GEDIGTE VIR 1998
.
.
LYS VAN DIGTERS
.
Deur kommentaar oor 'n gedig te lewer
nadat jy dit gelees het, sal jy nie alleen die digter help nie, maar ook
vir ons help om uit te vind waarvan jy hou. Hierdie tuisblad is daar vir
almal om by te baat...
.
Na
Skrywers-Indaba se hoofblad
.
.
.
.
.
ERIKA OSCHE
blom
draai jou kop dié kant toe
kyk 'n bietjie ver
kyk 'n bietjie diep
skoffel tussen die ontkenning
trek al die verplasing uit
miskien sal jy die tuin
wat jy soek
op die maan
onverwags naby jou vind
as jy dan dié tuin ontdek
sal ek ook vir jou blom
koordloos
(sy het die koordlose foon aangedra)
wat is Liewe Jesus se nommer?
ek wil gou-gou
bietjie met my mamma praat
Here, waar kry ek 'n bietjie salf
vir 'n driejarige se seer gemis?
en weet U dalk
waar het ek laas
die doos tissues gesit?
(ek is besig om hooikoors te kry
voor ek verduidelik
U sal sonder telefoon
'n boodskap aan mamma oordra)
.
.
.
.
ERIKA HUMAN
My eie
Wolk voor die son,
sou vlieg as ek net kon.
Golf oor die strand,
'n son wat fel neerbrand.
Trein oor 'n spoor,
kan hom van ver af hoor.
Pad na my hart
nie van teerpad se swart.
Veld vol van blomme
daar eensaam deur kromme.
'n Gebed vir die ware Lewe
U is my krag en my vrede,
deur my hele lewe.
Rig my lewe soos U wil
en maak my in aanvaarding stil.
U bly altyd getrou
'n fondament om op te bou.
Gee my geduld om te wag op U.
Ek wil nie my eie kop volg nie.
Nou kan ek waarlik lewe,
my hele lewe oorgegewe.
Amen.
.
.
.
.
VYG FYNBOS
Oor die digter: Vyg Fynbos is 'n Kapenaar en woon tans tydelik in Thailand.
kortsluiting
omhels met weelde so materialisties
luuks en sag die aardse kussing
ek klop aan jou hartsdeur
maar daar is geen antwoord
net die echo van my liefdeskrete
rond loop my kop, my kop so bont
jy staan sterk vierkantig gepanser
jy neutraliseer my by voorbaat
logiese elektromagnetiese chemiese
neurospigiese data masjeer
dit masjeer rats rond in jou brein
en vloei perfek korrek uit jou mond
en slaan teen my krom kreatiewe
waansin soos n blou laserstraal
my teenreaksie spontaan emosioneel
kru afkrakend, n kortsluiting in die stroom
en dan wanneer die vonke spatter en spitter
sit ons elk eensaam en bitter
want dit is eintlik waaroor alles gaan
die onsettende aaneenhoudende eensaamheid
verwronge soektogte na liefde
getwis en geknoop in varieteit
nee, aanvaar dit, ek is nie soos jy nie
ek praat en skryf en dink nie soos jy nie
ek pas nie in die voorafgemete pasvorm nie
al druk en trek jy, al knip en skeur jy my
tog penetreer jy my in warm omhelsing
dan is ons een, dan is ons een
en wanneer ons knus en veilig verlig
rustig en verlief in omhelsing rus
wonder ek weer oor alles en besef
daar is geeneen vir my, as jy !
koggelmannetjie
staan maar daar en loer
so onderdeur jou bril
jou hande parmantig
oor jou bors gevou
die deurkosyn leun teen jou rug
jou lang bene skuins
daar op jou voorkop
staan jou aar, dik van dink
dan praat jy so ernstig
ek wil jou net gryp
styf vasdruk
en vuurwarm vry
koggel jy my ?
as jy so voor my lewe
ek kan die nie vat nie
jy is tog te man
jy vir wie ek liefhet
ken jy my ?
ek dink nie so nie
maar dit maak nie saak nie
megapyn
gedurende die nag het die duiwels
om my siel gejag, om my pyn gelag
verkrag my
verderf my
vat my siel huistoe
matrix toe
hang my aan my nek in n baudboom
laat my sterf van byte en dos
voed my vlees aan die netwerk
die aasvoëls, die hackers
bekleed my in n modem van spoed
sit in my hand n kaart
die kaart wat kleur en render
en laat ek suip uit die beker
die beker van sede, onrede
lê my neer op n bed van java
sodat ek in alle ewigheid
die hitte en snikke omhels
demoniese denke geskenke
pyn, pyn, gee lekker cocaine
wyn, wyn, o got ek is insane
data weergalm deur my brein
tyd is die drein, die drein, die drein
waarin ek verdwyn, dwyn, kwyn, kwyn..
Dis 'n Basie Boink!
ritmes rittelbit
data skeur
pakkies deur
die kuberrit
BOINK !!
en hier lê my pos op jou lessenaar
..
dankie vir die toejuiging, ek praaaan !
vlerkloos
sonder vlerk vlieg ons radeloos
swak en verskrik in ons verskalking
steeds flikker die sterre
kom, kom na die kosmiese kermis
mensdom krioel, swanger en broos
eensaam en bitter die aardstoring
kripkinders van die verre
volgelinge van die hemelse fanatikus
beset
soos 'n techno hoer sit ek
voor my rekenaar
en 'n probeer 'n lyn kry
..dis beset
.ek kannie deurkom nie
..dis beset
...
ek probeer weer.
..dis beset
..nee .
nog steeds
beset..!
ek sukkel gereeld
dis of die krag,
of "n dooie telefoonlyn,
met ISP se probleme
daarby....
....
so,
nou
probeer ek maar weer !
..dis beset ...
.
.
.
.
DIRK KOK
VINCENT
die dagnag braak bitter
uit die sonmaan se mond
geel gal
op die eensame sypad
& stroom draderig
die rossige waterlope in
dan weer
word galbitter
son & maan
nogeens
'n soet iris-skilderbord
.
.
.
.
SEAN AUCAMP
ongeneeslik
ongeneeslik stap die man verby
plastiek sak as skuiling
flenter klere
kleurloos
kop feitlik gesak in skaamte
oe wat loer-loer na jou kyk
diep asemhaling...stink asemhaling
bedelbord op sy bors gehang
verweer en verwaarloos
vigs
help my
skares drom verby
kyk en draai op 'n afstand
"god! kyk die man"
ongeluk of lus
was die man dan onbewus
wat die kondoomlose samelewing deesdae
inbring
laat vanaand in die donker
soek hy skuiling
draf-stap deur rosebank
oë wat moeg-moeg na jou kyk
dieper asemhaling...sinker asemhaling
VIGS
HELP MY
simbole
simbole van geel en groen
wat glinster in my oë
ek loer verwonderd na die buitekant
griffel iets neer in die sand
toer na die boonste ruimte en luister
ek luister na wat my hart wil sê
dit gons en klingel
niks
niemand
geen mens vat wat myne is nie
fonteine sprakkel lewend voor
'n monumentele triomf
die skares giggel oor my
voor my
by my
praat my hart!
sê my wat jy voel
'n warboel van onbeende gedagtes
wat ongeluk bring val
gedurig voor my in die pad
kompas my
blaas my in die regte gedagte
tik die woorde een vir een
op my lippe uit
my tweeling wag op die antwoord
lafaard!
wat voel ek eintlik
kadawerig stap ek rond
vroetel tydsaam aan als wat voor my staan
bruisend vloei my bloed as my idees
verdwyn en die hemels op my wil neersak
skadus vou my vas
geruisloos druk die maanlig my laaste
greintjie asem uit
smag na die son wat woedend skyn
red die siele van vroee dae
wat dwaal in die spore van hul
eie vingerafdrukke
"Ag jirre, wat moet ek doen?"
-erotikus-
morpheus, god van drome, seun van slaap
jy't gekom
ingedring deur my are opgeneem in my bloed
en besit geneem van my hart en verstand
vlesig soet sensasie
van
keramiek en porselein
verstand van albert einstein
jou sweet...
die soetste wyn
seun van 'n blom, jy gee 'n paradys
'n skemeraand sonder sorge
'n wereld sonder woorde
jou hande streel en koester
jy verlig al my pyn
ritmeloos sweef jy oor die water
hygend blaas jy lig terwyl die skare
emosieloos toekyk
verlei jy die onskuld
bedreig die goeie natuur
EROTIKUS...erotica
die sensual maize
-seks met 'n man-
ek wonder steeds waar my gedagtes vandaan
kom
my emosies wat ek elke dag beleef
die wete dat nog 'n man sy verskyning kan
maak
'n onbekende gesig tuur na my
uitnodigend roep sy liggaam my nader
g'n huiwering skiet deur my are en
ek woel my deur die mensepoel tot in sy nabyheid
ek voel die adrenalien pomp
klop...klop...klop...klop
skielik voel dit of die aarde begin wentel
my liggaam smag na sy aanraking
my vingers vryf pynloos oor my bors wat ek
stadig ontbloot
sy oe brand teen my lyf vas
ek voel elke greintjie asem teeen my nek
sy vingers onderneem 'n reis van ontdekking
oor my liggaam wat beweegloos staan
dit spreek vanself in die stilte
moeg sak ek tot die grond
net my gewete weet wat volgende gaan gebeur
elke oomblik van raak voel soos 'n ewigheid
sy grootheid word met my verenig
in die mees eksplisiete maniere
die ekstase hou nie op nie
geen dwelm kan die gevoel vervang nie
ek sien nie weer die gesig nie
net 'n donker prentjie bly in my gedagtes
gevang
die volgende john doe wag al voor my deur
nog 'n uitnodiging
nog seks **
.
.
.
.
JOHAN HORN
Somer
Die jaar dra 'n somersrok
van cirrus en stratus
met hier en daar
- net om te spog -
'n cumulusblom wat
blou soos 'n krismisroos
oor die skemersee kom
Etsings
Ek het deur die Colgate-reuk wolkie oor my
kop
na jou gekyk
en gesien hoe die maan soos
die vinger van 'n skilder
deur die raam aan
die rand van jou oorskulp raak...
in die gleuf tussen kop en nek verdwyn
en in die ligste geel, stuifmeel lig
die kunstige lyn van jou kaak en ken bereik
Netnou was ons
een
soos slurpe verstrengel
arms en bene patroonloos geweef
Nou in die stilte as
die donker dig teen my weeg
wonder ek maar net oor ons twee.
Aan Mari
Partykeer kry ek in my pos
(dig verpak in reëls en verse)
bondeltjies woordfotos
waarin seeblou, en songeel beelde
kleur kom gee
aan ampers vergete dele van my lewe
en soms as die smog soos reuse hande
teen my oë druk
was jou woorde
met elke vers die lense skoon
ontsmet hul diep onder elke roof.
Fucked-up
In die stupid fucked-up huis
staan die kruise nou
12, nee 13 jaar oud,
lê die bloedspoor van die wonde
ingevlek in die donker oë
saamgevleg met die skel en swets
ingebrand in `n swart aptyt
vir somber doelose drome.
word die leuen oombliklik
waar gelieg
Skyn die son van God
elke oomblik buite
rondom die vloekswart koue ets
van nog `n stupid fucked-up huis
Kersfees in die Global Village
Dis Kersfees hier my God
maar al reik die vreugde stede wyd
pyl die kersboom weg,
dat selfs die saxofoon
- wat uit die lee stee tussen flats -
in sharps en minors u belei,
nie verder as die dronk rumoer
van ons showpiece skeppings
reik nie
Business as usual
Dis Christmas meneer, en hier by ons
is dit persente uitdeel en koop en jol
dis tyd om te share,
om met 'n vol glas wat,
soos 'n vrat aan jou hand sit,
aan 'n skaars, handgerolde zol te suig.
"A time for caring" pleit die TV
"gee meer as wat jy kry",
enigiets om die money game
- met jou brandy en coke -
aan die gang te kry ...
Happy ...
happy Xmas almal
kom join die fun
want die genuine fees kóm nog ...
dis Nuwejaar.
.
.
.
.
MARNA-MARIE STRAUSS
DOWWE HOUT
Woes klop wit skuim
teen mosbedekte Rots…
Vastigheid !
Uurglas gly leeg
Maan groei voller
Vae oë narstiglik - wolflik
Glinster na donker maan
leë sonsopkoms,
bome..suisend-wuiwende
stom..starend.
Broeiende storm
glim donker - donderend
vêr in die ooste…
Duisende grys mak duiwe
bedel brood krummels
laat middag - uil knip
op warm gebakte plaveisel.
Blink glinster teen dowee hout.
'n doods kleur - dog glinsterend.
AAN 'N MOEDER
Die sprankel in my elke dag
die' lied in my lewe
Ma, verstaan my, lief my,
sorg na my…altyd.
Ma se liefde vul my tot bo !
Die mensie in my denke
as ek opstaan, die vreugde
in my hart as ek my kop neerlê.
Vir ma sal ek die wêreld
versit, vir U sal ek
my lewe sonder twyfel gee.
Ma is my blou lug in elke môre
motreën lank na middernag…wat daai
salligheid in my binneste laat weergalm.
Ma breek son deur elk donker wolk
U is die enigste wat my lewe van
probleme verlig.
My, rolmodel, my beste vriendin.
my grootste kommer…U welsyn,
lewe, ma se liefde.
Ma plaas sterre in my onweersnagte..
Meer as wat enig digter ooit kan sê…het
ek ma lief.
AFRIKA
Soos 'n groot Beeld
troon jy trots.
Moeder van baie !
Tog was jy net 'n swart
donker ongekende land…
onontdek…..ongeskaad.
Jy het alleen gebly…
Net jou wildernis en jy.
Al die sonsondergangs
laat nagte…
Die wilde vreemde
dit was Jy…
Nou het jy inwoners
gekry.
Jou bewoners veg
baklei onderlangs
brand - breek af.
Dit was eendag lank
terug alles Joune alleen.
Jy sug en kyk
na die donker blou
wat jou met liefde omgolf.
Afrika - ons bang jou
Jy gaan wraak neem -
hoe sal ons ooit weet
hoe lank nog ?
.
.
.
.
SHAWN THOMPSON
MAN VAN KLEUR
Niemand hoor en niemand sien,
ek waai en skreeu so hard ek wil.
Maar met my bruin vel en my taal
bly ek tog so invisible.
Ek issie swart, ek issie wit
so inbetween net neergegooi.
Sonder naam en sonder land
'n hotnot, coloured, of lately... sommer
koi.
Dis mos nou fashion om swart te wees,
hoe donkerder hoe beter, with no lighter
shade.
Maar ek is uitgelos uit die victory march
-
my gat nie swart genoeg vir die parade.
Die boer met sy kla oor 'n eie volk,
die ingelse se high and mighty hoity doi,
vir hulle bly my vrou 'n meid, en ek maar
'n boy.
Maar my bloed is gemeng hier in Afrika,
my vel die kleur van Kalahari grond -
my trots so hoog soos Tafelberg,
en die mooiste taal, die rol in my mond.
Dis al praat wat my siel nou ken,
'n Afrika-taal soos geen ander.
Nou vra ek jou, met geen hoogmoed -
wie is die regte Afrikander?
.
.
.
.
JOHAN SMIT
Daai vrou
my asem sou kontoere trek
oor jou vrugbare vel
en die pantser teen oorgawe
onder my tong laat smelt
jou lyf sou stry teen sedisie,
en die vingers, tong en palm
van 'n man
wat wou.
Ons sweet en asem
kon dalk smelt en meng
in die skemer van een kers
kon ons mekaar soos in die bybel leer ken
INSPIT
Denneplank en toue
gebeitelde graniet
altyd die lang bome
en 'n ou bekende lied
Bly by my Heer
daar is geelrys in die bak
op die stoep sug die ou mans
Ja...ons bos word uitgekap
maak nie saak wat jy doen nie
of jy neem en of jy gee
die afstand na die graf
is lankal afgetreë
Maak nie saak wat jy doen nie
of jy deel en of jy buit
die klok in die huis
tik die donker ure uit.
.
.
.
.
JOOSTE VERMEULEN
KAGGEL
as ek eensaam voel
en die leegheid in my oorloop
en die hartseer saam my opstaan
en die liefde vir my wegloop
Bou vir my Œn kaggeltjie
met liefdesvuur se reinheid
stuur aan my die warmte
en bemaak aan my die vryheid
as ek eensaam voel
en die stilte in my hart drom
en die oorlog in my kop praat
en sagmoedigheid in my afstomp
Bou vir my Œn kaggeltjie
met liefdesvuur se reinheid
stuur aan my die warmte
en bemaak aan my die vryheid
saam met jou was alles heel
bekoorlike oomblike het liefde gestreel
ure-lose-aande, vir ewig, soms vir maande
saam met jou was alles mooi
maar te laat, alles is nou verstrooi.
VOEL
Sal jy ooit weet
dat mens nooit
die pyn vergeet
wat knaend knou
en binne vreet
wie sal betaal
dit wat jy opsaal
is tyd die brug
vir soete liefde se sig
Kom, vee af die wonde
Gou, Groot Grys
Kom, omvou die pyn
in ewige stonde
Ek is die gêk
Om te dink
iemand kuier
in my lêplek
my lêplek
Dis wat ek dink
dit laat my sink
wie sal weet
hoe die waarheid steek
ek is die kos
daardie naarheid
wil my nie los
almal lag
almal weet
net ek het die mag
maar die krag ontbreek
maar steeds bly ek die gêk
en nog steeds bly ek die gêk
vir almal bly ek die gêk
Almal weet
ek is die GêK!
.
.
.
.
DANIE JORDAAN
woord
sê nou
dat waar heiliges
'n plek vind aan sy voete
om te luister na die woord
ek ook
'n plekkie kry
sou ek dan miskien ek wonder
in lere en in sleutels
wat kruis en mol vertoon
kon rympies uit my pen laat dans
om diep rentmeesterdialek
sommer lig te dig
daar waar alle vrees vir yk
vertaal word in wat na wierook ruik
.
.
.
.
JACO VAN TONDER
Rooi April
dis nou al 4 jaar in die herinnering
dat my volk tot 'n val gekom het
die misère van derduisende burgers
kon haar nie besiel tot verset
maar ons geloof sal skitter
as ons toekoms onnaspeurbaar is
in 'n skynsel rooi...
in onbekende Ðe van ons harte
ure aaneen spartel ek
om ons kongruensie te bewys
want dis 'n soektog tussen lyne
en punte op 'n sirkel
maar ek weet in onbekende Ðe van ons
harte
is die antwoord op ons toekoms
en hoekoms
.
.
.
.
KAILASH CHETTY
Nòg vis, nòg vlees
Ek staan op die punt van volwassenheid
op die punt van menswees:
Watter kant toe moet ek val?
Ek onthou my ma met haar krulletjies onder
haar rooi kopdoek
Die klein kroes krulletjies van die een voorvader;
die heuning-geel kleur van die ander -
altyd onder die doek...
Elke dag.
Nooit uitgesteek nie, veral omdat Pa s'n
blink-swart was, sonder enige letsel.
My ma was vol warmte;
sy het altyd haar beste gegee.
Ek onthou hoe ek voor die spieël gestaan
het
daardie dag. Hoe sy na my pikswart krulle
en
my fyn dun Indiërneus gestaar het.
"Seenchie," sê sy, "jy's nes jou pa!"
"Nee Ma!"
Maar ek weet:
My pikswart hare was vol kaffer-krulle
en onder my fyn Asiërneus was my lippe
vol
dik
rond.
"Nee, Mamma, ek's niemand nie ..."
.
.
.
.
SUSAN VAN VUUREN
Herinnering
Ek wil jou blomkool-bejaarde oor
knibbel met my passielose kunsgebit;
my blaarbeaarde hande om jou lewens gesig
skulp;
jou kaktus growwe ken voel krap
teen my ingekrimpte borste
Ek wil dofoor-vals uitbundig
in harmonie met jou blêr-vibrato stem
Sondag vir Sondag
toe-oog-oorvloedig ons God vereer
Ek wil kniel
knopheup aan knopheup
vlekbruin hand in vlekbruin hand
en ootmoedig tranerig dankie sê vir
jou
Eendag my Lief
- as ons tagtig is (ouer) is -
wil ek digby jou lewe
en sien hoe jou groenblou goudspikkels-oë
- klein-klein tussen krakie-padkaarte van
lag -
grys word van herinnering
.
.
.
.
JO' VAN TONDER
Geluk
Ek het my longe leeggeskree:
my noodkreet het stil geword toe die engel
dit
betekenisvol en met 'n glimlag
saggies in my gekreukelde vuisie toevou
Ek het daaraan gesuig
toe't ek dit agter my aangetou
ek het dit saam met my kosblik in my tas
gegooi
ingepak koshuis toe
En op die baan laat lê saam met my
nagnat tekkies
vakansies het dit gerus in my deurmekaar
hangkas
tussen poppe, jeans en liefdes briewe ...
Nou kan ek dit vasdruk, knus omhels,
Ek kan dit saai in 'n boog
poetsblink uitstal
of druipend oor my hoof laat stort
Ek kan tot daarin, draai en dans en wiel
en warrel
as dit vlokkend
om my dwarrel en sweef.
Ek kan gelukkig wees
die lewe laggend en luid toeroep
Maar dit stroop in toue deur my vingers
en glip gladweg uit my greep
as ek my vuis versigtig oopvou
dan vlieg dit
weg
.
.
.
.
HENDRI ROBERTS
Die laaste Boer
Hy sit op die stoep oor vlaktes en loer
op sy kop 'n leerhoed
in sy hand 'n pyp
gestop met twak.
Hy dra vellies aan sy voete
Hy gesels oor de Wet, de La Rey en Cronje
Teen sy muur hang Paul Kruger
en die Monument in kleur.
In die agtergrond speel "Boer in Beton"
Hy sing instemmend saam
en neem 'n trek aan sy pyp
en dink t'rug in tyd.
Hy sit op die stoep oor vlaktes en loer
op sy kop 'n leerhoed
in sy hand 'n pyp
gestop met twak.
Is hy die laaste Boer?
.
.
.
.
ANNA
Sindroom
My bed het sagter begin lê
Ek't begin glo ek kort net rus
Ek't begin glo
my skoppende bene
is, soos almal sê, blote waan
Ek het amper kans gesien
vir nog 30 jaar
van vasklou
en saggies tjank
Almal het gedink ek word beter
So waar kom jy nou vandaan
met jou tropiese virus
en brandende koors
wat my bloed laat raas
en my weerstand laat broos
en vir wat ruk jy my masker af
en soen my op die mond?
Het jy geweet
dat 'n mens
verskriklik
lank kan lewe
met bloeding op die brein?
Wiskunde
Jy het die passer in my hart gedruk
wanneer gaan jy my omsirkel
of kwadreer jy my nou
om te bepaal warom die wortels
so vlak is
en die desimale so
omeindig
lank
maar as ek jou die antwoord gee
sal die somme jou steeds intimideer
saamwees is 'n ideologie
nie 'n wetenskap
en jy is bang vir wat jy nie verstaan
so kwadreer jy my maar
tot lyf en siel
om te bepaal waarom die wortels so vlak is
en die desimale
so
oneindig
lank
Erfsonde
Daar was 'n slang in die gras
reeds van die heel eerste dag
eden was 'n droom
wat geval het uit 'n boom
Wie gaan die skuld dan dra
vir die dinge wat pla
iemand sal die blaam moet kry
want jy moet my bevry
van my verlede
in hierdie hede
Daar was 'n vlieg in die salf
en jou beker was half
en jy moes leer om te veg
krummels gooi langs jou weg
So word jy gestraf tot in die 3de geslag
en evolusie bly die kondisie
in die stryd
Wie gaan die skuld dan dra
vir die dinge wat pla
iemand sal die blaam moet kry
want jy moet my bevry
van my verlede
in hierdie hede
Hoe lank dan nog?
Kyk,
in die vlak poele van die lewe
is plastiek klippe volgens range uitgepak
wat dobber en bots
en plastiek klanke klots
hoe lank dan nog?
Op die breë lewens paaie is daar vele
afrdraaie
na wie weet waar
en by elke stop
stamp ek harder my kop
Hoe lank dan nog?
Die wysheid roep hardop daarbuite
sy verhef haar stem op die pleine
hoe lank dan nog
sal die eenvoudiges
die eenvoudigheid liefhê
en spotters bly spot
Hoe lank dan nog kan jy dit als ignoreer
die dae net om jouself sentreer
en niemand anders toelaat
Hoe lank dan nog?
.
.
.
.
LIANA WIEHAHN
Stad
Woud, jou beton druk my vas
jou groen, nou 'n mengelmoes
en my kind sukkel om asem te haal
jou reën het my eens sterk gemaak
en nou, nou brand dit teen my vel
my kop gebuig, die watermerke
ongemerk vir jou
my einde, uit vrye wil, is naby
hier in jou hart
los my, ek soek wat ek ken
.
.
.
.
EVELINE VAN DYK
AK 47 - wiegelied
Karlientjie-kind
my najaarsblom
wag jy nog
dat Pappa kom
wonder jy
wat hy gaan bring
vir sy blinkoog
meisiekind
slaap Karlientjie
kind van my
dis ek en jy
wat agterbly
hy is stil nou
hy is stom
op sy bors
'n bloedrooi blom
.
.
.
.
SWAM
SAKE VAN DIE HART
AGTER N RIBBEKAS VAN SOLIEDE BEEN
IS N SAGTE HART MET N KORS VERSTEEN,
EN AGTER HARDE ROTSEWANDE SKUIL SEERKRY EN
VERLANGE
DROME EN LIEFDE OOK,
BESKERMEND TEEN HARTSEER EN TRANE.
DIS SNAAKS HOE N PAAR SEERKRY WOORDE,
OOK MELODIES MET FYN AKKOORDE,
ROTSEWANDE IN SKERWE LAAT SPAT.
DAN STAAN EK VOOR JOU MET MY NAAKTE HART,
EN MET MY HARTSGEHEIM ONTBLOTE,
IS EK N TEIKEN VIR JOU SEERKRY SKOTE
.
.
.
.
JAKU MYIR
Smile
ek sit in die hoek en sy vra
wat is fout
ek's alleen depressed insecure
paranoïes verward ongeskik eensaam
verveeld vraatsugtig oorgewig lelik
lui onfiks uitsigloos dom
verlief idealisties liggelowig deurmekaar
obsessief spandabelrig arm verlore
pervers skynheilig egoïsties goddeloos
nee niks nie
sê ek
en bêre my kop verder in boeke
weg.
Dít is liefde
Ek het jou lief:
skel my slaan my beledig my skop my
soen my streel my hou my seks my
haat my verag my bedrieg my bedroef my
Ek het jou lief...
Tweestryd
Binne my woon daar 'n man
soggens staan hy met 'n glimlag op
loop uit in die straat
groet almal met die hand
glimlag gesellig
knoop oral 'n geselsie aan
nooi mense vir ete uit
gooi my huis (my hart) oop
maar
daagliks donder ek dié bliksem
kneus hom met knuppels
steek spiese in sy lieste
dompel sy kop onder water
stamp hom van geboue af
hy's 'n kanniedood
wat bly opstaan
elke oggend
stiller is hy wel
die glimlag nie meer so breed
groet net bekendes
bly in die skadu van die huis
waar hy soms tot middag slaap.
Hy bly steeds binne my
nooi soms nog gaste oor
vertrap
my matte (my hart)
daarom bly ek die bliksem daagliks donder
in die hoop dat hy eindelik
in die skadu's sal bly
lê.
.
.
.
.
CECILIA HERBST
Wonder
As ek weer kon
mens,
sal ek weer jou chemie vind?
Sal ione weer
versirkel
en sal ek weer aan liefde bind?
(Gedagtes by die Kadishi-voetslaanpad)
jy trap diep
in die kuil van my hart en
los donker
spore
laat groen mos
verswart
vergeefs stroom water
vergeefs straal son
ons liefde wou nie toefa nie
ons liefde is net "kon"....
.
.
.
.
PIETER BREED
AFSKEID
Die oggend se blou word wit
en die wit van die oggend is soos die wit
uit my hart.
Die stilte is soos die oggend se spinnerakdou
en sukkelend, soos lomp voete is my woorde
vir jou.
Die bome van gister en eergister se blare
lê om ons voete.
Saam het ons geloop en loop ons nou weer
langs elke blaar.
Bo ons gryp die wind vir oulaas na leë
takke
en hier in Eden se emosie-herfs is my lus
om te praat nou wakker.
maar praat se tyd is so kort soos die koring
op die land
gebed en al het die son opgekom, en gebed
en al gaan hy sak.
Saam gaan ons alleen-alleen na die sterre
lê en kyk,
en gaan jy die boogskutter vir my wys.
maar die vrugte van verlange is nou vrot,
met die donker sielegenotlike liefde van
'n vrugtemot.
.
.
.
.
NEELS JACKSON
huis, paleis...
bonkige huis
swierpaleis
jy is wit
gepleister tuis
maar om my hok
my sinkpondok
vlam sharpevilles
en soweto's op
want jy't 'n huis
soos 'n paleis
mar ek is in
'n varkhok tuis
.
.
.
.
ADRIAN NORTH
"Ek is 'n Engelsman en was gebore in Londen, maar ek het 12 jaar in SA
gebly."
Hier het Adrian by die WNNR gewerk en 'n doktersgraad
in Astrofisika aan die PUK verwerf. Hy is met 'n Afrikaanse meisie getroud
en hulle woon tans in Reading, wes van Londen.
Dronk in Skotland
Sjoe, die bier is sterk!
Ek kan my wange nie voel nie!
My bene is pap
Ek voel lam
Miskien was die laaste glas
Net een teveel
Die wereld begin draai
Sonder my
Hoe kom ek uit?
'n bietjie vars lug sal help
As ek dit kan maak
Tot by die deur
Sjoe, die bier is sterk!
Wees stil en luister
Stil
Stil
Luister na die lewe
Stil
Stil
Wat sy hy vir jou?
Stil
Stil
Gee hy vir jou
Die geheime
Van oorlewing
In 'n wereld
Van vreemdelinge
Stil
Stil
Luister na die lewe
.
.
.
.
CARL SANDROCK
ly
jy
lei
my
maar ek volg nie
jy
vly
jou teen my
maar ek
ly
Fragment [1]
Uit die somtyds-konsertina
van 'n gekneukelde siel
word die lewe getrek.
Somsopkoms
Soms op koms
van jou glimlag
word ek wakker
val die skille van my oë
kletter teen my boeke
Sonsopkoms
tref my harder
met die somslag
van die strale uit vroër
se lank vergete soeke
Slaan tog weer die okerrooi
uit elke ding waaraan jy vat.
Maak tog weer die aarde mooi
met jou gesag oor my breinstad
en sonsopkoms my ondergang.
.
.
.
.
BERT ROOS
Blou
Op vier-en-vyftig meter
kon ons diep bedwelmd maskers lig,
en kon ek vir tabellose oomblikke in
die soutbrand van jou oë spieël.
Maar jou kennis het ons klinies
boontoe gedwing.
Net my masker het bly sink,
en dis ek wat borrelsiek ronddobber.
.
.
.
.
ISABEL KOTZE
Inspirasie
Of aspirasie?
Is skaars: soek skoor met
woorde in my kop.
Skaars is my gedagtes
gerig, of die
ammunisie val plat.
Verlate vervolging
hierdie vergete begeerte om te
kunstateer.
Gedurende die inkyk
oomblikke, sien ek
grepe gedagtes in my kop,
sonder om gemaklik met ink
of grafiet
woorde op papier te smeer soos
ek eers kon
dit is tog ontstellend
hoe onbehoorlik vinnig
'n fundamentele gedagte
(raak gedink in die vuur van
'n openbarende moment)
verlore kan raak,
in die alledaagsheid van
'n tweegesprek oor
Maandag
.
.
.
.
CHRISTI-MARI BOTES
Woorde
Ek wonder of jy weet dat ek
soms wil vergeet
van die woorde wat seermaak,
woorde waaroor jy nie waak.
Die woorde is vir jou van min belang - vir
jou is dit maar net klinkers en hul medes
wat so bekommerd is oor hul sedes
in een groot woordesang;
maar dit is my wens dat jy 'n slag
die lewe sal bekyk deur 'n ander lens,
sodat jy uit jou klein fyn wereldjie
kan kruip - oor jou regter in plaas van jou
linker skouer te loer,
en dan sal jy my sien wag op die vloer.
.
.
.
.
MICHIEL VAN NIEKERK
CHRISTEN
Die vrouens, en kinders sonder pa's,
oorleef, maar net uit genade
hulle vrek van die honger en wonder oor more
en die rykes
die rykes hou paartie
Hulle's bang en alleen
sonder werk en sonder hoop
in sielewroeging oor mislukte pogings
terwyl die rykes
eenkant bid en saamsing
Maar die dominee staan stom -
die dienaar van God
hy wonder oor more, en ook oor sy gasie.
Hieroor mag niemand ooit praat nie,
want wie sal dán sorg?
.
.
.
.
EVERLINE VAN DYK
Blou
die aand
was blou
ouverture-blou
die nag
nog blouer
hoogliedblou
hoe het ek
kon weet
o Heer
die oggend
sou so
droef wees
soos 'n dodemars
sonder blou
Offergawe
soggens bring jy koffie
my koffie in 'n beker
en laat my
in jou arms lê
jy slag
'n adamsvy
en bied dit op
jou palm aan
jy neem my
op 'n bedevaart
na plekke van
my jeug
langs 'n stofpad neem
jy 'n windpomp af
tel vir my
'n karooklip op
jy bely jou liefde
hou dan die
offergawebord
na my toe uit
.
.
.
.
JOPIE KOEN
rusplek langs die pad
wou al stilhou, daar by die witkruis
wat stil maar so sigbaar staan -
die oggendverkeer oppas, die middag s'n ook
-
en met stukkies verwronge staal by sy voet
die storie vertel vir die wat wil luister
.
.
.
.
DIRK OCHE
(ongetiteld)
'n Verbleikte vredesduifplakkertjie
fladder op die grond
die windskerm met die koeëlgat
iemand
geskiedenis
statistiek
hoe lank nog
moet die vredesduif broei
hoe lank nog
voor haar kuikens vlieg
.
.
.
.
CLINTON V DU PLESSIS
(Ongetiteld)
ek mis jou so,
tog onthou ek saans die kalm klamtes van
jou oë,
ek sou so graag wou hê
dat jy vrouwarmsag teen my lyf moes lê
sodat ek al die woorde self in jou oor kon
sê,
ek wens ek kon die ritme van jou hartklop
onder my vingers voel
en weet ons is net vir mekaar bedoel,
ek wens ek kon luister hoe jy snags snoesig
stil slaap
jou oë toe,jou asem 'n sagte simfonie
teen my bors,
ek wens ek kon jou klein kalbassies soos
klein kuikens koester
en versigtig-bang soos 'n blinde man
elke ronding van jou lyf soos 'n viool streel
en stryk
en vir ure in jou liefdevolle oë kon
kyk,
ek wens ek kon weer met my lippe aan joune
raak
en die warm wonder van ons liefde smaak,
ek wens ek kon jou weer vashou
en jou styf in my hart toevou,
want elke oomblik dink ek aan jou
want ek weet ek's lief vir jou,
dink aan my
en droom van my,
skryf my naam op die binnekant van jou hand
soos 'n verliefde skooldogter en bloos vir
my
want die herfs van ongedeelde herinneringe
is nou verby,
en die lang verlate winters van ons alleenwees
is nou uiteindelik 'n sekersomer van saamwees.
.
.
.
.
URZULA RUST
Reënbos
My hart is 'n reënbos
waar my vae verwronge drome
soos die stamme van die winterbome
streef na vorm deur vlae vaalwit mis.
My hart is 'n reënbos
waar my stem verfluister
en alle klank verswyg tot die drup
van trane op modder en verrotte blare.
My hart is 'n reënbos
waar jy, op vlug deur mis en stilte,
my nie sien staan nie.
.
.
.
.