Een aand is sy oral oor my, en die volgende aand wil sy selfmoord pleeg.
Ons sit in die sitkamer, my en A. se sitkamer. Sy sit op die een bank, ek sit op die mat en sy praat. Sy sê sy onthou die rusies. Die rusies, sê sy, was altyd daar.
"James."
Sy sê dit en dan laat sak sy haar kop op haar hande.
"Dis net: die rusies tussen my ma en pa maak my dood."
Die snaakse ding hiervan is dat haar pa dood is. Maar sy sê sy het genoeg gehad. Sy maak haar oë toe.
"Niemand kan so leef nie," sê sy.
Dit laat my dink aan iets wat sy my eenkeer van haar ma-hulle vertel het. Sy was reeds in die bed, toe sy haar ma-hulle een aand in hul kamer hoor baklei.
"God, Isolda," het haar pa gesê, "wat wil jy nou weer hê?"
Haar ma het nie dadelik geantwoord nie.
"Het ek so oud geword, het ek so lelik geword?" het sy na 'n rukkie gevra.
"Gee my net n bietjie tyd," het sy haar pa saggies hoor sê.
"Dis mooi", het haar ma gesê," - maar jy is nooit gereed nie".
A. het my vertel sy onthou die deurmekaar geskreeuery op mekaar: Jou bitterheid, Isolda. Fok jou. Die kind. Dis al wat jy altyd sê: die kind. En die stiltes. Dan haar ma se stem:
"God, die eensaamheid, die nagte wat ek aan myself moes vat. Niemand kan so leef nie," het haar ma gesê.
"Wat wil jy hê, Isolda?" Sy kon haar pa hoor opstaan van die bed af.
"Niemand kan so leef nie," het haar ma hierdie keer harder gesê.
"Sagter, netnou hoor die kind jou," het haar pa gesê.
"Laat haar hoor - sy moet leer."
Weer was daar die stilte. Sy het die stiltes onthou.
"Hierdie kamer was eens mooi. Hier was liefde. Ons hande op mekaar - dís wat ek wil hê."
"Jy weet nie wat jy wil hê nie," het haar pa geantwoord.
"Jy weet nie wat ek wil hê nie. Jy het nog nooit geweet nie. Nie aan die begin nie. Nie nou nie."
En dis wat hy volgende gesê het: "Miskien het ons te gewoond geraak aan mekaar. Aan mekaar se liggame. Jy weet - na twaalf jaar?"
Dít, het A. gesê, is as kind in haar gemoed vasgebrand. Sy kon haar pa se woorde nooit vergeet nie.
Nie een keer in die eerste jaar na hulle getroud is, het sy haarself heeltemal naak aan my gewys nie. Voor ons seks gehad het, moes die ligte altyd eers afgeskakel word. Alles was reg gewees vir een jaar. Toe, een oggend, wel, ek weet nie. Een ding het tot 'n ander gelei, en ek het gesê ek wil haar naak sien. Ek het haar nagrok uitgetrek.
"James," het sy gesê, "moenie simpel wees nie." Sy het die kombers oor haar gegooi en haar arms oor haar borste gevou. "In elk geval," het sy gesê, "hoekom sou jy dit wou doen?"
Hierna sou dinge begin verander. Ek sou my oë in die oggend oopmaak en sy sou daar lê sonder 'n draad klere aan haar lyf. Die ding is net - sy sou ten volle gegrimeer wees. En dis wat ek haar nou vra.
"Bellabok," vra ek, "hoekom al die grimering as ons seks het?"
En wat sy sê maak sin. Wat sy sê is dit: sy sou haarself bedek met hierdie masker, voor wat sy gevoel het die moontlikheid geskep het vir my om gewoond te raak aan haar liggaam. My liggaam het díe van haar pa geword. Enige iets wat ek dan sou sê oor haar liggaam, sou haar nie raak nie. Wat oorgebly het, was hierdie masker, wat sy kon afhaal as ek sou moeg word vir haar liggaam. En dan kon sy sê: "Dit was nie ek nie."
Ek sou nou fyner begin oplet. Daar was dinge wat ek wou sê, dinge om haar beter oor haar self te laat voel, sulke dinge. Maar ek het geen benul gehad van wat besig was om te gebeur nie. Die een oomblik sou ons seks hê, die volgende oomblik sou sy naak voor die venster gaan staan en sê dit maak haar dood.
"My pa was al die jare impotent," se A. nou. Sy staan van die bank af op, en gaan gooi vir haarself 'n drankie in.
"My ma het dit eers 'n jaar voor sy dood uitgevind."
Ek het niks om te sê nie. Ek drink my vodka en weet niks gaan ooit weer dieselfde wees nie.
"James," sê sy.
"Bella?"
Ek wag vir haar om iets te sê.
