Die storie aan die begin
 
deur
Annelle Fourie
 
 
 
Een aand is sy oral oor my, en die volgende aand wil sy selfmoord pleeg. “Dink jy dis moeilik om dood te gaan?”, sal sy vra. En ek sal sê nee, ek dink nie so nie. “Dit hang net af”, sal ek sê.

Ons sit in die sitkamer, my en A. se sitkamer.  Sy sit op die een bank, ek sit op die mat en sy praat.  Sy sê sy onthou die rusies.  Die rusies, sê sy, was altyd daar.
“James”.
Sy sê dit en dan laat sak sy haar kop op haar hande.
“Dis net: die rusies tussen my ma en pa maak my dood”.
Die snaakse ding hiervan is dat haar pa dood is.  Maar sy sê sy het genoeg gehad.  Sy maak haar oë toe.
“Niemand kan so leef nie”, sê sy.
Dit laat my dink aan iets wat sy my eenkeer van haar ma-hulle vertel het.  Nou, dit is waaroor dit gaan. Ek dink rêrig dit is waaroor dit gaan: sy was reeds in die bed, toe sy haar ma-hulle een aand in hul kamer hoor baklei.
“God, Isolda”, het haar pa gesê, “wat wil jy nou weer hê?”
Haar ma het nie dadelik geantwoord nie.
“Het ek so oud geword, het ek so lelik geword?”, het sy na 'n rukkie gevra. “Ek was eens ‘n trotse vrou”, sê sy dan.
“Gee my net ‘n bietjie tyd”, het sy haar pa saggies hoor sê.
“Is dit hoe begeerte lyk?”, het haar ma gevra.
A. het my vertel sy onthou die deurmekaar geskreeuery op mekaar:  Jou bitterheid, Isolda.  Fok jou.  Die kind.  Dis al wat jy altyd sê: die kind.
En die stiltes.  Dan haar ma se stem:
“God, die eensaamheid, die nagte wat ek aan myself moes vat. Niemand kan so leef nie”, het haar ma gesê.
“Wat wil jy hê, Isolda?”.
Sy kon haar pa hoor opstaan van die bed af.
“Niemand kan so leef nie”, het haar ma hierdie keer harder gesê.
“Sagter, netnou hoor die kind jou”, het haar pa gesê.
“Laat haar hoor - sy moet leer”.
Weer was daar die stilte.  Sy het die stiltes onthou.
“Hierdie kamer was eens mooi.  Hier was liefde. Ons hande op mekaar - dís wat ek wil hê”.
“Jy weet nie wat jy wil hê nie”, het haar pa geantwoord.
“Jý weet nie wat ek wil hê nie.  Jy hét nog nooit geweet nie.  Nie aan die begin nie. Nie nou nie”.
En dis wat hy  volgende gesê het: “Miskien het ons te gewoond geraak aan mekaar.  Ons is te gewoond aan mekaar se liggame.  Miskien is dit dit”.
Dít, het A. gesê, is as kind in haar gemoed vasgebrand. Sy kon haar pa se woorde nooit vergeet nie. Ek onthou hoe sy my wakker gemaak het die oggend toe sy die eerste keer gedreig het om selfmoord te pleeg. Sy het daar op die mat gesit  en gesê ek is moeg vir haar. Dis wat sy gesê het.
 
En dis wat sy my nou vertel: na haar ma weer getroud is, het sy besef waaroor dit gaan. Van toe af kon sy haarself nooit weer heeltemal aan iemand gee nie. Gedryf deur haar ma se verraad, deur haar vrees, het sy gekies om te leef deur nie te leef nie.  Alles waaraan sy sou raak sou misluk. Die waarheid is  net - sy sou haar verhoudings met ander vernietig om haarself aan die einde terug te kon wen. Na haar ma weer getroud is, sê sy, het sy agtergekom die enigste manier hoe mense nie van haar sou weggaan nie, is as sy hulle kon besit.  Selfs na ek by haar ingetrek het, was sy nie seker van my liefde nie. Slegs as ons een was sou ek by haar bly.  Dis wat A. sê.  Sommige  oggende as ek moes gaan werk, sou sy my probeer terughou.  Sy sou haar liggaam  gebruik om my terug te trek na haar toe, weg van die ander.  As ek haar hieroor sou uitvra, sou sy dit toeskryf aan mood swings, maar wat sy werklik begeer het, sê sy, is iets heeltemal anders as hartstog;  sy wou my besit.  Wanneer sy my binne haar ontvang het, sou ek hare word; ek sou een word met haar. Sodra ek uit haar uitgegaan het, het ek weereens die vyand geword - iemand wat haar kon besit.

En dit is wat sy my nog vertel: deur op Liela verlief te raak, sê sy, kon sy hierdie mag breek.  Deur seks te hê met iemand anders, kon sy my vernietig, sê sy.  Ek het niks om te sê nie.  Daar is niks binne my nie.  Ek steek ‘n sigaret op en wonder hoekom sy my nou hierdie dinge vertel.  Sy vertel my van Liela se vrede, haar gesondheid.   Wat sy sê is dat Liela se vreugde haar die moontlikheid gebied het om haarself terug te wen van my af.  Maar dieselfde vreugde het dit onmoontlik vir A. gemaak om haar te kon behou.  Sy het besef dat sy nie haar geliefde Liela kon besit,  tensy sy nie haar persoonlikheid kon vernietig nie.  Sy het Liela toegelaat om haar met geskenke te oorlaai, maar niks teruggegee nie.  Die illusie van vrede het van Liela se gesig begin verdwyn: sy sou bly gee, maar niks terug ontvang nie.  Haar pa, wat dood is toe sy ses was, het  A. se skuiling geword.  Hy het bestaan, tog was hy net 'n mite.  Om een te kon word met hom moes sy liefhê soos hy liefgehad het.  Die enigste beeld wat sy van haarself  kon aanvaar, is een van haar wat bly ontvang, maar sonder dat iets werklik van haar weggevat word.

Alles was wonderlik die eerste paar maande of so, onthou ek nou.  Sy wou haarself nooit heeltemal naak aan my wys nie, maar ek kan onthou ek het nie werklik daarvoor omgegee nie.  Dit was in die eerste paar maande na ons getroud is, maar dit is waaraan ek nou dink. Voor ons seks gehad het, moes die ligte altyd eers afgeskakel word. Maar ek het gedink sy is wonderlik.  Toe, een oggend, wel, ek weet nie.  Een ding het tot 'n ander gelei, en ek het gesê ek wil haar naak sien. Ek het haar nagrok uitgetrek.
“James”, het sy gesê, “moenie simpel wees nie”.
Sy het die kombers oor haar gegooi en haar arms oor haar borste gevou.
“In elk geval”, het sy gesê, “hoekom sou jy dit wou doen?”.

Haar mood sou skielik verander.  Sy sou my vra of ek altyd  lief sou bly vir haar.
“Natuurlik”, het ek gesê.  “Jy is my meisie”.
“Is ek rêrig?”, sou sy vra.  “Is jy net vir my lief?”.
“Jip”, sou ek haar probeer verseker.
“Sal jy altyd vir my lief wees?”.
“Altyd”, sou ek weer probeer.
Maar sy was nooit tevrede nie.  Ek sou nou fyner begin oplet.  Daar was dinge wat ek wou sê, dinge om haar beter oor haar self te laat voel, sulke dinge.  Maar ek het geen benul gehad van wat besig was om te gebeur nie.  Die een oomblik sou ons seks hê, die volgende oomblik sou sy naak voor die venster gaan staan en sê dit maak haar dood. En ek sou sê: “Bella, dit kan nie so aangaan nie.  Dit moet ophou”, sou ek sê.  En dan sou sy begin huil, en ek sou haar probeer vashou, maar sy sou my net hierdie kyk gee.  En dan sou sy sê: “Hoekom fok-off jy nie net nie”, sou sy sê. “God, los my net uit ”.
 

Maar ook dit sou verbygaan.  Dinge sou hierna om een of ander rede begin verander.  Ek sou my oë in die oggend oopmaak en sy sou daar lê sonder 'n draad klere aan haar lyf.  Die ding is net - sy sou ten volle gegrimeer wees.
En dis wat ek haar nou vra. “Bellabok”, vra ek, “hoekom al die grimering as ons seks het?”.
En wat sy sê maak sin.  Wat sy sê is dit: sy sou haarself bedek met hierdie masker, voor wat sy gevoel het die moontlikheid geskep het vir my om gewoond te raak aan haar liggaam.  My liggaam het díe van haar pa geword. Enige iets wat ek dan sou sê oor haar liggaam, sou haar nie raak nie. Wat oorgebly het, was hierdie masker, wat sy kon afhaal as ek sou moeg word vir haar liggaam.  En dan kon sy sê: “Dit was nie ek nie”.

“My pa was al die jare impotent”, sê A. nou.
Sy staan van die bank af op, en gaan gooi vir haarself 'n drankie in.
“My ma het dit eers 'n jaar na sy dood uitgevind”.
Ek vat aan haar been om vir haar te wys alles gaan okay wees. En ek veronderstel alles gáán okay wees.
“James”, sê sy.
“Bella?”.
 Ek wag vir haar om iets te sê.
“Dis die storie. Die ding is net dat ek aan die einde van die storie gekom het.  Ek wil nie meer seks hê met die dooies nie”.

Ten spyte van alles, ten spyte daarvan dat ek weet wat alles op ons wag, sit ek my arm om haar.  Ons sit daar.  Ons hou mekaar vas en leuen teen mekaar vir ‘n oomblik.  En ons hou mekaar vas.

 

 

Na Alternatiewe Blaaie