Op hierdie blad kies ek 'n gedig wat vir my daardie "iets" het wat my dit weer en weer laat lees. Daardie iets is nie noodwendig verwoordbaar of definieerbaar nie en die bedoeling is nie om 'n akademiese mening uit te spreek nie, maar om my persoonlike waardering te toon vir 'n spesifieke gedig. Lewer gerus kommentaar, direk aan my of aan die skrywer.
deel een
hier's 'n span wat hul verkoopsvernuf uithaal:
nee dankie, ek's nie honger nie
ek het nie kitsgom nodig nie
my girlfriend koop haar eie blomme
en hou jou pamflette vir jouself!
so jy's honger? soek werk!
drie kinders en 'n swanger vrou? dra 'n
kondoom
god bless? wel dankie
too bad, daar slaat die robot groen
maar hier's my toebroodjies, gou!
my appel gaan ek hou.
deel twee
rooi robotte is te kort vir meditasie.
hulle hou jou net lank genoeg daar
om posters en advertensieborde te kan
lees. motoriste kyk nie vir mekaar
by rooi robotte nie, hulle is soos atlete
in wegspringblokke, opponente
maar tog ordentlik. maar wag, daar vang
ek jou tog! jy't skalks vir haar
gekyk, gewonder hoe haar kar ruik en wat
haar selfoonnommer is. en watter
liedjie wat nou oor haar motorradio speel
sy saam mee neurie. as julle
saam wegtrek probeer jy haar nommerplaat
memoriseer, eintlik vergeefs,
maar toemaar, die volgende rooi robot
is reeds aan't naderkom.
deel drie
skemer by 'n rooi robot. aan my linkerkant
is 'n begraafplaas. dis 'n ou
een, daar lê hensoppers begrawe.
en 'n kleinneef van paul kruger. as ek
lank genoeg hier staan, eindig ek dalk
tussen hulle, dink ek. in die
begraafplaas se parkeerarea staan 'n ry
blink insleepvoertuie en wag vir
die nag se prooi. agter my probeer 'n
ambulans deur die verkeer druk om
oor die rooi robot te ry sodat hulle iemand
kan gaan red. iemand bel op my
selfoon en vra: is jy besig? ek sê
nee, ek trek net gou hier by die
begraafplaas in dan gesels ons.