DIE DUIWEL OP DIE INTERNET

deur
Elien Morgenrood

[Alternatiewe naam: DIE LOT VAN JOB.]

Linda sit met die gehoorstuk van die telefoon in haar hand asof sy nie weet wat om daarmee te doen nie. Sy kan nie glo wat sy so pas gehoor het nie. Asof van ver hoor sy 'n stem en besef dan dat dit van haar skoot af kom. Sy tel weer die gehoorstuk op. "Wat het gebeur. Ek dog die lyn is afgesny. Is jy nog daar?" Linda is egter nie in staat om te antwoord nie." Is jy orraait! Ek moet nou gaan. Ek moet nog my goed gaan pak. My vlug is oor minder as 2 uur en die lughawe is ver. Ek moet ook nog reël dat die motor by die lughawe gehaal word. Sal jy my om 7 uur op die lughawe kan kom haal?"

Sy kry haarself met moeite so ver om te antwoord. "Ek sal daar wees. Jy moet mooi ry." Wat kan sy verder sê. Dat hulle dit sien kom het en niks daaraan gedoen het nie? Dat sy mos vir hom gesê het dat hulle sy nuwe aanstelling skriftelik moes bevestig? 'n Bevordering is mos 'n bevordering, het hy gesê. Wat sukkel sy so. Nou is dit te laat. Die koeël is deur die kerk. Niks wat sy nou sê sal meer enige verskil maak nie.

Linda staan stadig en vermoeid van die stoel af op. Sy voel skielik baie moeg en oud. Dis nou 'n gatslag. Hulle het skaars die huis gebou en ingetrek, toe is Herman skielik verplaas. Hulle is kastig besig met herstruktuering, gaan sommer in die proses 'n paar ander maatskappye ook oorneem. Alles het so maklik geklink. Herman moet bly wees daar is nog plek vir hom in die groep aangesien hy nie meer so jonk is nie. Werk is deesdae skaars in die land. Hy moet dankbaar wees, ens. ens. ens.

Sy sou agterbly om die finale afwerking aan die huis te laat doen. Die tuin moet ook nog klaar uitgelê word en nog vele dinge wat geld vreet en net gedoen sal moet word. Alles net om die huis dan in die mark te sit en te verkoop aan iemand wat nie eens weet hoe noukeurig en nommerpas die huis vir die vorige eienaars beplan en gebou is nie. Wel, daar is nou nie veel wat hulle daaraan kan doen nie. Werk is mos skaars en mens moet dankbaar wees. Dankbaar vir wat? Hulle het soveel jare gespaar en gewag hiervoor. En nou dit. Daar is ook nog die kinders wat nog nie klaar is met hul studies nie. Herman kan hulle nie nou in die steek laat nie. Veel van 'n keuse het hulle twee dus nie juis gehad nie.

'n Groot woede pak Linda beet. Wie gee hulle die reg om so met haar familie se lewens te mors. Hulle moes mos geweet het dat dit nie sommer net vir maatskappye oorneem is nie. Dinge werk nie altyd uit soos jy dit beplan nie. Daar is mos darem so iets soos gesonde verstand, maar dit is iets wat hulle blykbaar 'n groot tekort aan het.

Die res van die middag gaan soos in 'n waas verby. Sy kan nie konsentreer op die manuskrip waarmee sy besig is nie. Alles het skielik leeg geword in haar. Vanoggend was sy nog so vol geesdrif om hierdie week die verhaal klaar te skryf en in te stuur. Die uitgewers het al navraag gedoen om te hoor wanneer sy die manuskrip gereed sal hê. Die sperdatum vir haar volgende boek is om die draai. Die gedoente met die komende trekkery het dinge vir haar egter baie deurmekaar gekrap. Die karakters in haar kop het skielik almal in bose gedaantes ontaard wat haar koggel en ontwyk. Hoe kon Herman so onnosel wees om alles so vir soetkoek op te eet.

Sy kan dit nog steeds nie klein kry dat iemand net op 'n gegewe oggend vir jou kan kom sê: Jammer om te pla, maar ons het skielik nie meer plek vir jou nie. Ons reëlings het toe nie so mooi uitgewerk soos ons verwag het nie. Die legkaart-blokkie waar jy moes inpas is nou nie meer deel van die prentjie nie. Gaan nou mooi soet huistoe en gaan soek vir jou 'n ander werk. Moet ook nie verwag ons moet jou bedank vir jare van goeie diens nie. Dit was in elk geval deel van jou werk om meer as jou beste te lewer.

Linda ry ingedagte lughawe toe. Sy kom skaars agter hoe besig die verkeer is. Haar gedagtes is in 'n warboel vasgevang. Haar kop voel asof dit in watte toegedraai is. Sy en Herman kan hulle nie sommer net so laat wegkom nie. Hulle moet boet vir die ellende en vernedering wat hulle haar gesin aangedoen het. Te veel mense doen wat hulle wil en ander moet vir die gelag betaal.

Die vliegtuig is laat soos gewoonlik. Sy wonder geïrriteerd waarom Herman nog hoegenaamd van hierdie redery se dienste gebruik maak. Hulle is alewig laat. Sy skrik toe sy haar man gewaar. Sy gesig is grys en hy lyk so verlore daar waar hy vir sy bagasie staan en wag. Hy kyk angstig rond tot hy haar in die ontvangslokaal gewaar. Hy is merkbaar aangedaan toe hy haar soen en sy merk dat hy liggies bewe. Sy kyk op in sy gesig en hy kyk verleë weg, soos 'n kind wat weet hy't iewers drooggemaak.

Hulle praat nie veel op pad huistoe nie. Daar is so veel wat sy hom wil vra en tog kan sy nie so ver kom nie. Tuis gaan dit nie veel beter nie. Herman is so verslae dat sy hom maar laat begaan. Hy gaan sit later voor die televisie sonder om na iets te kyk. Hy let skaars op wanneer die honde hom stertswaaiend kom groet. Hy sien nie eens die bal wat Kolle voor sy voete neergooi nie, 'n blye uitnodiging om te gaan speel soos hulle altyd doen. Sy skinkbord met kos bly ook net so onaangeraak staan. Later merk sy op dat hy in die stoel aan die slaap geraak het.

Linda los hom net daar en gaan na haar werkskamer. Sy skakel die rekenaar aan en begin om haar E-pos af te laai. Terwyl die E-pos inkom, laai die woede opnuut weer in haar op. Hulle behoort gestraf te word vir al die ellende wat hulle haar en Herman aangedoen het. Die duiwel behoort hulle te straf dat hulle draf. Sy gaan haar boodskappe vlugtig deur en skuif die wat geantwoord moet word na 'n aparte legger.

Haar gedagtes neem weer met haar die loop. Sy begin ingedagte tik. Dit help haar altyd om haar gedagtes te orden. Sonder dat sy mooi besef wat sy doen, begin sy 'n boodskap aan die duiwel tik. Sy beskryf haar woede en haar behoefte aan vergelding en wat sy met die spul sou aanvang as sy maar net kon. Hulle straf sou gepas wees. Dit sou 'n les vir die wereld wees. Ten laaste kliek sy op die adres-venstertjie.

Sy vul die adres in:< satan@diehel.uniweb> Plegtig kliek sy met die muis op die venstertjie wat die pasgetikte boodskap by die uitgaande pos voeg. Later stuur sy al die uitgaande boodskappe, die stukkie 'terapie' aan die duiwel reeds skoon vergete. Sy gaan maak vir Herman wakker voor die televisie. Hulle gaan klim bedremmeld in die bed. Herman raak soos gewoonlik dadelik aan die slaap. Daar is nie 'n ding in die wereld wat hom van sy slaap kan beroof nie. Sy, daarenteen, lê byna die hele nag en rondrol. Die duiwel maak behoorlik nes in haar kop. Haar gedagtes raak later verstrengel met halfbenewelde drome. Sy sien die duiwel in 'n newel langs haar bed staan. Dit klink asof hy oor die telefoon van ver met haar praat. Sy kan nie mooi hoor of verstaan wat hy vir haar sê nie.

Linda word met 'n ruk wakker. Haar hele lyf is nat van die angsweet. Sy kan nie veel van haar droom onthou nie, behalwe dat dit haar hewig ontstel het. Sy staan op en gaan sit op die balkonnetjie met 'n koppie tee. Sy sit en staar na die blink liggies van die skepe wat in die hawe voor anker lê. Van verdere slaap is daar nou geen sprake nie. Haar rus is daarmee heen. Dan maar eerder hier buite sit waar dit rustig is. Dit stem haar altyd weer rustig en kalm. Maar vannag het die nagstilte geen kalmerende uitwerking op haar nie.

Die volgende oggend vertel Herman haar alles wat gebeur het. Hy lyk so verlore dat sy na hom gaan en haar arms om hom slaan. Hulle staan lank so. "Toemaar, ek sal met hulle afreken. Die duiwel sal hulle straf dat hulle draf." belowe sy hom en gaan na die kombuis om die skottelgoed te gaan was. Die droom van die nag hinder haar egter so dat sy die opwassery net so los en na haar werkskamer gaan.

Sy skakel die rekenaar aan en begin haar E-pos aflaai. Sy verbeel haar dat sy iets van haar droom onthou, maar weet nie wat nie. Dis meer 'n gevoel as iets anders. Iets is beslis nie pluis nie. Was daar wel iemand by hulle in die kamer, of was dit maar net 'n gevoel. Waarom moet sy juis noù haar E-pos kom afhaal. Sy doen dit nooit in die dag nie. Daar is ook niks dringend waarvoor sy wag nie. Waarom dan die gevoel van angs wat haar wil versmoor. Waarvoor soek sy nou juis.

Sy sit gespanne na die inkomende pos en kyk en kan skaars wag dat die filter die finale sortering afhandel. Sy hou onbewus haar asem op. Wat is met haar aan die gang? Wat verwag sy om te kry? Wat dwing haar om juis nou haar E-pos te kom lees. Daar is een nuwe boodskap in haar persoonlike legger. Haar hand bewe onbedaarlik toe sy huiwerig met die muis op die legger kliek. Linda voel hoe die lewe uit haar vloei. Sy staar verdwaas na die skerm. Sy voel hoe 'n onsigbare hand haar keel stadig toedruk en die laaste bietjie lug uit haar longe forseer. Sy gryp vervaard na haar keel. Sy kan nie asem kry nie. Koue sweet pers op haar gesig uit. Droom sy? Sy vee vervaard oor haar oë. Is sy nou werklik besig om van haar verstand af te raak? Sy steek onseker haar hand na die skerm uit en raak aan die woorde wat swart op wit op die skerm staan. Sy begin lees:

Van:Satan
Aan:Linda
Onderwerp: Re Vergelding.

Die boodskap is kort en kragtig:
>Boodskap ontvang.
>Versoek goedgekeur.
>Bevestiging in oggendkoerant.
>Vergoeding ter gelener tyd opgeëis.

Sy sit versteen voor die rekenaar, nie in staat om te roer nie. Wie kon op haar boodskap gereageer het. Haar stukkie 'malligheid' kon tog nie werklik iewers heengegaan het nie. Dit kon nog minder by die verkeerde mens beland het. Dit moes eintlik net onafgelewer na haar adres teruggekom het. Niemand weet tog dat sy die gruwelike boodskap gestuur het nie. Dit was tog net iets wat sy uit pure magteloosheid gedoen het. Skielik kry Linda weer lewe. Miskien verbeel sy haar dat sy dit op die skerm sien. Spanning kan mens op snaakse maniere aantas. Sy gryp die stoflappie uit die laai en vee die skerm van die monitor met heftige hale af. Sy probeer letterlik die boodskap van die skerm afvee. Dit help egter niks. Die boodskap is nog net so helder en duidelik op die skerm.

Linda spring vervaard op en vlieg behoorlik by die trappe af. Sy moet dringend buite kom om vars lug te kry. Haar brein voel behoorlik of dit kook. Sy onthou met ontsetting wat sy in die sogenaamde boodskap kwytgeraak het. Wat sou die woorde ' versoek goedgekeur' beteken? Sy het van die ellende en rampe wat die bybelse Job en sy huis getref het, geskryf. Sy het die maatskappy net soveel ellende toegewens as wat Job destyds getref het. Sy was tog net kwaad en gefrustreerd. Sy voel egter instinktief aan dat dit niks goed voorspel nie.

Sy stamp byna vir Herman onderstebo op pad uit. Hy het so pas die pos en die oggendkoerant uit die posbus gaan haal. Sy gryp die koerant uit sy hand en moet op die grond gaan sit toe sy die koerant met bewende hande oopvou en die hoofopskrif sien. Sy voel hoe sy naar word. Die wêreld draai om haar. Herman se silhoeët swem grotesk voor haar oë. Hy neem die koerant uit haar hande en begin nuuskierig lees. Dan hou hy verbysterd op. Hy gaan sit langs haar op die grond en begin hardop van vooraf lees:

SINISTêRE RAMPE WIS BEKENDE MAATSKAPPY EN SENIOR PERSONEEL BYNA HEELTEMAL UIT.

Onverklaarbare ongelukke en gebeure het binne enkele ure 'n bekende maatskappy se hoofkantoor en topbestuur byna totaal uitgewis.

In 'n verwoestende rukwind in een van die stad se spogwoonbuurtes is die huis van die voorsitter van die maatskappy totaal verwoes. Ooggetuies vertel dat die woning se mure, asof deur 'n reuse krag, van buite op die inwoners omgestoot is. Niemand in die huis het oorleef nie. Alles in en om die huis is onherkenbaar verwoes. Wat egter onverklaarbaar is, is dat byna geen skade in die res van die woonbuurt aangerig is nie.

In 'n fratsongeluk op 'n snelweg na die stad, het die finansiële bestuurder van dieselfde maatskappy op grusame wyse onder 'n vragmotor se wiele gesterf. Dit is egter nie duidelik wat hy op die snelweg voor die aankomende verkeer gedoen het nie. Sy motor het onbeskadig langs die snelweg gestaan. Die enjin van die motor het nog geluier toe die polisie daar aankom.

Die ligte vliegtuig waarmee twee ander senior werknemers na 'n naburige land onderweg was, het in digte mis neergestort. Die inwoners van die dorpie waar die vliegtuig neergestort het, het gesê dat mis in daardie gebied totaal onbekend is.

Daar het ook op onverklaarbare wyse 'n brand in die fabrief uitgebreek. Die hele kompleks met voorraad en toerusting is totaal verwoes in die brand. 'n Konvooi voertuie wat met produkte van die maatskappy na een van Suid Afrika se buurlande onderweg was, is in 'n transito kaping onderskep. Daar is tot dusver nog geen aanduiding wie vir die kaping verantwoordelik was en wat van die voertuie en vrag geword het nie. Waarnemers het die gedagte uitgespreek dat die reeks sinistêre rampe en gebeure baie sterk ooreenkomste toon met gedokumenteerde voorvalle van vermeende toordokter-praktyke. Die soort praktyke is nie onbekend in Afrika en selfs elders in die wêreld nie.

Herman lees nie verder nie. Daar is nog, maar hy kan nie meer klank oor sy droë lippe kry nie. Dit is dieselfde maatskappy waar hy tot die vorige dag nog gewerk het. Hy hoor hoe sy vrou iets mompel. Sy sit nog altyd op die grond. Hy buig nader om te hoor wat sy sê. Hy kan niks van haar deurmekaarpratery verstaan nie. Hy hoor net die woorde Job en iets wat hulle ook moes tref.

Herman help sy vrou op en sleepdra haar na die kamer. Hy lê haar op die bed neer. Hy gaan haal 'n glas water en laat haar daarvan drink. Hy kan nog steeds nie kop of stert uitmaak van wat sy praat nie. Dis egter duidelik dat die nuus in die koerant haar op 'n ongewone manier ontstel het. Hy kan egter nie verstaan waarom nie. Sy het mos niks met die gebeure te doen gehad nie. Mense word elke dag deur geweld en misdaad geteister. Hy kan ook nie verstaan hoe soveel ellende en teenspoed een maatskappy in so 'n kort tydjie kon tref nie. Dit is werklik ondenkbaar en baie vreemd.

Toe Herman later saggies gaan loer hoe dit met Linda gaan, lyf dit of sy slaap. Dit lyk egter asof sy in 'n geweldige stryd met iets of iemand is. Herman skud haar aan haar skouer. Dit neem haar 'n hele paar oomblikke voor sy besef waar sy is. Sy raak weer aan die snik en klou aan Herman vas. "Ek het dit nie so bedoel nie. Sê my dit is nie alles waar nie."

"Wat het jy nie bedoel nie. Jy het mos niks verkeerd gedoen nie. Ek verstaan glad nie waarom jy so ontsteld is nie." Herman streel sag en liefdevol oor Linda se hare en sus haar vertroostend teen sy bors. Dit het egter nie die gewenste uitwerking nie. Hy kan nie verstaan wat haar besiel om so te kere te gaan nie. Dit is eenvoudig nie in haar aard om so te reageer nie. Later kalmeer sy tog 'n bietjie. Hy laat haar alleen in die kamer om vir hulle te gaan tee maak. Dit behoort hulle albei te kalmeer.

Herman is egter skaars in die kombuis, toe Linda opspring en die trappe twee-twee ophardloop. Sy kliek met die muis op die antwoord-venstertjie van die gewraakte boodskap. Die adresse van sender en ontvanger ruil om en sy begin angstig tik:

>Wie is jy!!
>Hoe kon jy!!.
>So-iets kan mos nie regtig gebeur nie.
>Is dit jou manier van 'n sieklike grap?

Sy stuur die boodskap en los die rekenaar net so aan. Sy gaan weer na onder en drink woordeloos die tee wat Herman vir hulle gemaak het. Sy ignoreer sy vrae en is heeltemal onbewus van die besorgde uitdrukking in sy oë. Alles om haar voel onwerklik en sy het weer die gevoel dat haar kop in watte toegedraai is. Sy het ook 'n kloppende hoofpyn. Sy gryp die bottel hoofpyntablette en skud 'n paar op die palm van haar hand uit en sluk dit saam met haar tee af.

Na 'n rukkie gaan Linda weer op na haar rekenaar. Sy het nou 'n obsessie met die E-pos. Sy moét weet wat aangaan. Sy moét weet met wie of wat sy te doen het. Sy kan nie vir een oomblik glo dat haar boodskap wel by die duiwel uitgekom het nie. Sy het nog nooit in die duiwel geglo nie. Dit is net 'n bangmaakding vir mense wat hul met allerhande onheilighede besig hou. Dit is een manier vir predikante om hul gemeenste op die smal en goeie weg te hou. Sy voel of sy enige oomblik gaan wakker skrik en vind dat dit net 'n eienaardige droom was.

Daar is egter weer 'n boodskap: >Tweede versoek ook toegestaan.

Linda kan nie onthou dat sy nog 'n klomp twak kwytgeraak het nie. Sy het alreeds genoeg ellende veroorsaak met haar gevroetel op die rekenaar. Sy skakel die rekenaar af en gaan na onder. In die kombuis sien sy dat Herman nog net so sit soos toe sy enkele minute gelede daar uit is. Sy hande lê leweloos in sy skoot. Daar is geen teken van lewe by hom te bespeur nie Sy praat met hom , probeer hom ophelp van die stoel af. Hy bly egter net so sit. Dit lyk ook nie of hy van haar bewus is nie. Sy wil hom kamer toe help, maar hy is te swaar. Sy het nie veel kennis van siektes nie, maar dit lyk of Herman 'n aanval van beroerte of iets gekry het. Sy dink skielik aan die stil figure in die fliek "Awakenings." wat sy 'n ruk gelede gaan sien het. Die mense het vir haar nes slaapwandelaars gelyk, grillerig om die minste te sê. Haar man lyk nou vir haar nes een van hulle.

Dan tref dit haar soos 'n donderslag. Sy het in haar sogenaamde boodskap aan die duiwel ook melding gemaak dat haar man gerus ook sommer in 'n soutpilaar kan verander, net soos Lot se vrou. Net omdat hy altyd alles so passief en gelate aanvaar wat met hom gebeur. Dit het haar geweldig geïrriteer dat hy alles aanvaar asof dit van bo kom en maar net vir hom bestem is. Nou lyk hy werklik soos 'n soutpilaar, wat ook al met hom gebeur het. Sy het nie 'n dokter nodig om vir haar te kom verduidelik wat met Herman gebeur het nie. Hy is nou soos wat sy hom verwens het.

Maar dit is mos nie wat sy wou gehad het nie. Sy voel hoe die afgelope twee dae se paniek weer in haar opstoot. Kan al hierdie malligheid moontlik wees. Droom sy nie maar net nie. Het sy nie per ongeluk net die een of ander soort verdowingsmiddel ingekry wat haar hierdie verskriklike hallusinasies laat beleef nie. Dit is tog al byna die 21ste eeu. Sulke dinge gebeur net nie meer nie, het ook nooit gebeur wat haar betref nie.

Voordat Linda na die telefoon hardloop om die dokter te gaan bel, weet sy instinktief wat haar lot vir die res van haar lewe gaan wees. Sy sal haar man moet versorg en oppas tot die dag dat een van hulle genadiglik doodgaan. Sy weet nou ook met 'n dodelike sekerheid dat daar in die nabye toekoms nòg 'n boodskap op haar rekenaar vir haar sal wag. By die onderwerp sal staan: Re: Vergoeding. Sy ril as sy net daaraan dink dat daar iets van haar geëis gaan word. As haar sogenaamde versoeke met soveel grusaamheid en akkuraatheid bewaarheid is, wil sy glad nie by wees as die dag van vergoeding aanbreek nie.

--------------ooooooo--------------

MAGDA STOOT HAAR STOEL TEVREDE AGTERUIT. Sy staan op en rek haarself behaaglik uit. Die grillerige storie het haar die wêreld se goed gedoen . Sy skryf gewoonlik so 'n stukkie as dinge vir haar te veel word. Dit laat haar gewoonlik stukke beter voel. Dit maak haar kop gewoonlik weer skoon en helder. Op die manier verwerk sy haar probleme sonder om ander mense daarmee te belas. Sy is nou ook nie meer so kwaad en aggressief nie. Sy en Ronnie, haar man, kan nou saam hul lot aanvaar en voortgaan. Ronnie behoort weer gou 'n werk te kry. Sy is nou ontslae van al die gif in haar gestel. Sy glimlag effens. Dit is alles te danke aan die gruwelike stukkie boosheid wat sy geskryf het. Dit het nog altyd vir haar gewerk.

Die nuus van haar man se ontslag by sy werk was vir haar te veel. Sy moés net eenvoudig iewers heen ontvlug en vir haar is daar geen beter plek as voor haar rekenaar nie. Sy het nou wel werklik die E-pos aan die duiwel gestuur. Sy kon die skielike drang om die stukkie kranksinnigheid te pleeg net nie weerstaan nie. Dit kan in elk geval nêrens heen gaan nie. Dit laat haar uitbars van die lag. Dit tref haar, dat te midde van haar swaarmoedigheid van 'n rukkie gelede, sy alreeds weer kan lag. Wat sal Ronnie van haar dink as hy moet weet dat sy E-pos aan die duiwel stuur. Hy sal gewis dink dat sy van haar trollie ontspoor het. Hy sê juis altyd die Internet is 'n duiwelse plek. Daar broei net allerhande onheile uit.

Op die ingewing van die oomblik aktiveer Magda die program om haar E-pos af te laai. Sy kan net sowel sommer nou haar E-pos nagaan, in plaas van vanaand eers. Sy voel nou weer baie beter. Sy kan sommer gou kyk of daar enige nuus van haar uitgewers is. Sy wag al die afgelope week op hul reaksie op haar nuwe boek. Die sortering van haar E-pos is klaar en sy begin asof in 'n droom die eerste boodskap lees:

Van: Satan
Aan:Magda
Onderwerp: Re: Vergelding.

>Boodskap ontvang.
>Versoek goedgekeur.
>Bevestiging in oggendkoerant.
>Vergoeding ter gelener tyd opgeëis......

Magda hoor hoe Ronnie en die honde buite met die bal speel. Sy hoor hoe hy die posman groet en 'n paar woorde met hom wissel. Sy hoor hoe hy na die voordeur aangestap kom. Daar is 'n paar sekondes stilte. Dan hoor sy hoe Ronnie ontsteld uitroep: "Magda!...... Iets vreesliks het gebeur! Kom kyk hier! ............My liewe here,... Magda!!".......en Magda weet dat Ronnie met die oggendkoerant in sy hand staan. Sy sien woord vir woord die voorblad se hoofopskrif. Sy weet dat Ronnie so pas die laaste keer ooit die posman gegroet het. Sy weet presies hoe haar lewe vorentoe daar gaan uitsien en sy weet dat daar eendag nòg 'n boodskap op haar rekenaar vir haar sal wag.

Dit is 'n klein en eensame figuurtjie wat die trappe afgaan na waar Ronnie met die oggendkoerant vir haar wag.