Liefde

deur
M.C.


Daar is nie ’n mens op hierdie aarde wat nie op een of ander manier al te doen gehad het met die groot smagting na liefde nie. En is dit nie ongelooflik dat juis dit wat veronderstel is om geluk te bring, los voorloop as die enkele menslike emosie wat die meeste hartseer en ellende veroorsaak nie?

Die rede hievoor is bitter eenvoudig: verhoudings tussen mense word deur mense beoefen – ’n spesie wat uitsonderlike bekendheid verwerf het vir die gemak waarmee hy om die bos gelei kan word. Valse verwagtinge, word dit ook genoem. Die mens sal enige iets glo wat op die regte manier aan hom opgedis word, van advertiensies oor haarsjampoe tot die mees absurde stories oor maermaakmiddels.

Miskien sou dit vir ons makliker gewees het as ons nie met komplekse emosies soos die liefde te doene gehad het nie. Die mees emosioneel-komplekse item waaraan ons blootgestel behoort te word, sou iets eenvoudigs soos ’n kaas-toebroodjie moes wees. Dit kan tog sekerlik nie valse verwagtinge skep nie? Twee snye brood, met botter, en ’n skyfie kaas tussenin. Heeltemal hanteerbaar.

Maar helaas, ons diepste instinke dryf ons om ’n maat te vind, en net daar vervaag kaastoebroodjies tot ’n nietige onbenulligheid. En dis ook net daar waar ons van die wa af val. Ten minste sewentig persent van ons emosionele energie word spandeer aan pogings om na iemand te soek wat ons aanvaarbaar sal laat voel. En die probleem hiermee is dat ons na advertensies op die TV kyk, en daarvolgens vooraf besluit wat ons aanvaarbaar sal maak – of dit nou waar is of nie.

Beide die manlike en vroulike geslag van ons spesie het ’n stel ongeskrewe reëls opgestel – voorverseistes om aanvaarbaar te wees vir die teenoorgestelde geslag. Mans glo dat vrouens hulle slegs sal liefhë as hulle beroemd is, met ’n sportmotor  ry, ’n volledig gemeubileerde huis het, ’n gespierde lyf het, en ’n goue kaart van een of ander bank kan flash. Bitter min van die vrouens wat ek ken is met sulke mans getroud.
Vrouens weer, glo dat mans hulle slegs sal liefhê as hulle die duurste skoene op die mark dra, fyn en klein lyfies het, ’n 38D borsmaat het, en geen selluliet op hulle boudjies het nie. Bitter min van die mans wat ek ken is met sulke vrouens getroud. Rede? Mans en vrouens soos hierbo beskryf bestaan net in goedkoop snikromans.

Almal van ons weet dat hierdie voorvereistes nie regtig belangrik is nie, en dis net hier waar ons te doen kry met ’n tweede fout in die ontwerp van die mens: ons leer nie uit ervaring nie. En seker die heel belangrikste ding wat ons nie uit ervaring leer nie, is dat ons nie leer uit ervaring nie!
Vanuit die veilige vesting van my baie gelukkige huwelik hou ek dus die jonger geslag dop, en sien hoe hulle dieselfde foute maak wat ek twintig jaar gelede gemaak het.

Die ritueel wat seker die beste bewys lewer dat die mens nie leer uit sy foute nie, is wat deesdae bekend staan as ‘dating’. Dating, so lyk dit vir my, beteken dat jy moet raai wat iemand anders van jou verwag, en dan moet jy jouself daarvolgens aanpas en aanvaarbaar maak. Almal neem deel hieraan: duisende mans gaan gym toe om plat, gespierde mae te kry, en duisende vrouens staar in spieëls in ’n poging om te lyk soos wat hulle glo hulle date vir die aand wil hê hulle moet lyk. Fortuine word spandeer aan grimmering, klere, die regte juwele en parfuum. Hierdie proses word ‘gereed maak’ genoem.

Gereed maak vir wat? Gereed maak vir ’n massiewe advertensieveldtog wat nie gebasseer is op enige marknavorsing nie, en ook nie op ’n eerlike evaluering van die produk – die mens – nie?

Wat natuurlik die rede is waarom ‘gereed maak’ nie werk nie, en waarom die werklik goeie goed wat met ons gebeur, heeltemal onbepland plaasvind. Hoeveel mans het al ‘gereed gemaak’ tot in die fynste detail: glad geskeer, duur klere, die beste naskeermiddel, onderhoudende gesprekke, opregte belangstelling…. en die gevolg?  ’n Hopelose mislukking. Geen aanvaarding nie, geen liefde nie.

Maar dan, in uitsonderlike gevalle, en waarskynlik net een keer in ’n leeftyd, kom aanvaarding en liefde sonder dat jy ‘gereed gemaak’ het.
Ek kuier saam met ’n groep vriende een naweek by ’n vakansie-oord. Al die mans is ongeskeer, vuil, en ruik na sweet na ’n middag van krieket speel. My humeur is sleg want ek het min geslaap, en boonop het my span nog verloor ook. En toe staan sy daar – ook nie ‘gereed gemaak’ nie. Sy was bloot daar omdat sy genooi was om die middag te kom kuier, nie omdat sy ’n man gesoek het, of omdat sy op ’n date was nie….
Ek sou kon sê soos Shakespeare se Caliban:
”the clouds methought would open and show riches
Ready to drop upon me; that, when I waked
I cried to dream again”.

Toe staan ons daar, twee klein diertjies op hierdie toevallige planeet – geen verwagtinge nie, geen vooropgestelde idees nie. En vir die oomblik, geen vrese oor ons aanvaarbaarheid nie. Die liefde is soos geluk – dit kom oor jou pad wanneer jy nie daarna soek nie.

MC
mikevan@lantic.co.za

Die Kokkerot

Antonie was ‘n verfynde mannetjie, daaroor het niemand getwyfel nie. Op sig self was dit seker nie sy grootste probleem nie - baie mans in vandag se moderne wêreld doen naaldwerk en huil snot-en-trane in ‘n mooi fliek. Sy probleem was die feit dat hy ‘n onaangename mens was, so eenvoudig soos dit.

Sommige mense leer net nooit sekere sosiale vaardighede aan nie, of doen nie moeite om uit te reik na ander mense nie. Hulle veroorsaak hulle eie ongewildheid deur nie aan te pas by algemene norme en waardestelsels rondom hulle nie. Die slim mense noem sulke ouens eksentriek - mense wat totaal ingesluk word in ‘n wêreld van hul eie. En Antonietjie het aan al hierdie vereistes voldoen.

Sy eienaardighede was bykans legendaries in die staatsdepartement waar hy gewerk het. Hy was pynlik netjies en stiptelik, om maar een voorbeeld te noem. In die meeste gevalle sou ‘n werknemer wat betyds by die werk opgedaag het hoog aangeslaan word, maar Antonie was skoon siek as hy laat was, en selfs ook as hy te vroeg by die werk sou opdaag! As gevolg hiervan het vele van die jonger manne soggens die moeite gedoen om hom in te wag op pad na sy kantoor toe.  Hulle het hom dan voorgekeer iewers in ‘n gang, en ‘n gefabriseerde probleem met hom bespreek, net lank genoeg om hom daardie vyf minute te laat by sy kantoor te laat instap. Dit het hom gewoonlik die res van die oggend geneem om op te hou teem oor die tyd wat verlore gegaan het omdat hy laat was.

Selfs die aankoms in sy kantoor was nie normaal nie. Om dit ‘n ritueel te noem, sou heel gepas wees, want dit het elke oggend presies dieselfde verloop geneem. Eerstens het hy sy aktetas bo-op die lessenaar neergesit. Daaruit het hy dan ‘n plastiese bakkie met ‘n klam waslap gehaal, waarmee  eers die telefoon netjies afgevee was, daarna die tafel, en laastens die stoel. Tot die deur se handvatsel moes afgevee word. Daarna eers badkamers toe, waar die waslap gewas moes word, en dan weer teruggesit word in die bakkie. Dieselfde waslap was ook vir die res van die dag gebruik om die telefoon met gereelde tussenposes skoon te vee.
 
Die belangrikste doel van hierdie waslap was egter om sy hande mee af te vee nadat hy in die kleedkamers was. Die meeste normale mense sou hulle hande was nadat hulle die toilet gebruik het, en dan afdroog met die beskikbare handdoeke in die badkamer. Antonie daarinteen het wel sy hande gewas in die badkamer, maar vir hom was die handdoeke daar eenvoudig te vuil. Nadat hy sy hande gewas het, het hy met twee vies vingers die badkamerdeur oopgemaak. Met hierdie twee besmette vingers omhoog het hy dan teruggeloop kantoor toe. Eers nadat hy sy hande sorgvuldig met die waslap afgedroog het, kon hy ontspan en voortgaan met sy werk.

Sy grootste nagmerrie was egter dat ‘n kokkerot iewers naby hom moes beweeg. Ongelukkig vir Antonie was die gebou waarin hy gewerk het besmet met die mees voortreflike voorbeelde van die spesie. Personeel in sy afdeling het nie eers meer geskrik wanneer hulle ‘n gil iewers in die gang gehoor het nie - in 99% van die gevalle was dit maar net Antonie wat ‘n kokkerot gesien het. Om die kokkerot-gevaar tot die minimum te beperk, het hy een keer per week sy kantoor van bo tot onder skoongepuit met ‘n kannetjie Doom.

Die draaipunt in sy lewe het gekom een oggend met teetyd. Hy was daarna net nooit weer dieselfde nie - ongelukkig nie ten goede nie. Miskien was dit ook nou nie juis goeie smaak om die arme man se swakhede so uit te buit nie, maar niemand het voorsien dat sy reaksie so buitensporig sou wees nie.

Hierdie spesifieke oggend het doodnormaal begin, of so normaal as wat dit vir Antonie kon wees. Na die proses van reiniging in sy kantoor het hy pligsgetrou sy werk vir die voormiddag gedoen. Stiptelik drie minute voor tien het hy sy pen op presies die regte plek in die laai gebêre, die telefoon afgevee, en toe na die gemeenskaplike teekamer toe gestap. Hy het altyd eenkant in die hoekie gaan sit, want hy was bang dat iemand naby hom sou rook, of dalk aan hom sou vat.

Wat hy nie geweet het nie, was dat drie van die mees goddelose manne in die afdeling besluit het dat hulle hom ‘n streep gaan trek. Hulle het net voor teetyd ‘n vinnige draai deur die afdeling geloop, en een van die vele kokkerotte in die gang tot hoëre diens opgeroep. Half bewusteloos geslaan, het die kokkerot toe ‘n rusplekkie gekry onder een van die befaamde staatsdienkoppies se diep voet, binne in die ewe diep staatsdienspiering. Hierdie koppie het toe op die teetafel beland, maar was baie presies eenkant gesit, want vanoggend sou Antonie uit hierdie einste koppie sy tee moes drink.

Toe Antonie dus presies om tienuur die teekamer binnestap, het ‘n uitgelate, amper oorvriendelike groepie mense wat reeds daar was, hom begroet. Almal het reeds geweet van die bom onder die koppie se boom, en het moeite gehad om hulle afwagting nie te wys nie. Normaalweg het hulle hom vermy, juis as gevolg van sy eksentrisiteit. Die aandag wat hom dus meegeval het, was vir Antonie ‘n heerlike verassing. Hy het geblom hieronder, en het dus ook die koppie tee wat vir hom aangebied was, met dank aanvaar. Met ‘n groepie belangstellendes rondom hom wat onderhoudend  gesels, het hy heerlik aan sy tee gedrink, sonder om enigsins ag te slaan op die detail van sy koppie en piering. Twee mans het hom genooi om by hulle te kom sit, en met hierdie geselskap weerskante van hom, was hy totaal in ‘n ander wêreld. Met die laaste sluk van sy tee geneem, het hy egter gekyk waar hy die koppie moes plaas in die piering, en toe vir die eerste keer die kokkerot raakgesien. Sterwend, met voelers wat net-net roer, het die kokkerot ‘n laaste rilling gegee.

Anders as wat almal verwag het, het Antonie nie gegil nie, en ook nie die koppie laat val of weggesmyt nie. Hy het bloot opgestaan, die koppie en piering netjies op die teetafel gaan terugsit - kokkerot en al - en toe weer kom sit. Met die sitslag het hy sy sakdoek uit sy sak gehaal en sy mond netjies afgevee. En toe braak hy sy pas gedrinkte koppie tee netjies langs sy stoel uit. Laastens, getrou aan sy natuur, vee hy toe met dieselfde sakdoek weer sy lippe netjies skoon.

Hy het vir nog ‘n week werk toe gekom, soos normaal. Die volgende Maandag egter, het hy nie opgedaag nie. By navraag moes sy toesighouer uitvind dat hy in ‘n inrigting vir geestesversteurdes opgeneem was.

Arme Antonie.
 

Stilte

Die mense is nou finaal weg. Hulle sal my nooit weer pla nie. Nooit weer teen my aandring, vrae vra wat ek nie kan of wil beantwoord nie. Ek sal nooit weer skeinheilig vriendelik hoef te wees teenoor vreemde gesigte wat vir my hoegenaamd niks beteken nie. Ook nie teenoor familie wat seker goed bedoel, maar wat my net irriteer nie. Weg. Die lig kom nader, vriendelik. ’n Ligtheid beur my op, die donkerte van klouende mense dryf al verder weg. Die salwende stilte rondom my is hemels, rustig. Dit is alles en meer as wat ek verwag het, hierdie kalmte en rustigheid. Ek moes dit lankal gedoen het…..

Ek is effens verward oor hoe ek hier beland het. Nie dat dit veel saak maak nie. Alles is in elk geval dood, gevoelloos. Enige plek is so goed soos ’n ander. Solank dit net weg is van mense af. Hulle sal my nie maklik hier kom soek nie. Miskien dink ek nie meer heeltemal logies nie, maar selfs dit maak nie meer saak nie. Ten minste sal ek nie die huis bemors nie.

Selfsugtig van haar – ek kan hulle dit al hoor sê. Hulle is heeltemal reg. Dit is selfsugtig, maar vir een keer in my lewe moes ek iets doen waar ek net myself in ag neem. Ek wil niemand anders meer konsidereer nie. My hele lewe het gedraai rondom ander mense, en hulle het my net nooit met rus gelaat nie. Daar was altyd een of ander appèl gerig: ‘Ma, wanneer eet ons?’ of  ‘Vrou, ek kry nie ’n skoon hemp nie’. Selfs buite die gesin kon hulle my net nie laat staan nie. ‘Martha, ou sus, jy sal moet hulp kry. Gaan sien asseblief ’n dokter. Ek sal jou kom haal en saamry soontoe as dit jou sal help’

Die enigste hulp wat ek my hele lewe lank nodig gehad het was dat hulle my net moes los…..

Verlede Kersfees was hulle ook hier gewees, die hele ou gespuis. My huis flenters getrap. ’n Hele naweek lank op my nek kom lê. Gevreet soos sprinkane, en agterna nog kritiek gelewer ook. Oor alles – die kos, my huis, die tuin, my klere….  Ek kon eenvoudig nie die gedruis van soveel mense uitstaan nie, en het feitlik die hele naweek in my kamer deurgebring – slaap is ’n wonderlike ontvlugting. Jy kan seker wees dat hulle daaroor ook geskinder het. Hierdie Kersfees sal ek egter vrede hê, vir ewig.

My hele lewe lank moes ek vlug. Mense het ’n vreeslike manier om goed oor jou te wil weet. Hulle sal kom praatjies maak uit geveinste belangstelling, net om dan met die inligting vort te loop en ’n hele helse skinderstorie aan die gang te sit. Toe ek later met niemand meer wou praat nie, het hulle gesê ek is nors.

Ek het eers na twintig jaar van getroude lewe vriende gemaak met die dood. Die skinderbekke, natuurlik, het gesê ek is behep daarmee. Tot die dominee het kom besoek aflê, seker met goeie bedoelings, die arme man. Hy het so hard probeer, maar het so min verstaan. Sy klein, beperkte wêreld bestaan net uit preek vir die reeds bekeerdes, en ook uit ’n gesukkel om self liggaam en siel bymekaar te hou. Vir sukkelaars soos ek het hy wel ’n bietjie deernis, maar die enigste kennis wat hy oor ons het, het hy uit sy dik boeke opgelees. Ware kennis kom uit ervaring, en dit het hy waaragtig nie gehad nie.

My kinders is almal reeds groot en uit die huis uit. Hulle bel in elk geval so ongereeld, dat ek twyfel of hulle eers vreeslik ontsteld sal wees. Ons het mekaar ook maar ontgroei oor jare heen. Dit was ’n langsame proses, hierdie van-mekaar-af-wegbeweeg. Toe hulle klein was het hulle, soos alle kinders maar, naïef geglo dat ek die wonderlikste Ma is wat op twee bene loop. Deur hulle tienerfase het ons verhouding, weereens heeltemal normaal, deur diep waters gegaan. Die herstelfase wat op ’n natuurlike manier hierop moes volg, het egter nooit gerealiseer nie. Ek het niks oorgehad om te kon deel nie, niks gehad waaraan hulle kon anker nie. Ek was reeds leeg.

Aanvanklik, jare gelede toe ons getrou het, was dit nie so erg nie – die mense, bedoel ek nou. Ons was jonk en verlief, en het soos alle jong getroudes totaal in mekaar opgegaan. Ons het net vir mekaar geleef – en het ons geleef! Ander mense was eenvoudig nie belangrik nie. Dis toe ons later effens uit die wolke uit teruggekom het aarde toe dat mense my vir die eerste keer begin pla het. Net effens, maar tog. Hulle het aanspraak gemaak op tyd wat ek en my man met mekaar moes deurbring. En toe die kinders ook nog later bykom, was ek letterlik jaloers – hulle het ook my tyd gesteel. Mense is tyd-diewe, en mens-diewe – hulle steel doelbewus deur aandag te eis.

Die heel eerste keer wat ek ooit daaraan gedink het dat dit lekker sou wees om net weg te kom van alles was toe ons een Saterdag ’n bees geslag het. My man het die dier met sy geweer geskiet – tussen die oë. Ek was opnuut verstom om te sien hoe ’n grote os kan neerslaan dat die stof so staan. Geen weerstand om die val te keer nie, totaal ontspanne. Geen oënskynlike pyn nie, oombliklik weg van waar hy nou net was. Here, dit moet wonderlik wees om net so te kan wegraak….

Ek het vir jare geworstel, en net ek weet hoe diep die ellende is waardeur ek regtig gegaan het. My gesin het ook swaargekry, dit weet ek. Des te beter, dan help ek hulle ook as ek nou weggaan.

Die  geweer is vreemd in my hande, maar ek weet genoeg om myself te kan help.

In die hoenderhok sal ek alleen kan wees…
 

Na die Kortverhale vir 1999 se hoofblad