.
Deur kommentaar oor 'n verhaal te lewer nadat
jy dit gelees het, sal jy nie alleen die skrywer help nie, maar ook vir
ons help om uit te vind waarvan jy hou. Hierdie tuisblad is daar vir
almal om by te baat...
Wit soos skape
Die antwoorde is nêrens te vind nie
Die oplossings is onoplosbaar
En tog saai Radio Tygerberg dit op F.M. uit
vanuit 'n vergete winkelsentrum
Waar begin die lewe
in Amerika of in Pakistan?
Waarom word my werk
uit tydskrifte verban?
Waar hoort die mens?
Is dit so bedoel
dat ons tussen strate deur krioel?
Waar kry die bedelaar
kos vir sy honger pens?
Sal ons ooit ons wasgoedpennetjies terugvind?
Ooit ontsnap van die visioene
wat ons soos haaie agtervolg?
Kan daar lewe wees op Jupiter?
Hou Marsmanne ook van bier?
Sit hulle ook met die vraagstuk:
Wat maak ons nou eintlik hier?
Tronksel
'n Vuil hand groet
vanuit 'n spleet in die gordyn
Êrens sit F.M. met sy H.O.B.
en drink die bloed van 'n konyn
Wat 'n belaglike insinuasie
is dit nie?
Al hierdie oorloë
vir wie?
Al daardie nagte in hospitaalgange
Duisende dossiere van verlange
Bêre dit maar
in my aktetas van onblusbare drange
Nog 'n dominie sonder 'n kerk
Nog 'n huis met geen grasperk
Iewers lê 'n boemelaar
en vrek
Massyn
Pie
Wange
Sterk
Ek sit hier en alles uitwerk
Oorkant die Jordaan
Ons sal moet dink, ek en jy Connie
Oor waar ons op hierdie aarde staan
Jy vind jou plesier by Moabitiese mans
En ek dra 'n verslete foto
In my rugsak rond
Ons is hees
Ons
is wees
Ons is albei
Noord-Libanees
Tastend bly ons soek na mense in winkelvensters
Onseker en weerloos oor wat die toekoms inhou
Elke tree wat ons gee in angs
Elke brokkie hoop slegs 'n lugspieëling
Ons is dorre swerwerssmagtend na die see
Brittanje is vol verwers
wat niks vir ons wil gee
Ons is hees
Ons
is wees
En ons sal albei
Ons koppe moet laat lees
Parys is 'n paddastoel in Maart
Ons drome lê versprei op 'n wêreldkaart