deur
M.C.
’n Storie is ’n wonderlike ding. Dis iets wat ’n lewe van sy eie het. Elke storie het sy eie karakter, afhangende van die verteller, natuurlik. Die een ding wat alle stories egter vir ons doen, is om ons te vermaak, terwyl sommige stories vir ons iets oor die lewe probeer vertel.
Wat was lekkerder, en meer opbouend, as om na stories van pa en ma se lewens te luister? En watter ander metode kon ’n boodskap oordra op ’n aangenamer, vriendeliker manier? Ek sal nooit die warmte en liefde vergeet van my klein-tyd se aande om die kombuistafel nie. Lesse wat ek as klein seuntjie daar geleer het, was nie as sodanig aangebied nie. My pa se wedervaringe uit sy jeug, dit waaraan ek nie deel kon hê nie, het hom vir my lewendig, bykans ’n held, gemaak. Uit sy lewe, selfs voordat ek daar was, het hy my iets van homself gegee, deur sy stories. En soveel van dit wat hy daar vir ons vertel het, het onbewustelik deel van my lewe geword.
Een van die mooiste stories wat ek ooit gehoor het, is nie ’n mooi storie nie. Dis ’n hartseer storie, om die waarheid te sê, maar dis een van daardie stories wat ek waarskynlik nooit sal vergeet nie. Die man oor wie hierdie storie vertel word, leef nie eers meer nie, maar sy verhaal het bly leef.
Hierdie storie het verskeie rolspelers, waarvan Arie en Magda die eerste twee is. Hoe hulle mekaar ontmoet het, verskil in beginsel seker nie veel van ander paartjies se liefdesverhale nie. Duisende mense ontmoet mekaar, almal op hulle eie unieke manier, en baie onthou die detail daarvan vir die res van hulle lewens. Ook goed so, want hulle kinders en kleinkinders sal hierdie stories eendag nodig hê as rigtingaanwysers.
Arie en Magda was nog albei studente toe hulle mekaar op ’n studentebyeenkoms raakgesien het. Hy het teologie geswot, sy medies. Hulle het lank gesleep, en eers klaar geswot voordat hulle getrou het. In die eerste jaar van hulle huwelik het hulle, soos die meeste van ons, met die minimum oor die weg moes kom. Junior-predikante en -dokters verdien nie baie geld nie, veral nie as studieskuld ook nog ’n rol speel nie.
Magda se pa was ’n boukontrakteur van beroep, maar een van die groter kontrakteurs wat Pretoria al gesien het. Sy projekte het meestal bestaan uit groot winkelkomplekse en staatsgeboue - die tipe kontrakte waarvan die meeste ander mense net droom. Oor jare heen het hy goeie verhoudinge opgebou met verskeie verskaffers van boumateriaal, waarvan die bekendste een ongetwyfeld Oom Sammy was.
Oom Sammy was ’n skatryk Jood wat staal verskaf het aan Magda se pa, en soos sy vinger alleen in ’n kasarm van ’n huis gewoon het. Die enigste en enkele dryfveer in Oom Sammy se lewe was geld. Hy het geld geleef, geslaap, geëet, en gedroom. Wanneer iets só belangrik word, skeep mens as ’n reël ander aspekte van jou lewe af. Oom Sammy het sy gesin afgeskeep. Soveel so, dat hy op daardie stadium alreeds vir twintig jaar geskei was. Sy kinders was groot en uit die huis uit, en wou hom nie regtig meer ken nie. Twee van hierdie kinders was in elk geval dwelmverslaafdes.
Omdat hy so alleen was, maar ook omdat hy ’n aangename mens was, het Oom Sammy later soos ’n familielid in die huis geword. Die aanvanklike besigheidsverhouding het ontwikkel tot ’n baie goeie vriendskap. Hy was gereeld genooi om by hulle te kuier. Arie het hom by Magda se ouers leer ken, en Oom Sammy was saam met Magda bly oor die oulike jong man wat sy ontmoet het. Hy was uit die aard van die saak ook op hulle troue gewees, Jood of te nie.
Daardie November, aan die einde van die eerste jaar van hulle huwelik - die jaar van min geld en baie liefde - het Arie ’n brief van Oom Sammy gekry. Aanvanklik het hy gedink dat dit ’n baie vroeë kerskaartjie kon wees, maar toe die koevert oop was, het hy ’n uitnodigingskaartjie daarin gekry. Oom Sammy het vir hom en Magda genooi om die hele Desembervakansie by sy huis in Jeffreysbaai deur te bring. Baie vriendelik van die oubaas, het Arie gedink, maar heeltemal onmoontlik om by te bring.
Sonder enige uitstel het hy daardie selfde dag nog vir Oom Sammy gebel, eerstens om hom te bedank vir die uitnodiging, maar veral om vir hom te sê dat dit totaal onmoontlik was om so ’n vakansie aan te durf in hulle benarde finansiële toestand. Hy het verduidelik dat hulle nog besig was om studieskuld af te betaal, en dat hulle eenvoudig nie so ’n vakansie kon bekostig nie.
Oom Sammy het vir Arie dadelik reggehelp deur hom daarop te wys dat dit hulle niks sou kos om in die huis te bly nie – hy bied die huis vir hulle gratis aan. Waarop Arie toe weer vir hom moes verduidelik dat dit nog steeds te duur vir hulle sou wees. Die huis mog miskien gratis wees, maar dit sou geld kos om daar te kom, en om kos te koop op Jeffreys oor Desember is moordend duur. Hulle het nie eers geld daarvoor gehad nie.
Miskien het Oom Sammy daarvan gehou om uitnodigings uit te rek, of anders het hy dalk aanvaar dat mense sekere dinge sou weet sonder dat hy dit verduidelik het, want sy volgende sin het vir Arie effens sonder woorde gelaat. Klaarblyklik het hy toe reeds vliegkaartjies vanaf Jan Smuts na P.E. toe vir hulle bespreek en betaal. Boonop was daar ook genoeg kos in die huis vir die hele Desember.
Effens ongemaklik oor die oordadige aanbod, en met feitlik geen verdere verweer nie, het Arie toe voor ’n ander probleem te staan gekom. Hulle planne vir Kersfees was reeds gefinaliseer. Die hele familie sou Oukersaand by Magda se ouers bymekaargekom het om te kuier. Kersdag sou hulle vir ’n kersete wéér daarheen gaan. Dit sou amper ondenkbaar wees dat hulle in Jeffreysbaai sou wees terwyl die res van die familie in Pretoria sit. Buitendien sou hulle nog steeds sonder vervoer gesit het in Jeffreys – as hulle daarheen vlieg het hulle nie ’n motor om mee rond te ry nie.
En toe gooi Oom Sammie die bom. Soos vir ’n kind, verduidelik hy toe vir Arie hoe hy die Desember beplan het.
Dit was nie net Arie en Magda wat genooi was vir die vakansie nie. Die héle familie was genooi om op Jeffreys te gaan vakansie hou – agt volwassenes altesaam. Almal se vliegkaartjies was reeds betaal, en vervoer vanaf P.E. na die vakansiehuis was ook reeds gereël. In die vakansiehuis se motorhuis was twee BMW’s wat tot hulle beskikking was. Brandstof kon ingegooi word met kaarte wat in die motors was. Voltydse personeel in die huis sou sorg vir voorbereiding van kos, asook algemene huistake soos skottelgoed was, beddens opmaak en klere was. ’n Hele maand se vakansie, totaal gratis.
Teen hierdie tyd was Arie nie net ongemaklik nie, maar ook baie agterdogtig. Niemand bied sonder rede ’n gratis vakansie vir agt mense aan nie, maak nie saak hoe ryk hy is nie. Hy vra toe vir Oom Sammy presies daardie vraag: Waar is die vangplek? Wat wil jy van ons hê as teenprestasie?
En die ryk man wat enige iets kon koop wat sy hart begeer, het geantwoord: “Kersaand, wanneer julle as ’n familie bymekaar is, wil ek graag saam met julle daar wees. Ek wil vir een keer in my lewe ook gelukkig wees saam met ’n familie. Dis al wat ek van julle vra”
Baie mense sal vir jou sê dat geld nie alles in die lewe is nie, maar dat die ding wat tweede kom, baie ver tweede kom. Ander mense sal vir jou sê dat hulle eers self sal wil uitvind of mens nie tog maar geluk met geld kan koop nie.
Oom Sammy se geloof dat geld geluk kan koop, het die teendeel bewys.
Na die Kortverhale vir 1999 se hoofblad
