GEDIGTE TOT 1997

.

.

LYS VAN DIGTERS

Irene Alberts Johann Carstens Willie de Jager
FM Karina Grove Johan Horn
Erika Human Johann Human Jopie Koen
Mario Maccani Annelie Maré Liesel Meyer
Beauhdien Mozart Helen Oberholser DH Ochse
Erika Ochse Mari Pete Fanus Pienaar
Babs Pretorius Jan Roodt Gerrie Terblanche
Stephan Terblanche Marius Van der Spuy Jan G. van Heerden
Karien van Loggerenberg Vyg Fynbos Vossie Vos

.

Deur kommentaar oor 'n gedig te lewer nadat jy dit gelees het, sal jy nie alleen die digter help nie, maar ook vir ons help om uit te vind waarvan jy hou. Hierdie tuisblad is daar vir almal om by te baat...

.

Na Skrywers-Indaba se hoofblad

.

.

.

G E D I G T E

.

.

IRENE ALBERTS

VROU-WEES

Ek is 'n vrou, 'n moeder, 'n mens...
Ek is gemaak om op my knië te bly -
Op my knië om my God te dien,
Op my knië, waar my kinders die moeder in my oë kan sien.

In my huis skep ek dag en nag en dag...
Vorm en vou om 'n welkome atmosfeer te bou.
Soms woeker ek tot laat in die nag -
En dan word ek stil...

Ek is gemaak om op my voete te staan...
Om te sing en te dans, al is daar selde kans om my
drome uit te leef, kan ek
glo en bid en jubel en steeds streef.

In my drome vlieg ek oor die velde, swem ek diep onder die see.
Dan sien ek die gawe van lewe wat die Hemelse Vader ons gee.
En dan word ek stil...

Ek is gemaak om lief te hê,
Te gee, te deel - woorde van liefde te sê.
En as hy my vashou kan ek verstaan
dat daar vir ons nog 'n ewigheid van liefde verby sal gaan...

En dan word ek stil...
En dan word ek vrou.


ENGEL MET 'N BOODSKAP

In die stroewe, vroeë ure van die dag
Gaan Maria Magdalena na Sy graf.
Haar Meester - die een wat Israel sou verlos-
Sy blye boodskap het hom sy lewe gekos.

Sy staan nog voor die gryse graf
Met olie en balsem in die hand.
Sy plek is leeg - sy stem is stil,
Maar sy woorde in haar hart bly brand¼

Skielik skud die ganse aarde.
Die wind ruk heen en weer.
Sneeuwit, geklee soos 'n weerligstraal
Daal 'n engel uit die hemel neer.

"Kom kyk! Jou Heer het opgestaan!"
Stom, verbaas het Maria ingegaan.
"Gaan, Maria, gaan vertel:
Hy het oorwin die dood en hel!"

Engel van God:
Hoe groot is die boodskap wat jy moes bring!
Jy gee in ons wanhoop versekering.
Waar duisternis was, bring jy die lig -
Jy kom verhef ons aangesig.

Sy dissipels steeds in rou gevang,
Hoor haar woorde maar bly steeds bang.
Hul twyfel - al klink haar stem so helder.
Hul volg haar na die donker kelder.

Die engel staan toe saggies nader
Waar hul verstom voor die graf vergader.
"Jul Meester, Hy het opgestaan.
Hy het na Galilea jul vooruit gegaan."

O, Engel van die Blye Tyding,
Jy bring vreugde in ons aardse lyding!
Na 2000 jaar klink die boodskap weer:
"Julle Jesus Lewe - Hy's ewig God en Heer!"

.

.

.

.

JOHANN CARSTENS

Aspirasies

Hoe sou die pen so dom in my vingers sit ?
Nes 'n bol pap klei in my spastiese hande
- SHIT -

Ek voel tog die gedagtes le vlak
net so duskant bewussyn vasgevat
Maar sit dit neer, en wat spel dit
- PLAGIARIS -
heel uit rym geruk


Analise

Miskien het ek en jy
dalk telkemale,
in die grou mis bymekaar verbygegly
half dom, onwetend voor die vasteland verby

En sou ons dalk een grou oggend bots....
Hoe sal ek weet dat jy 'n anker kan wees, 'n rots ?
Of sal ek, gedagte aan 'n flikkerende ligglans
half verskonend, links verbytrek.


Miskien

sou jy my toelaat om jou lief te he
sonder voorwaarde of eis
sou jy my toelaat om met jou alles te deel
die lewe aan jou te wys

die duurte van ons reis is kort
ons reis ook maar net eenmaal hier
daar is dus vir ons min tyd
om die liefde en die lewe te vier

en sou jy my toelaat om jou lief te he
sonder voorwaarde of eis
dan sal ek met jou alles deel
die lewe vir jou wys


Play on - Amper mens

Weet jy van die skelm ou
Weet jy van die kleptomaan
Die een wat die kaarte ruil
En jou los met 'n klawer 2
En jou los met 'n donker traan

Maar ons almal speel, ons ken die odds
ons laat die wiel met die wit bal bots
deel die kaarte, rol die dice
die dobbel bly mos moerse nice

Speel hom nou, ja spel hom weer
rol die dice maar nog 'n keer
maar wees gewaarsku, weet dit nou
agter jou staan die skelm ou

Maar wats die kans, ons doen dit weer
en rol die dice maar nog 'n keer
maar ky nou goed, dis weer gelaai
die is hoog, jy bly verraai

Speel hom nou, ja spel hom weer
rol die dice maar nog 'n keer
maar wees gewaarsku, weet dit nou
agter jou staan die skelm ou

.

.

.

WILLIE DE JAGER

"HISTORY FALLS"

Hulle sal nog met stootskrapers kom
en al die kantstene van blouysterklip
omdolwe (deur oumense liefdevol ingemessel)
en oppie ashoop hel.

Jou ou droompie
sal ook nog soos 'n seepbel
bars, dit kon nie hou
so op die sand gebou.

.

.

.

FM

LEWENSEIS

Leef soos jakkalse
elkeen in sy eie gat
dit brei jou vir die lewe -
eendag word jy sat.

.

.

.

KARINA GROVE

PLANT VIR MY 'N BOOM MONIQUE

Plant vir my 'n boom Monique
in jou tuin langs Tafelberg.

Plant vir my 'n boom
met die holtes van jou hande
in die stam inge-ets.

Plant vir my 'n boom
met die hemelruim in jou oë
as die vrug van die grond.

Plant vir my 'n boom sodat ek,
na wêreldreise in myself,
jou hande kan voel in die stam teen my rug
en kan voed aan die akkers
van jou oë.


OPLAAS

Oplaas het ek see geword.
Oplaas is my skulpwande gekraak
en oplaas sypel soel seewater
deur die brose intimiteit van my oesterhart.

Oplaas het ek see geword
en oplaas ontsmet soutwater die
opgerigte fasades van my diepste innerlobbe.

Oplaas is ek hier in my binnekamer
en oplaas leef ek die intiemste aanraking
tussen my diepste innerlinge en
strome lig wat my soos 'n lied omvou
en my brandstapeloffer aan myself.


19.05.96 na 'n maand van losmaking

As my son breek en leegbloei oor jou aarde,
moenie skrik vir die intensiteit van my geel nie.
Moenie hardloop van die skroeiende hitte van my oranje
en moenie jou landerye oprol voor die vlammevuur van my rooi nie.
Moenie jou gedig draai
en moenie jou oë wegbere in jou naeltjie nie.
Maar laat jou oë 'n voetpad tussen ons wees
en kyk -
ek is son van jou son
en gloed van jou gloed.
My oopgebarste kleur is spieël van jou intense vuur.

Ek is bloot 'n eggo van die bloed
wat jou binne-are met skroeiende vloei deurspoel.

.

.

.

JOHAN HORN

Xmas - rekord sales

Dis Kersfees hier my God.
maar al reik die vreugde stede wyd
pyl die kersboom weg,
dat selfs die saxofoon -
wat uit die leë steë tussen flats -
in sharps en minors U belei,
nie verder as die dronk rumoer
van ons show piece skeppings
reik nie


Kuslangs

My blou meneer, O blou blou see
jy wat meeuend teen die grysheid skree,
simmetries stulp, soos are klop
jou golwe skuimend uit die koute op.
Hoe kurf hul weg teen die baai se wang...
verval tot klank en mistige stank
die branders in eggo's teen klip en oor sand

en leeg van wit wil 'n misbank bedek
hoe golf op golf teen die rotse vrek...
en waters moeg in die see terug lek.


Selfportret

Daar skilfer van jou en vlok van my
stof-verf af
waarna al ons drome
swartgerand en swambesmet...
al swarter, doods
teen die laatlig lyk


Gebed met Paasfees

Dit verseker Ek julle, as n koringkorrel nie in die grond val en sterwe nie, bly hy net een; maar as hy sterwe, bring hy n groot oes in. (Joh 12:24)

mag ek ryp word as die seisoen
besaai lê met somerdae
mag my wortels diep kruip in die humusaarde
mag my saad - mineraalgevul - hul stingels buig
en van gogh-geel-winterverf
oor die hoëveld gooi

mag die vure en die blink-skerp eg
net so diep vat dat
my saad
soepel in die voorjaar spruit
mag U gee dat my kiem sal groei
dat die reën wat U laat stuif
groen, sagte loof teen die winde vryf.


AUGUSTUS 1983, (Volksrust)

Die vaal Augustuswind ruk dom aan
bloeisel bespikkelde takke
gryp met gulsige vingers
na die nokke van van dakke
na 'n vatplek aan die losgeut bokant die stoep
graaf ... graaf met stofnaels
in oë en en neus ...

"Waai ... waai jou Dick King van die nuwe reën
jou touleier van die voorjaar
waai......!"


AAN JOU

Ek het vanaand met jou gepraat
- jou kou en sluk was daar -
jou oë die silwerdoek vir my woorde
waarop lag en vrae,
peins en droom
helder blou weerkaats.

het my siel
met die strome wat oor jou lippe kom
swangervol geword,
kon my brein uit die bevrugte moes
van woord en beeld,
toon en kleur en vorm gee
aan gedagtes binne my.

Ek het vanaand met jou gepraat;
maar meer nog,
ek kon my woorde...
my eie beelde
in die grys salf
van jou oë doop.

.

.

.

ERIKA HUMAN

Horison

agter elke horison
lê 'n verder horison.

elke gesigseinder ---
net die einde van sig.

kyk ek op in die lug,
staar ek oor die vertes heen
sien ek hoe groot God is.

nou het ek Sy grootheid gesien
nou kan ek hom voluit dien,
maar dan . . .

agter elke horison
lê 'n verder horison
--- nooit 'n einde aan dié Horison.


Net 'n huppelkind

Klein en lomp huppelkind
hardloop oor die veld,
kind van blomme en die wind.

haar voet hak vas . . .

sy VAL . . .

haar lag is stil, 'n traan.

Klein en lomp huppelkind
rustig in die veld,
hy strooi blomme in die wind

sy gryp daarna . . .

sy MIS . . .

haar lag verstil, net stil . . .


Maskers

Elke dag van vroeg tot nag
Van stad se straat tot myn se skag.

Gesigte-massa maal verby
Is dit ek, is dit jy?

Elke dag van uur tot uur
Van skool se bank tot kamp se vuur.

Ek leef vir my en jy vir jou
Agter ons masjers toegevou.

Maar nou...

Elke dag van môre tot aand
Van berg se top tot see se strand

Maskers af sonder vrees,
betree ons só die Lewensfees.

Sien ons nou soos wat ons is
Sien dat ons Sy kinders is.

.

.

.

JOHANN HUMAN

Q

wat kan ek vir jou saamgee,
my migrerende geliefde,
met elke keer se afskeid
soos ryp
ons jong boord rankende
- ten spyte van -
vliegtuie wat silwer hurk
op nat teer valksig wag
jou op te pik en weg te skeur,
- ten spyte van -
'n plastiek Hong Kong
bedkastydbom
tik stil tik stil tik stil
verstikkend
die godse nag lank
wagtend
ons uur te slaan
en luidkeels uit te gil

ek draai my inheemse mond na die son
en lek vir jou'n boodskap fyn soos
kondensasie: my liefde teen die lug


DONKERTUIN

in die donker tuin waar ons loop
roep 'n uil fluit seer mooi, verskuil
en herhinner my aan aaronskelke oop
poele bleek jou oë weerkaats, die seer
heerlikheid van gesteelde tyd.

ek smelt vir jou die oomblik ewigheid
om aan jou hals te dra; 'n talisman swaar
en warm teen jou vel, magiese beswering
teen al jou pyn en wondbaarheid.

ek smeek jou : was my met jou oë
want ek sterf lankal reeds voortdurend
kwyn my bloed en hoor ek die ritseling
van swart vlerke; die vergadering
swart rawe van
verganklikheid.

.

.

.

JOPIE KOEN

Ontwikkeling

Die kiewiete krysvanoggend
ontsteltenis uit
bo oggendspitsverkeer
oor omgedolwe aarde wat gister nog
tuiste was tussen gras
en ek huil
oor ek my bome moes merk
met linte teen 'n stootskraper
geel vir die appelkoos
ook vir die peperboom
vir die luiperdboompies was die linte rooi


742 in die seisoen van '93

heel en jonk van lyf
het hy vertrek
die groot eksamen klaar geskryf
gister het hy teruggekom
met drukkersink verewig
in elke jaar se optelsom


(ongetiteld)

kom ons verf met 'n breë kwas
oor vandag se doek

blou geel rooi
kan selfs bietjie groen ook soek

tot die kleure al wat pla
die huis uit ja

.

.

.

MARIO MACCANI

(ongetiteld - 1)

Dr Verwoerd loop in sy hoëhakskoene
en blaas vir die skare soene
terwyl die dominee en ek
saamry in die pienk Pontiac.

Hy skryf swart psalms neer
op die kolf van sy geweer,
en ek ry ook in hierdie optog,
soos 'n vark om 'n sog.

Op 'n windverwaaide werf
is daar op my rug gekerf,
seshonderd, ses en sestig Suid Afrikaanse vlaggies,
en die brandende konsertina se stem was so saggies.

Ek is nou hier vasgebind,
vasgespyker en onbemind.
Die Engelse, die hond,
'n gebroke roos in my mond.

En in die Hemel
is dit stil
Christus lê in Maria se skoot
en wens hy was dood.

Die Republiek word gebore
sonder oë, mond of ore,
vandag,
31 Mei 1961.


GEDAGTES

Sy staan teen die kosyn,
skouer en heup teen die hout,
met een voet gekruis oor die ander.

Haar hare val verby haar gesig,
oor haar skouers en krul om haar bors,
bruin en ongekam, vergeet.

Haar gesig kyk
na die oop deur van haar kas,
maar haar gedagtes is elders.

Sy onthou iets,
en vir hierdie oomblik
is haar liggaam leeg.

Ek sien haar naaktheid
en haar weerloosheid,
maar dis net in my blik.

Haar oë knip en die oomblik breek,
sy is weer binne haar liggaam,
weer naak en vrou.

Maar die kaal vrou
is by my vergete -
haar geheime wil ek graag ontklee.


DIE SWEET EN WIEROOK SAMBA

Ek onthou nog vir Jannie Els,
ou Els Kak Gesels.
Jannie wie se ma so mooi was,
oë soos vuur en vel soos glas.

Ek het ingeloop by die agterdeur soos altyd,
my voete suutjies oor die duur tapyt.
Ek stap deur die stille huis,
is daar iemand tuis?

Ek loop verby 'n wa wyd ope deur
en sien alles wat daar gebeur:
Mevrou Els se hande oor 'n kaal man se lyne
en haar senutergende mooi oë kyk vas in myne.

.

.

.

ANNELIE MARé

Bergwind

Ek is dit
wat jy teen die hange hoor
as jy na jou verweg plekke loop
as jy oor die bergrug vlug
na die uithoeke van jou aarde
om van die hoogste piek
jou grense te bespied

maar ek glip deur jou grensdrade
loslit roer my lyf die raasblaar

ek vleg vir jou 'n engel
van die vlakte se groen gras
en in sy vlerke
bind ek
stile vas...

.

.

.

LIESEL MEYER

(ongetiteld)

vreemd dat hierdie herfs nie goud was nie
nie koper of warm brons nie
en al die geel magrietjies het verlep

vreemd
april se hart was hierdie jaar van ys en ek moes vroeg gaan slaap om te vergeet

.

.

.

BEAUHDIEN MOZART

HOEKHUIS

Twee mossies op die toegee-
teken,
twee blou spreeus op die draad.
Net jy alleen-mens,
sit sonder maat.


SEWEJAARTJIES (Drakensberg)

Geel papierhartjies
glinster Nuwejaarswense
van die son aan ons.

.

.

.

HELEN OBERHOLSER

WAAISKUIM

Ek het my gedagte
op die strand uitgegooi
sodat dit in die see kon verdrink,
maar die golwe spoel dit
t'rug en t'rug na my
sodat ek aanhou om aan jou te dink

die wind het dit opgeraap
en gooi dit met die waaiskuim teen my vas
en wanneer die skuim nat kolle teen my vel word
meng dit met die trane wat ek oor jou stort.

.

.

.

DH OCHSE

PA

as ek in jou skadu
kon staan
as die son my brand

as ek vir jou kon vra
wanneer die twyfel
my verteer

as ek jou riem
kon vang
as die aarde onder my oopskeur

as ek saam
met jou kon lag
vir tant Annie met die kierie

ek staar
troosteloos
na die stom foto
vol vingermerke

en soek tevergeefs
verstaan


erfenis

wie by Sy fontein
water drink
sal sonder geweld
sonder geld
die aarde
as geskenk ontvang

.

.

.

ERIKA OCHSE

blom

draai jou kop dié kant toe
kyk >n bietjie ver
kyk >n bietjie diep
skoffel tussen die ontkenning
trek al die verplasing uit
miskien sal jy die tuin
wat jy soek
op die maan
onverwags naby jou vind

as jy dan dié tuin ontdek
sal ek ook vir jou blom


koordloos

(sy het die koordlose foon aangedra)

Awat is Liewe Jesus se nommer?
ek wil gou-gou
bietjie met my mamma praat@

Here, waar kry ek >n bietjie salf
vir 'n driejarige se seer gemis?
en weet U dalk
waar het ek laas
die doos tissues gesit?
(ek is besig om Ahooikoors@ te kry
voor ek verduidelik
U sal sonder telefoon
'n boodskap aan mamma oordra)

.

.

.

MARI PETE

HALFRONDE

kyk hoe die son aan die blare lek
sag soos 'n kwas
gedoop in amper-rooi

die dae slyt
duim vir duim
sonloser september

ek soek soggens 'n venster
om tee te slurp
saam met 'n mad hatter
en 'n muis

kraak die eerste blare
onder kousvoete
snuif aan skoorstene
en ander gerugte in die lug:

suid bloei die bome
sneeuwit
in die takke
verskroeide skelette
in die strate
breek lentereëns oop
soos die trane van 'n mock turtle
oor lywe wat bid en bedel
om 'n wonderland
waar woorde
waar word


CAMBRIDGE BLUES

net die eerste voëls
die gesuis van fietswiele oor nat gras
as vermomde mummies voor sonop
uit die niet verskyn

op bevel van die cox
skiet spane uit
sny deur die stilte soos 'n valbyl
gly die boot vaartbelyn
deur die mis
wat soos 'n spook
bo die water
huiwer


AANSTAP ROOIES

Ryg toe jul stewels
terwyl die trein ry -
by Ashwell gaan ons afklim:

landerye lê oopgerol
in skakerings groen sonder ophou,

hooimied se geel
en varkmis geur die veld
duskant die heining
waar 'n vikingheld gewoon het.

In 'n pub met 'n vuur
en 'n hond voor die herd,
ploughman's lunch,
en later 'n laaste sensasie:

teen 25p, fudgekoek
en 'n koppie tee
in die sysaal
van 'n katedraal

voor die skemertrein die spoor oprol.


DURBAN - SOMER

(vir Abdullah Ebrahim)

met 'n klam lyf
wurm ek in
tussen die ander
wat jazz kom soek
koelgroen amstels stapel
oraloor die tafels
swaar is die lug
van sout en saksofoon
die lywe wieg
weeg swaar op skewe stoele
van die Moon Hotel
wat steun
onder die geel pens
van die maan

.

.

.

FANUS PIENAAR

Vir (spesiale) geëmansipeerde vrouens

Ek wens...
liewe Helena
dat ek sonder 'n houtperd
jou Troje kon binnegaan

en (hande agter die rug)
na die vroulik-sagte
binnemure van jou vesting
kon kyk
aan sysagte kantgordyne
kon vat
en die geure van jou vrou-wees
kon ruik

en dan, na alles
jou fassade fnuik


CUL DE SAC

('n Aftelrympie)

Reeds vroeg was daar
die bordjie
met die rooilyn T

maar skraal
was die lus
om ag te gee

en so't hy
aangetjommel
op die doodlooppad

en saam
met die massa
snuifies opium gevat

toe...

skielik word hy
wakker uit sy sinnedroom
en alles skree en kerm soos hy rem om nie oor die afgrond
af
te
stort
nie

op die rand maak hy toe somme
oor
wat
hy
het

sien hy in die kas
net
'n
kaal
skelet.

.

.

.

BABS PRETORIUS

OUMENS

Riffelwinde skryf
oor die duine van my lyf
arms - reëndagstyf
vryf.
Die lewe is 'n Eenbedryf
dan -
afgeskryf.

.

.

.

JAN ROODT

Oog

projekteer die transformasies van my brein
deur die kegels en die steeltjies
deur die sagbollens
oor die sysag van jou lyne

jy voel begeer

en met elke elektriese puls
in elke sinapshuls
streel ek jou
word jou warmte ontvou

jy word begeer

en jy weet dit
en jy lees my voelersagte kyk
totdat die oomblik wyk
en die wêreld instroom

dan ontfokus jy in die massa
en wat bly
is elke lyn
bedraad in 'n nat neurale net

vir 'n leeftyd.


Vir Afrika

'n witte hemel met 'n vuurson soos die hel
bome ontwortel en beeste gevel
die lug spieel die ver weg
die aarde dreun van die besies
en 'n swart man knik oor sy kierie-stok
kyk na die aan-niks-kou van 'n bok

Afrika
wat stoom in sy donkerte
wat sy kinners verstrooi in hul armoede
wat toeriste laat sweet onder hul hoede
wat stof maak van alle mense
Afrika

die tyd wat later stilstaan
'n dag wat in bloedrooi skemer vergaan
hitte smoor die die dagdiere
en die rotte ritsel deur die gras
'n swart nag met skitterblink sterre
en die vure wat opstyg tot teen my vliegtuig se buik

Afrika
wat ek afskud van my skoene
wat ek wegdryf uit my gedagte
wat ek huil voor in my hart
wat net plek het vir swart
Afrika

die reuse stuk metaal
kokon my aan al kante met 'n yskoue vel van staal
die groot enjins asem dreunend
die geur van my kontinent
voor op die horison algiers in sig
en ek proe my laaste simonsig

God behoed my Afrika


Bome

(vir Jan-Dawid)

ek leer jou van die bome
met hul tone in die grond
die gloeigroen blare en die bas
die vuurrooi vuur en die witwarm as

ek leer jou die fisika van 'n magtige son
met strale gekettings in jaarringe
die siektes en die saad
die goed en die kwaad

dan vertel ek jou van die Bosbouer
wat nie skroom om te snoei nie
wat uitkap wat nie groei nie
wat nie huiwer om te offer nie
en Jesus in jou hartjie
ja, Jesus wat moes sterf
en vrede so vir sy skepsels werf


NAG

O, God
hierdie ongemak bly klou
terwyl die ure wielie-walie
hierdie pyn hou aan met kou
aan die basis van die brein
hierdie foto's weier om te bleik
flits en blits sonder om te wyk

dan ontwaak die sinnelose voels
beroep hul op die Vader
en staan vir hul wurmpies nader

*

O Vader mag ek ook vandag
die deur na U heiligdom open
my skoonwas in U bloed
die tv flitse agterlaat vir altyd
en vergeet van die motte in my goed
help my die mandelas en die fw's vergewe
vir die neem van my lewe
voorsien asseblief brood vir my gesin se ete
U lig in hierdie duisternis
U Gees
in my onwillige vlees.

*

sonder ophou kou die nag aan elke hoek,
beweer 'n bebaarde breytenbach
hy stuur sy vriendin na my deur
met 'n bundel vol doodse geur
en vryf sy vingers deur sy baard:
haat is 'n oneindige vraat.

.

.

.

GERRIE TERBLANCHE

pers reën

op 'n helderblou sonskyndag
het die eerste druppels lente
na
benede
gestort

oor die randsteen gespoel

en klein poeletjies pers in die voor gelaat

.

.

.

STEPHAN TERBLANCHE

Vlugtige Ontmoeting... (herinnering uit 1973)

Dit was vroegaand berg-op met die bus en deur
die falliese poort van Jameson tot binne in die swyende
rock-grot en daar was lywe in jeans en jerseys en donker
skynsels politiek-murmurerend/mymerend in die effe lig. ek onthou.
die saal was akademies muf. en swaar.
en die geliefdes wat fluisterend vry in die plooie van die berg-ikon
en 'n kitaar iewers op die verhoog en vanuit die skemer deur die
graniet van totum legendes sien ek jou. sien ek jou. kyk ek jou
en jy my. John Vorster kon ons nie sien miskien die Here ook nie.
maar ek het jou gesien. en jy vir my. alles was sag en alles
was stil. besoekers ek en jy uit ander karmas,
werelde teenoor mekaar maar die heelal is soms
so verswelgend klein. so wesenlik klein.ek onthou
die reuk van sweet uit die plankvloer en daar was
dagga en allerhande dinge in die lug en ek was
dapper verward op my pelgrimstog.
en jy't gesit by joune en jou hare het geblink.
en ek het lank gepeins oor hoe ek jou aura kon in en jy't
geweet toe jy glimlag. toe had jy my vol in die soetheid
van jou hand en later het ons onder die note en die reuke deur
gesels en jy't my hare gestreel en gevra of ek dan wou saam
en ons het koffie gedrink
en op 'n bus geklim en deur die stilnat strate gegly
en daar't ek jou verloor. ek op my vlak en jy joune.
kastes van die wet en buite het dit oor ons bus gereen
en my bleek vrese het my bang gemaak. by 'n onbekende plek
het ek afgeklim en deur spatsels kleur en water jou
vir oulaas gesien. ek dink jy't nog jou hand uitgehou
asof jy wou waai maar daar was net die akkerboomblare
en rooi ligstrepe op die nat teer toe die grusame bus
ons vir ewig skei.

.

.

.

MARIUS VAN DER SPUY

ALBERTA

Opgewonde spring ek op na onrustige slaap.
Wat ‘n pragtige dag hier in die Kaap!
Klere aan die lyf, twintigs in my sak,
vandag moet Alberta my gelukkig maak.

Met eerste oogopslag, haar rondings beskou,
klam handpalms en opgerolde mou.
Alteid bereid om enigiets te doen,
hop in haar stap, 'n ware kampioen.

Diesel en parfuum hang swaar in die lug.
Almal is opgewonde, by die Conterman’s brug.
Trots staan ek langs Alberta se sy,
al is daar ander wat mooier is as jy.

Na 'n dag van modder, klip en sand
neem ek jou huistoe, waar die vure al brand.
Vanaand sien ek uit na ‘n rustige slaap.
Wat 'n pragtige dag hier in die Kaap.

.

.

.

JAN G VAN HEERDEN

OP DIE BUS

Daar buite
stroom die toeterende ongeduld
en maak 'n minibustaxi
homself ongewild.
Hier binne
drink 'n silwer eenhoring water
waar ongeskonde meisies
ongebonde skater.


SEISOENE

Dit is winter
wanneer die wind
my in wenende mineure
in my landskap van
monochroom kleure vind.

Dit is lente
as die paraaf
van vorige verwondings
met die werking van
bonsende rondings wegskaaf.


EENSAAMHEID

Neem Callisto, Phobos en Luna,
wakende wagters by 'n groter indoena -
elk het een met wie sy in simbiose is,
maar wie sien om na Mercurius?

Selfs Uranus, die reus van gas,
het nege of tien om hom op te pas -
maar Pluto, uitgeworpe kosmiese hond,
dryf alleen in die duisternis rond.

.

.

.

KARIEN VAN LOGGERENBERG

HERFS

Jou goud geel blare
jou bruin bos hare
Jy is soos 'n stout kind
wat speel met die wind

Jy maak my lag
sommer gou elke dag
Jy word soms kouer
maar dan draai ek my skouer.

Jy die mooie Herfs, Jy is die begin
Jy is daar dat ons jou kleure te kan ontgin
soms mis ek jou
maar nooit vervloek ek jou.

Jou goud geel blare
laat my dink aan my kinder jare
ons het gespeel
heelwat dinge saam verbeel

Jy die mooie herfs
jy is die vers
wat huppel en spring wat liefde bring
Jy is HERFS


HARTSEER LIEFDE

Ware liefde is moeilik om te vind
maar tog is dit blind
O, liefling ek het jou gevind
maar jou liefde vir die ander maak jou so blind.

Tog staan jy met jou rug na my
sonder die wete wat ek ly
die glimlag wat my gevoelens versmoor
weet jy wat ek werklik verloor?

My hart koester steeds die hoop
dat ek jou eendag weer vry sal kan koop
Ek het jou nodig elke dag
jy gee my hoop en daaglikse krag.

Hoekom bly jy buite my staan
so ver van my soos die maan
Die hartseer pyn skiet deur my hart
waar is Cupudo.Dis alles net smart!!

Ja jy o hartseer liefde ek gaan jou nog kry
vir al die pyn wat ek ly
Jy is soos die nag
Waar ek vir ewig op jou wag!!!!


BOETIE JY

JY is 'n pyn 'n kramp enige iets wat kan wees
tog is jy van my bloed en vlees.
Jy het die lewe on draaglik gemaak
en my soms ook af gekraak
Tog weet ek beslis
dat jou liefde, vir my vir ewig is.

Jy het my gehelp deur swaar
lag gekry as jy my gewaar
ek met my lompe houding
wou jy regruk tot in verhouding.

Boetie jy jy het swaar gekry
selfs heelwat onder my gely
tog het ek jou lief gehad
in elke tree in elke daad

Bly nou my boetie soos jy is
saam is ons Geskiedenis
telkemale oor ons verlede
gaan ons tekere
Ek hoop jy sal dit oor jou hart kan kry
'k hoop jy's 'n bietjie lief vir my!!!!

.

.

.

VYG FYNBOS

Oor die digter: Vyg Fynbos is 'n Kapenaar en woon tans tydelik in Thailand.

waansin

die fyn rooi lyntjies
trek kaarte van my gemoed
op my oge
swaar is die las
donker my visie
waar is die rus
die strelende slaap
my gedagtes hardloop in sirkels
om en om en om
ek vrees, daar is soveel vrees
vrees van my vlees
gaan jy oorlewe
gaan jy jou moeder verwyt
is jy rêrig myne
of behoort jy ook aan die wêreld
hierdie wêreld so wreed
die donkerte stry met my
nagte om sweet ek
my wraak, haat van my hart
bitter die speeksel
wat ek sluk sluk en sluk
dan kom die daglig
verlosser van die nag wat verby is
die dag wat begin net soos elke dag
die geboorte van nog 'n nag
en my oge wat bly vol sand
tot ek neerval in my waansinnigheid
dan kom haal hulle my weg
weg na die plek waar hulle
jou skuldig skuldig laat voel
en jy weet dis te laat
te laat om weer te probeer.


GRONDGEVLEK

Soos skelms in die nag, sluip sluip
kom hulle vinniger, nader, kwader
sien die stof, die dans van die dode
krippel klim die spinnekoppe, kruip kruip

'n mooi wit gebou vir mooi wit wesens
waar woon die houer van die sleutels
daar slomer hulle in die daglig
altyd een oog oop, al kykende na die noorde

in die stilte het net die jakarandas gewieg
die vlag het liggies gefladder, skaam skaam
op 'n tak sit die hotnotsgot en wag
toe lig die wind die vlag nader, na genoeg

by die venster is n skaduwee wat sien
hoe klou die donker got aan die oranje hoekie
dan is die skaduwee weg,asof dit nooit daar was nie
soos die volk wat gekom het, tevergeefs

ek, suid-afrika, ek weën, kyk hoe skeur my hart
julle het my grond gevlek met julle bloed
swart bloed, wit bloed, oranje blanje blou
bring die einde gou,o aarde bring dit nou

hoe lank dink julle kan ek die pyn verduur
as ek dood is, wat dan, wat dan, o my weë
môre sal die son my nie meer seën nie
die hemele huil maar net jul trane moet reinig reinig

.

.

.

VOSSIE VOS

KONTRAS

lig
en duister,
om te sien
of te twyfel

gewig
en vakuum,
om te verloor
of net bestaan

son
en maan,
om te skyn
of agter wolke verdwyn

helder
en dof,
om te klink
of 'n val se plof

vinnig
en stadig,
om te beweeg
of te sweef

hoog
en laag,
om te vlieg
of te daal

slaap
en ontwaak,
om te rus
of betrokke te raak

.

.

.