Waar die ou krom wilgers se takke deur die water sleep, vloei die rivier breed en stil deur die Papegaaibos. 'n Ent verder versnel die stroom geleidelik, tot waar dit skuimend oor die rotse tuimel en in die swemgat stort. Dis hier waar Marina saam met haar ma en pa en al die ander seekoeie woon.
Elke oggend, terwyl die krokodilkinders oefen om babers te vang, wag Marina geduldig haar beurt af. Wanneer hulle pootuit uit die water kruip en steunend met hul vol pense 'n holte in die warmgebakte sand wikkel, gereed om 'n uiltjie te knip, gly sy grasieus, sonder om die weerkaatsings op die oppervlak te versteur, diep onder die koel water in.
Een van haar gunsteling onderwaterspeletjies is om op die rivierbodem op haar rug te lê en kyk hoe die waterhondjies bo-op die oppervlak baljaar. Deur die groen ligstrale kan mens sien hoe hulle bewegings krabbelpatroontjies op die water maak. Dan wens sy dat sy so lig soos 'n seepbel was, sodat sy saam met hulle op die water 'n dans kan dans, sonder om te sink. Soms knyp sy haar oë styf toe en draai in die rondte...totdat sy dronk in die kop boontoe moet dobber om asem te skep.
Die aand voor Marina se agtste verjaarsdag, toe al die diere lankal slaap, word sy skielik wakker. Dit is asof iemand haar naam vanuit die donker bos fluister...
Eers dink sy dat sy haar verbeel, of dat dit dalk 'n droom was. Maar dan sien sy 'n lang figuur stadig tussen die skadu's uit na haar toe aangestap kom.
"Moenie bang wees nie. Ek is die water-elf wat rivierkinders se drome ken."
Oor sy skouers hang 'n donkerblou mantel wat agter hom aan oor die riviersand sleep. Hy strek sy hand na haar toe uit. In die maanlig sien sy silwer vliese tussen sy vingers blink.
"Kom, ek wil jou iets wys," fluister hy en lei haar tussen die slapende seekoeie en krokodille deur na die rivier toe.
Met Marina aan die hand stap hy die water in. Maar in plaas van om te sink, bly hul voete op die oppervlak, asof die rivier 'n breë blou pad is waarop mens kan loop. Toe hul in die middel kom, haal die rivier-elf 'n kissie van onder sy mantel uit. Met sy lang vliesvingers maak hy dit oop en haal 'n silwer fluit daaruit. Hy bring dit na sy mond toe, en as hy begin speel, stroom die soetste klanke die naglug in.
Eers staar Marina stomgeslaan na die vreemde toneel wat voor haar oë afspeel. Dan besef sy: dis my droom hierdie...my droom om op die rivier te dans...
Sy roer haar voete, staan versigtig op die punte van haar tone, en as sy besef dat sy nie sink nie, begin sy te dans. Haar bewegings is eers styf en onseker, want dis half moeilik om te glo dat dit alles waar kan wees. Maar stadigaan begin sy ontspan, laat sy toe dat die musiek deur haar hele lyf stroom. Die note is eers meesleurend soos die asem van die wind deur die ou wilgers...dan verander dit geleidelik na die klanke van 'n kabbelende stroom...en eindig eindelik in 'n wilde dans, soos water wat versnel en in 'n waterval oor reuse rotse bruis.
Marina maak 'n finale buiging en strek dan haar arms na bo, sodat haar vingerpunte na die duisende sterre reik. So bly sy staan, uitasem, met 'n hart wat wild bons van opwinding.
Langsamerhand verbreek die krieke en paddas weer die stilte, hoor sy die nagdiere in verwondering fluister, asof hul bang is om die towerkrag wat soos die reuk van soet plante in die lug hang, te verbreek.
Dan voel sy 'n hand op haar skouer. "Veels geluk met jou verjaarsdag, my groot dogter!"
As sy opkyk, sien sy oor haar ma se skouer hoe die son op die water speel, daar waar sy 'n oomblik gelede saam met die rivier-elf was. Die krokodille baljaar reeds in die water, en die papegaaie raas in die digte bos.
Vir die res van haar verjaarsdag het Marina op haar rug in die swemgat rondgedobber, sonder om haar gedagtes met die nuuskierige forelle te deel. En vir baie lank hierna het sy elke nag, as almal reeds slaap, gelê en luister hoe die wind soos 'n lang blou mantel oor die riviersand sleep.
