In die ou pakkamer langs die huis vee Griet met die agterkant van haar hand haar ligte hare weg van haar voorkop af. Dan skuif sy die spieël teen die muur reguit en begin weer rakke regpak. Haar ouma loer by die deur in.
"Hoe vêr is my kind?"
"Nog net die laaste rak regpak, dan is die plek mooi netjies." Griet lig die hout trommeltjie van die vloer af op en plak hom op die rak neer.
"Stadig met daardie trommel, dis nog uit ouma-grootjie se dae." Haar ouma gee 'n ondeunde laggie.
Griet begin draai aan die sleutel van die trommetjie. Haar ouma jaag haar aan
"Toe, los nou eers! Ons gaan nou eet, jy weet dat Oupa knorrig raak as ek laat opskep."
Griet wag net dat haar ma se moeder, wat haar grootgemaak het, wegstap, toe lig sy die trommel se deksel op.
"Aai, dis pragtig!" prewel sy en steek haar hande tussen die saagsels in om die porselein lampie uit te haal.
'n Wit wolk verskyn dadelik, tollend totdat dit tot stilstand kom en die vorm aanneem van 'n man sonder 'n gesig en 'n rooi en wit geknoopte serp op sy kop.
"Wie's jy, is jy 'n gees?" roep sy angsbevange.
"Sies!" sidder die genie, " Gees, dit klink so... so... umm rillerig. My naam is Spokie."
Met groot oë staar sy na hom terwyl hy vooroor leun en in die muurspieël sy kopdoek regskuif. Hy praat weer:
"Eerstens, jy het twee wense, tweedens, het jy 'n dop, 'n ou raak droog in die keel waar ek vandaan kom."
"Hier's nie drank in die huis nie." snou sy hom toe.
"Sorry Doll, wou net weet, nou toe, wat is jou eerste bevel?"
Griet sluit haar oë vir 'n oomblik. Sy dink aan Manie, sy diep stem, sy lenige bou, dan roep sy uit:
"Manie de Villiers!"
"Watse goed?"
"Dis 'n ou oor wie ek dol is man, Manie is sy naam."
Teleurgesteld skud Spokie kop en sê, "Julle Chicks is ook almal dieselfde, plaas lat jy nou vir ewig wil lewe, dan kan ek ok nou 'n sosiale lewe begin lei, aai tog! In elke geval, 'Your wish is my command'."
Die weke het verbygegaan, Griet het naderhand 'n verskoning uitgedink om met Manie oor die foon te praat.
"Nou toe dis nou jou beurt om die volgende skuif te maak," het sy hardop gesê toe sy die gehoorbuis neersit.
Een laatmiddag het sy die houttrommeltjie in haar kamer ingesmokkel sodat haar ouma nie sou weet waarmee sy besig is nie. Sy het die lampie uitgehaal en hard gevryf daaraan. Spokie het met 'n gehoes en 'n geproes by die lampie uitgeborrel.
"Toe, nie so erg vryf nie, Doll. Wat is my tweede opdrag?" Hy skuif sy serp weer mooi regin die spieël.
"Tweede opdrag se voet, wat van my eerste?" vra sy ergerlik.
"Doll, jy moet sommer met die tweede opdrag geduld aanvra, ek sien jy het dit nodig. Die ou is van die kunstenaarsoort. Jy dink oorlat hy so stil is dat hy 'n engel is? Aikona, hy jol ok maar lekker! Hy hou even 'n meisie so dan en wan aan. Dan is daar nog die saak van sy pêlle Hy's bang as hy met jou deurmekaar raak, sal hy hulle moet opgee."
"Spokie stop net daar. Jy maak die ding heeltemaal te ingewikkeld klink." maan Griet.
"Nou wat wil jou nou eintlik hê?" vra hy.
"Ag Spokie ek wil hê hy moet my bel, vir my kom kuier en my vashou. Ek wil saam met hom op 'n sterre hemel dans." Haar gesig straal van verlief wees.
Spokie praat vinnig.
"Hokaai, dinge raak nou té erg." Hy vee die seet van sy voorkop af en vra "Het jy nie vir my 'n dop nie?"
Griet ignoreer hom. Hy loer weer vir homself in die spieël en skuif sy rooi serp reg.
"Wel Doll, dit was lekker om jou te ontmoet. Jy weet jy kan nog jou mind change en vir ewig saam met my lewe?"
"In daardie olie lamp, jy's seker laf!"
"Can't say I din't try, Cheers Doll."
Skaars het Spokie verlof geneem of die foon lui skril.
"Middag Griet." Manie praat vinnig, sy stem klink vir haar soos ryk warm sjokolade.
"Ek het gewonder of ons kan uitgaan?"
"Umm, wanneer Manie?"
"Sommer vir die res van jou lewe."
Dankie ou Spokie." laat Griet hoor.
"Skuus?" vra Manie.
"Dis sommer niks. Jy het my nou heeltemaal onkant gevang, maar dit klink goed. Dankie Manie."
