. Die man glimlag net vir hom en laat die sigaret-aansteker stadig daal... *** *** ***
Die man volg die drawwer versigtig dat hy hom nie moet gewaar nie. Sy gedagtes is net sekondes, minute, tree, meters, meters per sekond, kilometers per minuut, hartklop per minuut per kilometer wat afgelê word en wat nog afgelê móét word en bewaar die een se siel wat dit beter as hy waag doen.
Hy is gefokus in sy taak. Heeltemal gefokus op die drawwer wat 'n paar meter voor die rooi enjinkap draf. Gefokus op die bedreiging wat hy vir hom inhou. Hy het hom al gereeld sien draf. Die man het werklik waar verbeter. Hy is nie meer so stadig nie. Nie meer so moeg as hy klaar gedraf het nie. Hy het ook al intussen vir hom 'n hartmonitor aangeskaf. Die man is só gefokus in sy taak dat hy die geel Monza wat hom al die laaste ses kilometer volg, nie raak sien nie. *** *** ***
Johannes wil skree, maar die pleister klem sy lippe styf toe in 'n klewerige greep. Sy oë volg die vlammetjie van die sigaret-aansteker. Dit flikker onheilspellend. Wink uitdagend vir hom. Die vlammetjie daal stadig nader aan die poel brandstof wat om hom lê. Dit betower die wêreld met sy geel gloed. Betower die kilheid in die man se donker oë. Skielik ruk die vlammetjie weg en daar volg 'n oorverdowende knal. Die man se liggaam ruk opsy en word soos 'n sak aartappels op die vloer neergegooi en laat lê. Sorgeloos soos die rooi brandstofkannetjie langs hom.
Die polisieman kom nader gestap met die steeds rokende pistool in sy hand. Hy voel die man se nek en skud stadig sy kop. "Ons sou hom graag lewendig wou gehad het, maar hy sal nie nóg 'n drawwer kan seermaak nie." sê hy gedemp en maak die toue om Johannes los. HASIE VERLOOR SY STERT .
Lank, lank gelede, die tyd toe die diere nog kon praat, het Koning Leeu se koninkryk oor die hele Bosveld gestrek. Hy het sy gebied so uitgesoek dat al die diere ‘n tuiste daar kon vind. Daar was genoeg uitgestrekte grasvelde vir die vlaktediere, berge vir die wat tussen die klippe wou bly, genoeg water vir die waterdiere as blyplek en ook vir die diere om te drink. Koning Leeu se paleis is gebou naby ‘n klipkoppie, by die groot fontein wat die lekkerste water in die omgewing gehad het.
Om die paleis vir Koning Leeu gebou te kry, was ‘n groot taak. Eers het Leeu al die wyse diere in die ryk bymekaar geroep en die saak met hulle bespreek. Die paleis moes iets spesiaals wees, want die koning van so ‘n belangrike streek in die bos, kan nie sommer onder ‘n doringbos inkruip om te slaap nie. Ook kon sy vrou nie so in die veld bly nie. Waar moes sy haar daaglikse skoonheidsbad gaan neem? Waar moet sy ‘n spieël in die oop veld kry om haar grimering aan te sit in die oggend as die son oor die klipkoppie kom loer? Die diere moet dink dat hy en sy vrou, as die nommer een dieregesin in die bos, die belangrikste in die bos is.
Na vele kopkrap en redeneer is besluit dat Sekretarisvoël die planne vir die paleis sou optrek. Dit is met die koning en sy vrou bespreek en toe hulle tevrede was, is die planne geteken. Om die paleis na Koningin Leeubekkie se smaak te kry, was iets vreesliks. Eers het die paleis nie genoeg slaapkamers gehad nie. Daar moes genoeg plek wees vir al die belangrike gaste wat in die paleis moes oornag. Toe was dit weer die aantrekkamer, langs die badkamer, wat nie genoeg spieëls gehad het nie. Hoe moes sy agter haar kop sien as sy haar hare moes indraai in die oggende, nadat haar hare klaar gewas is? Waar moes sy genoeg spieëls kry om goed te kan sien om haar grimering aan te sit? Die kombuis moes twee keer verander word voordat sy tevrede was. Daar moes meer kaste wees en die spens was te klein. Dan was die stoepe nie breed genoeg nie. So het dit vir weke aangegaan. Uiteindelik, na baie toutrek, kon Sekretarisvoël die planne teken en vir finale goedkeuring voorlê.
Al die diere in die bos wat kon help, het ingespring om die paleis te voltooi. Die erdvarke, vlakvarke en molle het gate gegrou, die bobbejane het klippe van die koppie afgerol en na die bouterrein aangerol, die olifante het boomstompe aangesleep, die renosters en seekoeie het gehelp met die vastrap van die vloere en die vasstamp van die pale en die ape moes sorg dat die dak behoorlik gedek word met die fluitjiesriet wat die hamerkoppe en reiers uit die vleie aangedra het. Sekretarisvoël moes toesig hou oor die werkery en Koningin Leeubekkie het soos ‘n broeishen om die bouery gedraai. Kort-kort het sy hier raad gegee, en daar weer geraas. Maar uiteindelik, na maande se harde werk, is die paleis voltooi en kon die Koning en sy vrou intrek. Dit was mos hoeka tyd dat hulle met ‘n gesin begin.
Hermanus Haas en sy vrou Hermien het naby Koning Leeu se paleis onder ‘n driedoringbos gewoon. Sy huis was ‘n gat wat hy in die sagte grond gegrawe het, net groot genoeg dat hy, sy vrou en hulle kinders gemaklik kon inkruip. Hy het dié plek gekies omdat daar volop sagte, groen gras en knolle vir ‘n haas was om te eet en dit was ook nie te ver van die koning se waterfontein af nie.
Hermanus was ‘n belangrike dier in diens van die koning se paleis. Hy het in die oggende, net as dit begin lig word, na die paleis gegaan. Daar was dit sy werk om Koningin Leeubekkie se grimering met sy wollerige stert aan te sit. So, terwyl hy grimering aansit, luister hy na al die stories wat vertel word in die paleis. Dit het gemaak dat die diere gewens het dat hulle Hasie was. Hulle was ook bang om iets aan hom te doen, want hulle het geweet dat Koning Leeu en Koningin Leeubekkie van Hasie hou, omdat hy sy werk baie getrou gedoen het en nooit enige probleme veroorsaak het nie. Inteendeel, Hasie het net nooit enige dier kwaad aangedoen of skinderstories versprei nie. Mens kan maar sê dat Hasie en sy vrou twee voorslag diere was.
Een dier in Koning Leeu se ryk waarvan geen ander dier gehou het nie, was dit Ysterbek, die hiëna. Ysterbek was nie lief om te bad nie en dit het gemaak dat hy vreeslik gestink het. Behalwe dit, was hy altyd ongeskik teenoor die ander diere. Hy was bakleierig en afknouerig, veral teenoor die kleiner diere. Sodra die groter diere naby was, was hy die grootste lafaard wat mens kon kry en het hy hom so gou as wat hy kon, uit die voete gemaak met so ‘n skewe draffie van sy afdraande lyf. Sy lyf is mos so afdraande omdat sy voorbene langer is as wat sy agterbene is.
Ysterbek kon dit nie vat dat Hasie gewild was by die diere nie. Almal het hom altyd vriendelik gegroet en eers bietjie gesels voordat hulle verder gestap het. Maar vir hom het hulle altyd vermy of weggejaag. Geen dier wou sy vriend wees nie. Dit het vir Ysterbek vreeslik gepla en hy het later vir Hasie begin haat..
"Ek gaan die vervlakste haas nog kry. Hy dink verniet dat hy belangriker as die koning is. Ek moet net ‘n plan kry om hom reg te sien. Doodbyt kan ek hom ongelukkig nie, want dan sal al diere my nog meer haat. Ek moet sê dat, so ‘n sappige, vet haas net die regte ding vir ontbyt sal wees. Ek sal maar dáár teen die klip in die son gaan lê om die saak te oordink," mompel die ou by homself.
Kort nadat Ysterbek homself in die lui strale van die oggendson teen die klip neergeplak het, was hy vas aan die slaap. Sy agterpoot het kort-kort so snaaks geskop-skop in die stof soos wat hy gedroom het in sy slaap. Elke keer as hy sy asem uitgeblaas het, het ‘n stofwolkie voor sy neus uitgeslaan en dit was nie te lank nie of sy snoet was bruin van die stof en stukkies fyn blare wat daaraan vasgeklou het.
Skielik skop sy agterpoot vreeslik en Ysterbek rol steunend orent. Sy pens was propvol van die heerlike tarentaalvleis en ‘n paar tarentaaleiers wat hy vir ontbyt gehad het.
"Ek het mos gesê ek moet net ‘n bietjie die saak oordink en nou het ek ‘n goeie plan om die vervlakste haas reg te sien. Nou gaan hy sy moses teëkom!"
Fluit-fluit kom Hermanus die volgende oggend uit sy gat gekruip. Hy is vrolik, want hy het heerlik geslaap. Hy is nou op pad na die paleis om vir Koningin Leeubekkie te gaan help om haar die mooiste leeuwyfie in die bosveld te maak. Van sy gathuisie af, by die driedoringbos verby, strek die paadjie reguit langs die fontein verby, langs ‘n plaat Elandsboontjies verby, teen die effense hoogtetjie uit, tot by die paleis, waar hy reeds ‘n rokie uit die skoorsteen van die paleis se kombuis kan sien uit krul. As die son so rooi opkom in die ooste, kan dit mos net ‘n wonderlike dag wees in die bosveld!
Ysterbek kruip diep in die plaat Elandsboontjies in. Hy gaan vandag sy plan ten uitvoer bring.
"Buig of bars! Vandag gaan ek die vervlakste haas op sy neus laat kyk. Miskien vreet ek hom nog op ook," brom die ou terwyl hy hom gemaklik maak vir die lang wag.
"A, daar kom die laspos nou aangestap. Nou net gou die laaste voorbereidings tref"
Ysterbek neem ‘n lang pendoring en druk dit diep in sy voorpoot in. Hy skree van die pyn en begin om hard te kerm.
"O, eina! Die pyn is vreeslik! Iemand, help tog!" kerm ou Ysterbek.
Hasie steek vas toe hy die geskree hoor. Hy draai-soek met sy lang ore, totdat hy hoor dat die gekerm van die plaat Elandsboontjies af kom.
"Ek wonder wat gaan nou aan? Ek moet gaan kyk of ek nie dalk kan help nie."
Ysterbek trek ‘n vreeslike gesig en loer deur skrefies oë hoe Hasie nader kom.
"Ag help tog!" kerm ou Ysterbek nog ernstiger.
Hasie stap baie versigtig nader want hy ken mos die geniepsigheid van ou Ysterbek. Hy weet hy kan nie vir Ysterbek vertrou nie, maar hy moet tog die arme dier help. Kyk net hoe seer het sy poot gekry.
"Ag, Hasie, help tog om die vreeslike doring uit my voet te haal" vra Ysterbek. "Ek belowe ek sal niks aan jou doen nie. Jy weet tog ek is jou vriend. Help my net asseblief."
Hasie twyfel, maar kom tog nader. Stadig, voetjie vir voetjie. Hy neem die doring in sy pootjies en begin saggies trek. Hy kry eintlik seer vir Ysterbek se part.
"Ag die pyn is vreeslik !" skree ou Ysterbek. "Vryf my poot net so bietjie met daardie sagte stert van jou dat die pyn net bietjie bedaar" vra die ou stinkasem.
Hasie twyfel eers, maar as hy na die bakkies van ou Ysterbek kyk wat so skeef trek van die pyn, kry hy hom vreeslik jammer. Saggies vryf hy oor die voorpoot met sy stert, net langs die pendoring wat skerp wit lyk teen die donkerbruin van die vuil poot.
Baie stadig trek ou Ysterbek sy poot nader na sy bek. Stadig, al kermend, sodat Hasie dit nie agterkom nie. Stadig, stadig, nader na sy bek met die vreeslike tande wat die dikste been met een byt kan stukkend byt. Nog net so klein stukkie. Stadig, stadig, nader, nader. Skielik, spring hy op en byt Hasie se stert kort teen sy lyf morsaf!
Hasie se bene spring sommer vanself van die groot skrik. Hy vlieg daar weg met ‘n vaart, terwyl trane van seer oor sy wange rol en druppels bloed in die paadjie drup, reguit na die naaste skuilplek - die paleis.
By die paleis aangekom was die paleis gou in rep en roer. Party hardloop heen en weer om te kyk of hulle vir Hasie kan help. Ander hardloop net, sonder om iets gedoen te kry, en dit van pure skrik. Oom Uil, wat die slimste onder die diere was, het salf van kruie en byewas gemaak en dit aan Hasie se stompie stert gesmeer en dit met ‘n stukkie papierbas toegedraai. Gou het die pyn bedaar, maar hoe moet hy nou sy werk doen? Wat sal Koningin Leeubekkie nou sê en doen? Ag, wat ‘n ramp!
Koning Leeu het die rumoer in die paleis gehoor en dadelik sy bobbejaan-paleiswagte aangesê om te gaan uitvind wat gaande is. Na ‘n rukkie het hulle hom die vreeslike nuus kom vertel. Sjoe, maar die koning was briesend kwaad! Hoe is so iets moontlik? Hy het die diere uitdruklik beveel om in vrede met mekaar te lewe, en nou dit!
"Waar is Walter?" vra hy kwaai. "Gaan roep hom dadelik!" beveel hy.
Walter Witkruisarend, met sy kwaai oë, was die minister van dieredissipline. Gou is die saak bespreek en is daar besluit om Ysterbek ‘n pakslae van 20 houe met ‘n stuk bobbejaantou te gee.
Sterk Barend Bobbejaan was die leier van die paleiswagte. Hy en sy troepe het die taak gekry om Ysterbek te vang en hom die pak van sy lewe te gee. Met klappende pote is hulle daar weg. Hulle hardloop so, dat selfs hulle sekelsterte reguit na agter staan en nie met ‘n krul bo hulle rûe uit nie. By die Elandsboontjies kry hulle vir Ysterbek waar hy nog rondrol in die stof soos hy lag.
"Nou sal die simpel haas nie meer by die koning werk nie. Hy wou mos."
Sterk Barend gee net een blaf, toe gryp die soldate vir Ysterbek en druk hom op die grond vas. Ysterbek dreig, probeer om die bobbejane met sy tande by te kom, smeek later dat hulle hom moet los, maak allerhande mooi beloftes, maar die bobbejane hou wat hulle het. Sterk Barend rek sy seninglyf stadig uit en wys die spiere in sy rug en skouers wat soos dik toue oor sy lyf span, terwyl hy die stuk bobbejaantou deur sy een hand trek. Sy naam is nie verniet Sterk Barend nie. Hy gaan haal die houe ver agter sy regterblad en laat hulle op Ysterbek se rug klap dat die strepe soos Kwagga se strepe eweredig oor sy rug lê. Met elke hou skree-smeek Ysterbek terwyl Sterk Barend die houe aftel tot by 20. Die troepe los vir Ysterbek en begin rustig na die paleis terugstap.
Met die los kom slag was daar vir Ysterbek nie eers tyd om aan sy skewe draffie te dink nie. Skreeuend vlieg hy daar weg dat die sand teen die Elandboontjie spat. Ysterbek hou aan met hardloop, tot daar teen die berg, waar hy stadiger begin hardloop. Toe eers begin die pyn van die houe die skrik in sy brein wegjaag en daarmee saam kom ‘n vreeslike groot woede teenoor Hermanus Haas en Sterk Barend.s
Hoog in die lug, tussen die yl vlieswolkies, vlieg Lena Lammergeyer op soek na kaalgevrete bene wat sy kan optel en oopbreek, sodat sy die murg vir haar kleintjies kan gaan gee. Sy vlieg so hoog dat sy die hele episode van die arme Hermanus Haas kon sien. As sy aan die pragtige wolstert dink wat nou tot niet is, voel sy so ‘n dowwe seer laag in haar borskas. Toe die bobbejaansoldate vir ou Ysterbek beetgekry het, het daar ‘n effense glimlag om haar mond verskyn en met ‘n "Jy wou mos", het sy teruggedraai na die hoë kranse teen die berg waar haar nes is. Soos wat sy in sirkels sweef op die wind, sien sy dat ou Stinkasem hom teen die groot biesiepol, wat in ‘n nattigheidjie groei, lê maak, net daar waar die maroelabome lekker welig groei, daar aan die voet van die heuwels.
Kalahari Kees is ‘n eie, bloedfamilie neef van Sterk Barend Bobbejaan. Kees is op besoek aan die bosveld om te kom kyk hoe dit met sy gunsteling neef gaan. Kees kom van die Kalahari af. Daar in die Kalahari is min bome en baie sand. Die dae is vreeslik warm en die nagte ysig koud. Om daar te oorleef en genoeg kos in die hande te kry, moet ‘n bobbejaan seningtaai wees, anders sal hy verseker nie bly leef nie. Terwyl Sterk Barend op diens in die paleis van Koning Leeu is, wei Kees saam met die trop bobbejane in die heuwels. Hier is altyd volop kos. Sommige van die kos ken Kees nie. Hy ken net uintjies, skerpioene, karkoere en tsammas. Hy dink dat sy neef Sterk Barend in die paradys bly, want omtrent elke ding wat in die bosveld groei, is eetbaar vir bobbejaan se kind. Sterk Barend se trop leer hom wat om te eet, watter kos die lekkerste is en waar om dit te kry. Die belangrikste ding wat hulle hom geleer het, was om uit Manie Mamba en sy familie se pad te bly. Manie Mamba se familie woon net in bebosde plekke en daarom ken Kees die soort dier glad nie. Hy ken net vir Poffie Pofadder-hulle.
Terwyl Kees, half toe oë, aan ‘n soet maroela sit en suig, hoor hy ‘n geskarrel tussen die gras. Met een oog loer hy en sien hy ou Ysterbek aangedraf kom en teen die biesiepol kom neerplons. Hy ken hiënas. ‘n Gemene spul gediertes! In die Kalahari waar kos skaars is, het die hiënas ‘n wrede klomp diere geword. Kees is ‘n regte platjie, want hy pla altyd almal wat hy in die hande kan kry. Maar moenie moeilikheid soek met die familie nie. Sterk Barend het nie verniet sy oupa se naam gekry nie. Sterk was die familie bobbejane verseker.
‘n Skelm glimlag verskyn om Kees se mond terwyl hy die kaalgesuigde maroelapit uit sy bek haal met sy regter voorpoot. Stadig verskuif hy na ‘n dikker tak en toe Ysterbek sy lê gekry het, gooi Kees die maroelapit dat dit so klap op Ysterbek se half kaal pens. Ysterbek vlieg op met ‘n lelike gegrom. Hy soek om hom vir die laspos om hom reg te sien.
"As ek jou kry, byt ek jou in fyn stukkies!" skreeu die ou woedend. Bo in die maroelaboom skud Kees soos hy lag. Hy het albei sy hande om sy bek, sodat Ysterbek hom nie kan hoor lag nie. Toe sy lagbui bedaar, vee hy die trane van lekker lag uit sy oë en steek die volgende maroela in sy kies. ‘n Man moet eet as jy die kans kry. Daar in die sandduine van die Kalahari, is baie hongerbly dae.
Toe Ysterbek geen laspos gewaar nie, gaan hy maar weer lê met ‘n diep seer steun.
"Dit was seker maar een die houe wat ek gekry het wat so gepyn het," brom die ou en maak sy oë weer toe.
Kalahari Kees wag geduldig dat die ou weer rustig moet slaap, terwyl die volgende pit in sy kies weer byna kaalgesuig is. Intussen het die res van die trop die gedoente tussen Kees en Ysterbek gesien en nadergekom, sodat die bome om die biesiepol nou vol bobbejane sit. Amper soos ‘n klomp mense op ‘n pawiljoen by ‘n rugby wedstryd. Hulle weet sommer hier kom groot sports, want Ysterbek kan vreeslik byt en Kees kan vreeslik baklei.
Kees laat los die volgende pit met mening. Weer plof die pit teen Ysterbek se ribbes. Party van die bobbejane kry vir Ysterbek half jammer, toe hulle sien hoe sy pote trap-trap in die lug voordat hulle grondvat en hy so vinnig as hy kan, opvlieg. Nou weet hy dis nie sy seer ribbes wat hom pla nie. Met die opvlieg gewaar hy die bobbejane in die bome om hom en Kees wat so lekker lag dat hy byna uit die boom val.
"Kom hier dat ek jou inmekaar kan byt, jou sekelstert laspos!" skreeu Ysterbek baie kwaad. Dadelik begin Ysterbek wegstap, weg van die bobbejane. Hy onthou nog goed hoe sy oupa hulle vertel het van sy geveg met Oupa Sterk Barend. Sy oupa het vertel hoe die bobbejaan byna die vel van sy lyf afgeskeur het. Vier pote gryp jou vas, so vas soos staaldrade, dan byt die bek met daardie vreeslike slagtande terwyl die hande en voete weer op ander plekke vasvat, knyp en skeur dat dit iets vreesliks was. Twee maande lank kon oupa Ysterbek sy lyf nie roer nie. Die ander hiënas moes vir hom kos en water aandra om hom aan die lewe te hou. Hy was naderhand so maer soos ‘n riet. Dit wil hy tog nie oorkom nie. Hiëna se kind is te veel van ‘n lafaard.
"Ek sal jou nog terugkry, jou kaal sitvlak gedierte, met ‘n stert soos die sekelmaan!" skreeu hy oor sy skouer terwyl hy sukkel-sukkel wegdraf.
Die bobbejane lag en spot nou vreeslik. Hulle sit mos veilig in die bome en hulle weet ou Ysterbek kan nie boomklim nie. Op die grond is hulle ook maar versigtig vir die ou, maar as hulle in die bome is, is hulle veilig.
Ysterbek draf nou skeef-skeef, want sy afdraande lyf is vreeslik seer. Van die stillê teen die biesiepol het sy lyf styf geword en nou moet hy hom nog vinnig uit die voete maak.
"Ag, hoe onregverdig is die lewe!" kla die ou by homself terwyl hy voort draf.
"Ek sal maar daar na die vlakte se kant toe gaan. Miskien is daar minder lasposte om my te verpes" praat die ou weer met homself.
Ysterbek skommeldraf in die vlakte se rigting. Die woede vir Hermansus wil maar net nie bedaar nie. Terwyl hy so draf, maal die planne deur sy kop. Eers oorweeg hy dié plan, dan weer daardie idee. Kort-kort skud hy sy groot kop, as hy besef dat ‘n plan nie gaan werk nie. Dan weer lig hy sy kop so effens om te sien of hy nog op koers is.
"Ek sal maar daar langs die driedoringbos verby hou, dan in die rigting van die groot kremetartboom daar ver, draf. Die kremetartbome het mos baie keer gate in hulle stamme. Dit sal net die regte plek wees om te gaan rus terwyl ek my planne agtermekaar kry," praat die ou stinkasem weer met homself.
Lena Lammergeyer is weer op pad van die nes af op soek na nog bene om oop te breek. Uit die hoogte kyk sy na al die diere in die omtrek . Sy sien ook vir Ysterbek soos hy sukkelend aan draf in die rigting van die driedoringbos.
"Ek wonder wat se bose planne beraam die ou sleg nou weer," wonder sy.
Sy is nog besig om hom dop te hou, toe, skielik ruk Ysterbek se kop af grond toe en wil-wil sy agterpote die voorpote verbysteek en byna, in die deurmekaarspul, val Ysterbek oor sy eie pote.
"Maar dis mos haasreuk wat ek hier kry!" praat Ysterbek met homself.
"Laat ek weer terugdraai en behoorlik ruik. Nee, dis nog nie ver genoeg nie. A, hier is dit weer. Dis verseker haas se reuk die. Nou wat is die reuk saam met die haasreuk? Ek verbeel my mos nie. Dis mos bloed! Dit kan mos net die vervlakste Hermanus Haas se spoor wees. Nooit anders nie! Ek kan nou mos die laspos volg en hom dophou, sodat ek hom kan vaskeer en doodbyt."
Hermanus kruip seer-seer in sy gathuis in. Toe hy Hermien sien, loop die trane van seer en teleurstelling oor sy vol stof wange. Vinnig vertel hy aan haar wat gebeur het, terwyl sy heerlik in die koel van die gat geslaap het. ‘n Groot seer diep in haar binneste laat haar inmekaar gaan sit, terwyl sy met haar wollerige wange teen sy gesig skuur om vir hom te sê hoe baie jammer sy vir hom voel. Groot traandruppels rol oor die wolletjieswange en drup langs haar voorpootjies in die sand.
Terwyl die twee hase so bymekaar sit, word dit skielik baie donker in die gat.
"Ou Uil het net eergister vir my vertel dat die sonsverduistering eers volgende maand gaan wees" sê Hermanus aan Hermien.
"Hoekom word dit dan nou so vinnig donker? Ek gaan net gou kyk."
Hermanus begin weer na die bek van die gat kruip. Skielik loop hy homself teen ‘n groot, harige ding vas. Hy steek sy voorpoot uit om te kan voel wat aangaan. Hy voel ‘n ronderige natterige ding en om dit, harde hare en ‘n wye ding wat amper die hele gat toemaak.
Dis met die voelslag van Hermanus dat Ysterbek weer ‘n slag sy asem uitblaas om mooi te kan ruik. Hasie val omtrent flou van die vreeslike stink wat in sy gesig geblaas word. Hy skrik hom boeglam en rol sommer vanself terug in die gat waar Hermien bang staan en wag om te hoor wat aangaan. Hermanus rol tot teen haar en lê so rukkie stil om van die ergste skrik ontslae te raak.
"Dis Ysterbek wat sy kop by die gat insteek", sê Hasie benoud.
"Wat doen ons nou?" vra die twee so gelyk.
"Kom uit, jou vervlakste haas!" skree Ysterbek voor die gat.
"Vandag is die dag dat ek jou en jou hele gesin gaan vrek byt. Kom uit!"
Hermanus sit net doodstil terwyl Hermien haar sagte, ronde oë na sy kant toe draai en vinnig haar oë knip-knip om die trane van bang te probeer keer. Met die lawaai kom die drie klein hasies ook by, want hulle het wakker geword van die lawaai en die vreemde stink in hulle huis. Gou en saggies vertel Hermanus vir hulle wat aan die gang is.
"As julle nie wil uitkom nie, sal julle straf net erger wees," skree Ysterbek weer.
"Ek gaan voor die gat lê en wag totdat julle uitkom. Julle sal moet uitkom anders vrek julle van die honger en dors."
Die hase sit verskrik bymekaar en wag, want hulle weet nie wat om nou te doen nie. Hermanus het hulle aangesê om nie te raas nie, maar klein hasies hou nie van stil sit nie en na ‘n rukkie begin hulle in die gat rondloop. Hulle kou hier aan ‘n wortel en jaag mekaar in die rondte. Een van die klein hasies begin sommer so uit verveeldheid teen die kant van die grondhuis grawe soos hy al baie vir Hermanus sien doen het, sodat die haashuis al vol stof begin raak.
"Stop daardie gegrawe!" raas Hermanus.
Hy het nie nou nog tyd vir stoutigheid nie. Hulle lewe is in gevaar en die klein hasies weet ook nie mooi wat aangaan nie.
"Ek sal jou sommer ‘n oorveeg ...... Ek sal jou sommer...... Jy is sowaar die slimste vlagoor haas wat ek nog gesien het!" sê Hermanus opgewonde terwyl hy die klein hasie styf teen hom vasdruk.
"Wat gaan nou met jou aan, Hermanus?" vra Hermien verbaas.
Gou vertel hy aan die ander wat hy dink. Hulle moet net wag tot dit donker is en dan moet hulle ‘n nuwe tonnel grawe, met die uitgang na die agterkant van die driedoringbos, sodat Ysterbek dit nie kan sien nie. So kan hulle in die nag uitgaan om kos en water te gaan soek, terwyl die ou sleg voor die ou gat, aan die anderkant van die bos, wag dat hulle moet doodgaan.
Hasie gaan weer reg in die ou gat se opening staan en roep na Ysterbek.
"Haai, ou Stinkasem. Waar is jy? Is jy al moeg gewag?"
"Wie is jou stinkasem, jou ellendige haas!" raas Ysterbek en spring vorentoe om vir Hermanus die laaste hap te gee.
Hasie skrik vir die aaklige klap van die groot, geel tande hier knap voor sy gesig en gee pad, terug die gat in. Ysterbek steek weer sy snoet in die gat in om vir Hermanus beet te kry. Hermanus gryp een van sy snorbaarde met altwee sy voorpotjies en trek so hard as wat hy kan. Die snorbaard is dik en grof en Hasie se pootjies kon mooi stewig vasvat. Ysterbek brul van pyn en woede. Gelukkig breek die haar af, voordat Hasie kon flou word van die stink asem. Hasie het so hard getrek dat, toe die haar breek, rol hy weer in die tonnel af. Onder skud hy die stof uit sy woljas en begin saggies lag.
"Hermanus, jy soek mos nou vir groot moeilikheid!" raas Hermein.
"Stadig, my vroutjie. Al wat ek doen is om ou Ysterbek kwaad te hou sodat hy nie sal weggaan voor die bek van die ou gat nie. Dit gee ons kans om die nuwe gat klaar te kry en uit te glip."
Toe die laaste strale van die son oor die vlakte wegraak en die wolkies oranjerooi en pers verf, begin die hase grawe aan die nuwe uitgang. Kort-kort moet die een wat grawe padgee vir die stof. Dan gaan hy weer waghou by die ou gat, sodat hulle kan weet wanneer Ysterbek nie meer daar is nie. Die volgende haas gaan dan voort om te grawe. Nie lank na donker nie, voor die maan op sy pad oor die hemel begin, is die gat deurgegrawe en kon die hase uitglip. Met groot spoed kon hulle weghardloop tot by die fontein, om van die lekker groen gras te vreet en van die soet water te drink. Ysterbek wag nog altyd geduldig voor die ou gat vir die hase om uit te kom, sodat hy hulle kan opvreet om hulle so vir altyd uit sy lewe weg te kry.
Kaptein Renaldo Rooimier is die bevelvoerder van die regiment rooimiersoldate. Hy sit met ‘n groot probleem. Drie van sy soldate word saggies aangedra en voor hom op die grond neergesit. Van hulle beentjies is gebreek, hulle lyfies is gekneus en een is bewusteloos. Die drie lyk te naar.
"Weet een van julle wat hier aan die gang is?" vra hy streng.
"Ek weet die kommandomiere is goeie vegters, maar die manier wat die drie verniel is, is nie die manier wat hulle oorlog maak nie."
"Nee, Kaptein," sê een van die rooimier soldate.
"Dis nie die kommandomiere se werk hierdie nie. Dis Ysterbek, die hiëna, wat op ons nes kom lê het. Hy wil die haasbure van ons doodbyt, omdat hy jaloers is op Hermanus se stert. Hy het vanoggend Hermanus se stert afgebyt en die minister van dieredissipline het hom ‘n vreeslike pak laat gee. Nou wil hy wraak neem op die hase."
Die rooimiere se nes is reg voor die ou ingang van die hase se huis. Hulle en die hase was nog altyd goeie bure want die hase het hulle nooit gepla nie en elke dag het hulle mekaar vriendelik gegroet.
"Kêrels, ek dink dis tyd dat ons ons bure gaan help."
"Ja! Ja!" skree al die rooimiersoldate gelyk.
"Luister nou mooi. Groep een, julle bly by die nes om die nes te bewaak. Julle sorg dat niemand hier inkom wat nie hier hoort nie. Ook sorg julle vir die eiers en die koningin. Groep twee en drie, julle gaan dadelik om julle bekke skerp te slyp. As julle klaar is, smeer julle van die geheime brandnetelsap aan julle bekke. As julle buite kom sal ek die bevel gee, dan kruip julle diep in Ysterbek se vuil, kloshare in, sonder dat hy dit agterkom. Byt dan so hard as wat julle kan. Byt hard en byt diep!" beveel kaptein Renaldo.
Nadat die hase klaar gevreet het, is hulle sluip-sluip terug na die gathuis. Hermanus het dadelik gaan kyk of Ysterbek nog daar is. Ysterbek lê op sy pens, maar sy oë is nog oop. Hy hou nog steeds die gat dop. In die helder maanskyn kan Hermanus nog die dowwe strepe van die bobbejaantou oor Ysterbek se ribbes sien. Dadelik kruip die bang weer oor sy hart as hy dink wat die dag met hom gebeur het en hoe amper die ongedierte hom doodgebyt het.
Hasie staan nog half versteen in die bek van die gat toe begin Ysterbek ongemaklik skrop-skrop met die agterpoot teen sy ribbes en sy pens. Hy vlieg op en begin op sy rug in die stof rondrol. Dan krap hy weer agter sy een oor, vryf sy gesig in die gras asof hy iets wil afvee. Hy skuur met sy agterstewe oor die fyn klippertjies langs die paadjie, skrop weer met die ander agterpoot oor sy maag, rol weer ‘n slag soos ‘n kwagga in die stof en vlieg op.
"Nou wat gaan nou aan?" vra Ysterbek aan homself.
"Wat is dit wat my nou byt? Die vlooie kon nog nooit deur my dik vel byt nie. Wat gaan dan nou aan?" vra die ou weer, terwyl hy skrop-skrop en skuur-skuur om van die gebrand ontslae te probeer raak.
Die rooimiere het Kaptein Renaldo se opdrag deeglik uitgevoer, net soos goeie soldate dit moet doen. Hulle het diep gebyt. Hulle het die brandnetelsap in die gaatjies afgesmeer en dit brand vir ou Ysterbek so dat hy nie kan stil sit of stillê nie, want brandnetelsap kán brand. As ‘n rooimier agterkom dat al die sap van sy bekkie af is, vlieg hy om, terug nes toe, om gou weer net sy bekkie te slyp en sap aan te smeer en dan is dit weer terug na die vyand toe. Weer is dit diep in die klosse inkruip en byt vir ‘n vale.
Na ‘n rukkie van skrop, skuur en sukkel om partye jeuk plekke by te kom, kom Ysterbek eers agter wat aan die gang is.
"Sal ek vandag dan geen rus en vrede hê nie? Eers is dit die bobbejane met hulle bobbejaantou sambok, toe die ellendige Kees met sy maroelapitte, toe die simpel haas wat my snor uitpluk en nou die rooimiere wat so byt. Ek dit nie meer kan hou nie!" kerm die ou sleg terwyl hy skuur en vryf dat dit ‘n naarheid is.
"Vandag is die dag dat ek trek. Ver weg van die plek af. Die haas en sy familie kan ook maar gaan bars."
Die rooimiere hoor dit en so gou hulle kan, spring hulle van hom af. Die taak wat hulle gehad het, was nie lekker nie, want die ou stink vreeslik en sy hare is baie gekoek. Gou net almal bymekaar kry en dan moet hulle terug nes toe. By die nes het Kaptein Renaldo almal laat aantree en hulle bedank vir hulle goeie werk. Ook het hy met jammerte in sy stem aan hulle vertel dat 27 van hulle maats dood is in die geveg. Hy het gou gereël dat hulle ‘n behoorlike rooimierbegrafnis kry.
Nadat al Kaptein Renaldo Rooimier se soldate versorg is, is hy en sy lyfwagte na die haasbure toe.
"Baie dankie vir julle hulp", sê Hermanus vriendelik toe hy die groepie na hom toe sien aankom.
"Julle hulp het gemaak dat die ou sleg besluit het om te trek. Dit wys julle net. As daar saamgewerk word, kan groot take makliker gedoen word. Ek hoop ons gaan nog steeds sulke goeie bure wees, as voor die geveg. Baie dankie aan almal wat gehelp het."
"Ons help graag waar ons kan, Hermanus" sê die kaptein terwyl hy trots na sy manne wys.
"Ons hoop dat julle verder die aand sal geniet."
Hermanus en sy gesin is terug in die gathuis. Hy het die kinders is in hulle bedjies gesit terwyl Hermien gou die ergste deurmekaar in die huis opgeruim het. Daarna is Hermanus en Hermien ook bed toe. Met ‘n sug van verligting het Hermanus gaan lê en Hermien het styf teen hom gaan lê. Sy het weer met haar wollerige wange teen hom aangeskuur om te sê dat sy bly is hy leef nog. So het die twee rustig aan die slaap geraak terwyl hulle geluister het na die skerp piepgeluidjies van die graatjiesmeerkatte wat goggas naby hulle huis soek.
